• Login
  • Search Icon

NIKS KLOP PERSOONLIKE KONTAK NIE

November 2012

image

Ek het gedurende Oktober die Agri SA Kongres bygewoon en aan die einde na al my aantekeninge gekyk en probeer om tendense tussen al die gekrap te identifiseer. Daar was leraars, presidente, politici, akademici en besig-
heidslui. Tussen al die toesprake het ons afvaardiging ook nog die een oog op die weervoorspellings gehou, want dis planttyd in die Noorde en oestyd in die Suide.

Tydens teetye en middagete het ons met mekaar gekonfereer oor die huidige stand van sake wat vir Graan SA belangrik is. Ek moet sê dat die boodskap van die sekretaris-generaal van die ANC goeie en slegte nuus bevat het. Wat ek as die uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA huis toe geneem het, was dat ons manier van skakel met die regering dramaties moet bly verander. Ons weet dat dit lankal nie meer genoeg is om net briewe te skryf nie en selfs e-posse is nie meer genoeg nie. Dit is die persoonlike kontak wat die deurslag gee. Dit maak die strategiese besluit om die Graan SA Hoofkantoor na Pretoria te skuif soveel meer betekenisvol.

Ja, daar is respek en waardering vir ons bydrae as ervare landboukundiges tot die toekomstige uitdagings vir landbou. Ons sal egter ook, gegewe ons verhoudings, moet leer hoeveel druk ons op die sisteem kan plaas om beter resultate te verkry en wanneer verhoudings skade kan opdoen as ons nie weet wanneer om op te hou druk nie.

Een area waar ons tans byna geen druk kan toepas nie, is die lugleegte in die Departement van Landbou. Die kantore staan leeg, selfs die ligte is af en, soos oom Salam altyd sê: “Die departement het in ‘n dramaskool verander – al die personeel is as acting in hulle posisies” (hulle neem net waar).

As ‘n mens te hard op ‘n lugleegte druk, mag dit dalk tot snaakse geluide lei. ‘n Oopdeurbeleid is net goed as daar iemand daar binne is wat gereed en bekwaam is om te help. Die vakuum veroorsaak egter dat ons as Suid-Afrikaners onsself nie meer internasionaal kan verdedig nie. Swak kwaliteit en dumping is aan die orde van die dag en onveilige voedsel word selfs ingevoer en internasionale markte weier ons produkte weens allerlei belaglikhede wat kwansuis ons kliënte in die buiteland se gesondheid kan benadeel.

Dit behels invoere en uitvoere. Wat invoere betref, kry ons al hoe meer gedumpde produkte en produkte soos hoender wat vol water gespuit is ensovoorts. Wat uitvoere betref sien ons ‘n al hoe groter wêreldwye neiging tot proteksionisme. Een van die nuutste gebeure was Rusland wat hul grense gesluit het vir die invoer van GMO-mielies. Die rede hiervoor was die verslag wat die maniese professor in Frankryk uitgebring het waarin hy die veiligheid van die produk bevraagteken, alhoewel sy kollegas wêreldwyd nie sy bevindinge aanvaar nie. As selfs die mees skeptiese regering, naamlik die Europese Unie, die bevindinge van die Fransman verwerp, kan Rusland se optrede nie anders as proteksionisties beskou word nie.

Dat landbou divers is, is verseker. Dat ons boodskap dieselfde is, staan ook vas: Volhoubare produksie verskaf voedselsekerheid en werksgeleenthede. Dit is nie net ons metode van produseer wat moet aanpas nie, maar ook ons metode van kommunikasie – wat egter vas bly staan, is dat persoonlike kontak steeds bobaas bly!

image

Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder

Publication: November 2012

Section: Editorial

Search