26 Jan 2005
Suid-Afrika se boere ervaar druk van alle kante. Daarby lyk dit asof die Regering die landbou nie werklik na waarde skat en die nodige steun verleen nie.
Goedkoop landbouprodukte word ingevoer ten koste van Suid-Afrika se produsente en 'n laksheid om die betrokke tariewe korrek toe te pas, is sigbaar. Die mielie-invoertarief moes volgens die vaste formule al twee maande gelede verhoog gewees het. Die feit dat daar nog nie 'n ordentlike voedseletiketwet aanvaar is nie, maak dit vir invoerders baie maklik om produkte aan te bied met die minimum identifikasie.
Een van die onderwerpe wat deesdae wyd bespreek word, is die moontlikheid van groter samewerking tussen boere (die kooperasiekonsep) as 'n moontlike strategie om winsgewendheid te beskerm, mededingendheid te verbeter en die oorlewingskans op die duur te verbeter.
Die gesprek gaan veral oor die feit dat daar vandag min sprake van samewerking op besigheidsvlak tussen boere is. Die huidige landboubesighede, wat uit die ko?perasies ontstaan het en meestal nou maatskappye is, se fokus is wins vir die onderneming en direkteure self en nie die belang van die boere nie. In die tydskrif Finansies & Tegniek van 15 Desember 2004 lees ek dat vier direkteure van Afgri in die eerste week van Desember betrokke was by transaksies in Afgri-aandele van sowat R56,1 miljoen. (Die Effektebeurs-re?ls bepaal dat hierdie soort inligting bekend gemaak moet word.)
Hierdie soort probleme is nie uniek aan Suid-Afrika se landbou nie. Dit kom ook in ander sektore van die ekonomie voor asook in Amerika.
Die bekende strateeg Clem Sunter het al jare gelede op landbouseminare verduidelik dat belangrike veranderinge in kommoditeitsmarkte aan die gang is. Sy standpunt was dat as jy kommoditeite produseer, jy die goedkoopste moet wees en/of die grootste om die mark te kan oorheers. Indien jy nie aan een van di? twee vereistes kan voldoen nie, moet jy of uitklim of jy moet jou produk van die goedkoop internasionale kommoditeite (wat gewoonlik ingevoer word) differensieer.
Hierdie benadering het tot gevolg gehad dat Suid-Afrika se goudmynbedryf heeltemal verander het en di? maatskappye deesdae internasionale spelers is. Onder hulle is die drie grootstes in die w?reld.
In die geval van Suid-Afrika se landbou is dit een van die groot redes waarom produkpryse daal. Die verwerkers misbruik Suid-Afrika se liberale handelsbeleid en voer aansienlike hoeveelhede kommoditeite in. Die sterk rand maak dit besonder winsgewend. Die resultaat is dat die boere al minder vir hul produkte kry. Dit gebeur in 'n wye spektrum bedrywe, selfs in die suikerbedryf.
Die toenemende markkonsentrasie in die landbou-/voedselketting, gedryf deur kommoditeitshandel, het tot gevolg dat die druk om mee te ding afwaarts in die ketting aangegee word en dat selfs boere nou al daarmee sit. Dit is iets wat tot 'n paar jaar gelede ondenkbaar was. Dit bevoordeel groot maatskappye, want dit gaan oor groot volumes. Dit is een van die redes waarom die produsente-aandeel in voedselprodukpryse daal en redelik laag is, soos in tabel 1 aangetoon.
Tabel 1: Produsente-aandeel in verbruikersrand
Soort produk - Aandeel (%)
Graan - 23
Vleis - 58
Vette en olies - 40
Suiwel/eiers - 55
Groente - 36
Vrugte - 36
Suiker - 31
Bron: Departement van Landbou, Junie 2004
Die alternatief is om vir nismarkte te produseer, met spesifieke gehalte-eienskappe en met die oog op spesifieke aanwendings. Dit lewer meestal beter pryse as di? van gewone kommoditeite.
Die aanbod van gedifferensieerde produkte neem ook baie toe, wat die welslae van di? benadering verbeter. Die getal produkte op supermarkrakke in Amerika neem toe.
Suid-Afrika is op dieselfde pad. Hierdie ontwikkeling word deur al hoe meer boere geopper. Dit beteken dat produkte vir spesifieke markte en van spesifieke gehalte in groepsverband geproduseer word.
Hierdie neiging kom al hoe meer in die graanbedryf voor en in mindere mate in ander bedrywe.
Die gedagte dat groepe boere moet saamwerk om winsgewendheid te beskerm en te verbeter, is nie tot Suid-Afrika beperk nie. Veral in Amerika het dit die afgelope twee jaar sterk na vore getree. Daar werk groepe boere reeds op verskillende maniere saam. Onlangse navorsing in Amerika toon dat die belangrike drywers vir samewerking nie veel verskil van di? in Suid-Afrika se landbou nie. Dit word in tabel 2 uiteengesit.
Tabel 2: Drywers vir samewerking, alliansies
- Groter en minder plaaseenhede
- Stygende koste
- Industrialisasie van landbou
- Toenemende mededinging
- Dalende winste
- Dalende verkope
- Regeringsregulasies
- Kontantvloei
Plase word groter (maar minder) namate koste styg en die die druk toeneem om winsgewend te bly. Daarmee saam gaan die groter gebruik van die moderne tegnologie en duur werktuie.
Kleinskaalse boerdery op kommoditeitsvlak sal moeilik slaag.
Die ander drywers in die tabel is ook net so van toepassing op Suid-Afrika se landbou. Die gesprek gaan nie net oor die produksie van spesifieke produkte en die mark daarvoor nie, maar fokus ook op die benutting van duur toerusting. Min boere gebruik hul werktuie 24 uur per dag. Dit is dus moontlik om dit oor baie meer produksie-eenhede te versprei. Dit beteken ook dat die koste daarvan versprei word.
Boere behoort ook wyer te kyk as die prim?re produksie. In Amerika bied die produksie van biodiesel en etanol reeds nuwe geleenthede vir samewerking en lewensvatbare ondernemings.
Natuurlik is daar doemprofete wat s? dat boere nie kan saamwerk nie. Dit is egter 'n onomstootlike feit dat die omgewing s? verander het dat boere by die werklikhede sal moet aanpas of ondergaan.
Dit is nie nodig dat die wiel weer ontwerp moet word nie. Die konsep het nie verander nie. In Amerika het die jongste navorsing oor die kritieke faktore vir samewerking aan die lig gebring dat die samewerkers sterk toewyding tot sukses moet h? om die struikelblokke te oorkom. Dan volg vertroue tussen die samewerkers, kommunikasie en goeie samewerking in spanverband om die gemeenskaplike doelwitte van die samewerking te bereik.
Die navorsing toon ook dat daar sigbare voordele moet wees vir die lede en dat die deelnemers finansieel stabiel moet wees. 'n Goue draad is ook dat deelnemers 'n aansienlike bydrae moet lewer om bereidwilligheid te wys. 'n Kontrak met 'n strafklousule is noodsaaklik. Daar is ook bevind dat die ego's van individue 'n groot probleem kan wees. Dit is dus nie 'n probleem eie aan Suid-Afrika nie.
Die druk om weer saam te werk is besig om vinnig toe te neem. Di? gedagte kry ook al hoe meer momentum deurdat van die groot agribesighede van hul lede "verloor". Natuurlik is daar baie slaggate. Die ekonomiese skroef word egter aangedraai.
Samewerking tussen boere is reeds in Amerika aan die oplewe en boere in Suid-Afrika moet hierdie neiging nie ignoreer nie.
DR. JOHAN WILLEMSE - Landbouweekblad