October 2017
In die Augustus-uitgawe in Deel 1 en Deel 2 is die agtergrond, proefbehandelings en evaluering van bewerkingspraktyke ten opsigte van die navorsing wat op watertafel-sandgronde gronde in die Noordwes-Vrystaat gedoen is, uiteengesit. In hierdie uitgawe (Deel 3 en in dié artikel) word die agtergrond en proefbehandelings van wisselboustelsels en bewerkingsresultate van hierdie navorsing geëvalueer.
Grafiek 1 toon die seisoenale (Augustus tot April) reënval vir die drie proeflokaliteite. Terwyl die gemiddelde reënval van 487 mm vir die 2013/2014- tot 2014/2015-seisoene voldoende was vir gewasverbouing, het die droë 2015/2016-seisoen veroorsaak dat min of geen graangewasse in die Bothaville-Kroonstad-Wesselsbron-omgewing geplant is nie.
Die lae reënval van sowat 55 mm tydens die 2015-plantseisoen op Klein Constantia en Visagieskuil het meegebring dat geen proewe geplant kon word nie. Met ‘n reënbui van 61 mm op 20 tot 21 November 2015 op Springboklaagte, kon al die Sandgrondontwikkelingskomitee (SOK)-proewe geplant word.
Opvolgreën van 128 mm tydens Januarie tot Maart 2016 het die proewe gered en ‘n oesmislukking op die plaas voorkom. Hiermee word die feit dat die verspreiding van reënval op sandgronde met hul lae waterhouvermoë belangriker is as die totale hoeveelheid reënval weer eens bevestig.
Groei en opbrengs van die wisselbougewasse
In die 2014/2015-seisoen het die wisselbougewasse heelwat beter vegetatiewe groei onder tandem-skeurploegbewerking (rip-op-ry) getoon as met verminderde bewerking. ‘n Algemene verskynsel onder verminderde bewerking was die onegalige groei van soja-bone (Foto 1a en Foto 1b). Foto 2 en Foto 3 toon goeie stande sojabone onder rip-op-ry op Sanniesrus en Klein Constantia in die 2014/2015-seisoen. Foto 4 toon ‘n goeie voersorghumstand in Februarie 2016. Let op die hoeveelheid mieliereste wat van die vorige seisoen af oorgebly het. Foto 5a en Foto 5b toon onegalige groei van sojabone onder beide rip-opry en verminderde bewerking op Springboklaagte in die uiters droë 2015/2016-seisoen.
2013/2014-seisoen
Mielies
Grafiek 2a (Springboklaagte) toon dat:
Die 2013/2014-seisoen was die begin van die mielies/sojabone-wisselbouproef op Sanniesrus. Die land was reeds vir 15 jaar onbewerk en onder ‘n Smutsvinger/kweekmengsel. Die grasmengsel is gedurende die 2013-winter met ‘n vlak disbewerking doodgesny om bykans ‘n 100%-deklaag op die oppervlak te laat.
Drie behandelings is as basis vir volgende seisoen se volledige proefplan uitgevoer, naamlik mielies rip-op-ry, mielies verminderde bewerking en sojabone verminderde bewerking. Grafiek 2b toon dat die bewerkingspraktyke reeds in die eerste seisoen statisties-betekenisvolle opbrengsverskille meegebring het (9 847 kg/ha versus 7 510 kg graan/ha).
Die uitsonderlike hoë opbrengste kan heel waarskynlik toegeskryf word aan die gunstige grondtoestande wat die grasstand geskep het.
Sojabone
Uitstekende graanopbrengste is op Springboklaagte verkry (Grafiek 3) en kan heel waarskynlik toegeskryf word aan die reënval van 290 mm gedurende Januarie tot Maart 2014. Dit is bekend dat sojabone goed op laat reëns reageer. Hoewel nie betekenisvol nie, is effens hoër graanopbrengste onder rip-op-ry as onder verminderde bewerking (2 615 kg/ha versus 2 418 kg/ha) verkry.
Die wisselbouproef op Klein Constantia het eers in die 2014/2015-seisoen ‘n aanvang geneem. Op Sanniesrus het die sojabone goed in die 2013/2014-seisoen ontkiem, maar is erg geknou deur die droogte in Februarie – met ‘n gevolglike oesmislukking.
2014/2015-seisoen
Mielies
Alhoewel wisselbou in kombinasie met bewerking op Springboklaagte verskille in mielie-opbrengs meegebring het, was dit nie betekenisvol nie. Die wisselboustelsel van mielies/voersorghum onder rip-op-ry het die hoogste opbrengs (3 239 kg/ha) gelewer, terwyl mielies na sojabone onder rip-op-ry die swakste met 2 607 kg/ha (Grafiek 4a) presteer het.
Op Sanniesrus (Grafiek 4b) het wisselbou in kombinasie met bewerking groot verskille in mielie-opbrengste gelewer. Byvoorbeeld:
Op Klein Constantia was geen mielie-opbrengste beskikbaar nie, omdat die wisselbouproef in die 2014/2015-seisoen met ‘n sojaboonaanplanting ‘n aanvang geneem het.
Sojabone
Grafiek 5a toon dat op Springboklaagte-sojaboonopbrengs na mielies onder rip-op-ry betekenisvol hoër was as onder verminderde bewerking (1 480 kg versus 955 kg/ha). Op Klein Constantia is die herhalings nie apart gestroop nie en kon geen statistiese vergelykings getref word nie. Omdat dit die eerste seisoen van wisselbou was, kon slegs die bewerkingseffek op sojaboonopbrengs waargeneem word, naamlik dat rip-op-ry die hoogste opbrengs van 2 059 kg/ha gelewer het (Grafiek 5b). Op Sanniesrus (Grafiek 5c) het sojabone na mielies onder rip-op-ry teen 1 119 kg/ha byna 100% hoër opbrengs gelewer as onder verminderde bewerking.
2015/2016-seisoen
Mielies
In die droë 2015/2016-seisoen is op Springboklaagte min of geen statisties-betekenisvolle opbrengsverskille verkry as ‘n funksie van wisselbou of bewerking. Tendense in Grafiek 6 wys dat:
Grondontledings van April 2016 toon dat ‘n groter hoeveelheid anorganiese N (194 kg N/1 200 mm diepte/ha) onder ‘n sojaboonstand as onder mielies (Grafiek 7) gestoor is. Hoër op in die artikel word vermeld dat mielie-opbrengste hoër vir mielies/sojaboon-wisselbou as vir monokultuur-mielies was. Is hierdie opbrengsverhoging moontlik toe te skryf aan die voordelige effek van oorgedraagde N van sojabone in ‘n wisselboustelsel? Grafiek 7 toon ook ‘n groter hoeveelheid gestoorde anorganiese N in ‘n mielieland (was oorlêland) as in ‘n monokultuur-mielieland (54 kg versus 34 kg N/1 200 mm diepte/ha).
Sojabone
Die beduidende lae opbrengste (Grafiek 8) toon dat die sojaboonaanplanting ‘n mislukking was as gevolg van die uiters droë seisoen.
Voersorghum
Grafiek 9 toon dat ‘n betekenisvolle hoër biomassa-opbrengs verkry is na mielies onder rip-op-ry as onder verminderde bewerking (853 kg/ha versus 545 kg/ha). Hoewel die biomassabepalings laat (April 2016) gedoen is, kan die lae opbrengste hoofsaaklik aan die droë seisoen toegeskryf word.
Samevatting en gevolgtrekkings
Springboklaagte en Klein Constantia was vir meer as ‘n dekade voor die aanvang van die proewe onder mielies met rip-op-rybewerking. Die gevolglike nawerking hiervan kan nie uitgesluit word nie – veral op die verminderde bewerkingspersele.
Op Sanniesrus was die proefperseel vir 15 jaar onder ‘n grasrusoesstelsel. Die uitsonderlike hoë opbrengste kan heel waarskynlik toegeskryf word aan die gunstige grondtoestande wat deur die grasstand geskep is.
Gedurende die 2013/2014- en 2014/2015-seisoene het droë periodes gedurende die groei van die gewasse voorgekom en tydelike verwelking op veral verminderde bewerking-mielies gewys. Sojabone is veral deur droogteperiodes tydens saadset geraak – wat opbrengste verlaag het.
Met die lae reënval van 2015/2016 was dit ‘n goeie besluit om nie te plant nie. Hierdie studie het weer eens die feit dat die verspreiding van reënval op sandgronde met hul lae waterhouvermoë belangriker is as die totale hoeveelheid reënval, bevestig. Dit is veral waar in droë jare waar die bydrae vanaf ‘n watertafel tot die totale grondwatervoorraad afwesig is.
Gedurende beide die 2013/2014- en 2014/2015-seisoene is gevind dat:
In die uiters droë 2015/2016-seisoen het:
By al drie proefpersele is gevind dat sojabone onegalig opgekom het en dat die onegaligheid vir ten minste ‘n maand duur waar op rip-op-ry geplant is. Op ‘n meer ferm saadbed, soos met verminderde bewerking, is die opkoms en vroeë ontwikkeling meer egalig en vertoon die stand meer groeikragtig.
Om onegalige stande te voorkom, behoort primêre bewerkings soos rip-op-ry direk na die oes van vorige seisoen te geskied. Later gaan die rip-op-ry-sojabone dié van verminderde bewerking verby, maar ‘n plantestandverlies gedurende die eerste maand is meestal ‘n blywende nadelige gevolg.
Teen die agtergrond van die feit dat die verminderde bewerking en rip-op-ry-bewerkings vir ‘n aantal seisoene op dieselfde persele gedoen is, kan die gevolgtrekking gemaak word dat as gevolg van laer wateropname onder verminderde bewerking, grondwateroordrag van een seisoen na die volgende plaasgevind het – met gevolglike hoër opbrengs in die volgende seisoen.
‘n Verdere gevolgtrekking is dat verminderde bewerking as ‘n alternatief vir rip-op-ry in beduidende droë seisoene oorweeg kan word. Dit bly egter steeds ‘n risiko om in ‘n droë seisoen te plant.
Erkenning
Die produsentemedewerkers mnre Danie Minnaar (Kroonstad), Lourens van der Linde (Wesselsbron) en Thabo van Zyl (Losdoorns) word bedank vir die entoesiasme, toewyding en insetkostes waarmee hulle die proewe uitgevoer het.
Insetverskaffers, soos Omnia, Pannar en Syngenta word ook bedank vir hul volgehoue belangstelling en insetkostes met die proewe.
Publication: October 2017
Section: On farm level