• Login
  • Search Icon

NAMPO-visier ingestel op effektiwiteit met tegnologie

May 2018

JOHAN SMIT, besturende redakteur, SA Graan/Grain

Die NAMPO Oesdag 2018-enjin staan in die wegspringblokke en dreun in gereedheid op dié toonaangewende landbouskou wat op 15 tot 18 Mei buite Bothaville aangebied word.

Met nagenoeg 740 uitstallers en ‘n verwagte bywoningsyfer wat verlede jaar se 78 648 besoekers kan oortref, word Graan SA se NAMPO Oesdag gereken as die hartklop van landbou in Suid-Afrika. 

“Suid-Afrikaanse landbouprodusente se ontvanklikheid vir nuwe tegnologie is een van die hoofredes waarom die land kan roem op volhoubare voedselproduksie. ‘Effektiwiteit met tegnologie’ is vanjaar se tema en dit vind groot byval by produsente,” sê mnr Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA.

NAMPO 2018 bied ‘n gediversifiseerde tentoonstelling met ‘n verskeidenheid van nuwe tegnologie, produkte en dienste op een terrein. Produsente kan vergelykings tref en ingeligte besluite neem met die oog op volhoubare produktiwiteit en winsgewendheid. “Graan SA se fokus op ‘n beter, eerder as ‘n groter NAMPO Oesdag, sal ook deurgaans nagestreef word om ‘n landboufamilie-gevoel te behou en uit te bou,” het De Villiers gesê. 

Graan SA-lede
Opbetaalde lede van Graan SA ontvang hul gratis kaartjies vooraf elektronies en word met trots by NAMPO Park se eksklusiewe ledeparkeerarea verwelkom en met gholfkarretjies na die ledelokaal vervoer. Die ledelokaal bied vroegoggend boeretroos en ‘n welkome rusplek gedurende die middaghitte, lafenis vir die droë kele en ‘n lekker stoep om waardevolle produksiekennis uit te ruil.

Nie-lede en besoekers drink egter nie aan die agterspeen nie. Die vergrote skouterrein het daartoe gelei dat daar aansienlik meer sitplekke aangebring is, waar moeë bene kan rus. Nie-winsgewende organisasies in die gemeenskap sal ook weer eens die restaurante en kosstalletjies hanteer. Sodoende word noodsaaklike befondsing in die gemeenskap teruggeploeg.

Meer inligting
Koop jou NAMPO-kaartjies vooraf aanlyn by www.ticketpros.co.za. Vir meer inligting, besoek www.nampo.co.za of laai die NAMPO Oesdag-toep van jou toepstoor af. ‘n eBlaaiboek van SA Graan/Grain-tydskrif se NAMPO-uitgawe (April 2018) verskyn op die webtuiste by www.grainsa.co.za. Skakel ook in op Graan SA Radio wat direk van die terrein af by 99.2 FM uitsaai.

Ander hoogtepunte

  • In die nuwe Wildlife Ranching SA-saal, naby die 4x4-baan, sal 14 wild- en wildverwante uitstallers gehuisves word.
  • Die Standard Bank 4x4-baan en die Maxxis Adventure Track vir motorfietse beloof ‘n onvergeetlike ervaring vir adrenalienliefhebbers.
  • Altesaam drie nuwe voertuie van vervaardigers word tydens NAMPO 2018 aan die publiek bekend gestel.
  • By die veevertonings sal tien skaaprasse, vyf bokrasse en 28 beesrasse te sien wees. Die Saalperdgenootskap doen ‘n tentoonstelling van saalperde, die Varktelersgenootskap is op hul pos en ‘n Jeugskou word daagliks aangebied.
  • Die Graan SA/Omnia Boerepatentekompetisie vier 30 jaar van innoverende planne en boere-planmakers.
  • Die rol en bydrae van landbou in die verdieping van ons demokrasie en die versterking van die ekonomie as temas tydens vanjaar se Nasie in Gesprek beloof weer eens om interessante debatvoering te stimuleer.
  • Ons Vroueprogram spog met aanbiedings deur die kunstenaars Marion Holm en Rocco de Villiers, terwyl die kosredakteurs Herman Lensing en Arina du Plessis hul slag met kosmaak kom wys.
  • NAMPO-handelsmerkklere- en -promosie-items word in die NAMPO-saal te koop aangebied. 

Publication: May 2018

Section: Grain SA

Search