• Login
  • Search Icon

‘n Kykie na onkruid- en swambeheer op kanola

February 2017

CHRIS CUMMING, PNS konsultant

Kanola, as ‘n wisselbou-opsie, bied vele voordele. Dit bied toegang tot onkruiddoders met ander metodes van werking wat grasse kan beheer.

Wens sy groeiwyse en sterk kompeterende eienskappe, verhoed die kanolaplant dat onkruide later kan ontkiem en ontwikkel. Verder het dit ‘n positiewe uitwerking op siektedruk van graansiektes. Die penwortel dring die grond diep binne, wat kanale skep waardeur vog en voedingstowwe kan indring en daaropvolgende gewasse bevoordeel.

Onkruidbeheer

Produsente behoort, waar moontlik, die grasonkruide in die wisselbougewasfase onder beheer te bring en in die graanfase die breëblaaronkruide uit te roei. Die rede vir hierdie stelling is veelvoudig.

Eerstens, selektiewe grasdoders wat in die graanfase benut kan word – met die uitsondering van trifluralien (wat in elk geval net ʼn mate van grasbeheer verskaf weens die metode van aanwending) – is relatief duur.

Tweedens, weens die ontwikkeling van weerstand teen groepe A (FOPs en DIMs) en B (sulfonielureums of SU’s) is die oorblywende opsies beperk. ‘n Verdere rede vir genoemde stelling is dat daar oor tyd geselekteer is vir veral raaigras wat later in die seisoen ontkiem.

Die onkruiddoders blyk voldoende beheer te verskaf vir die eerste paar weke na toediening, maar later in die seisoen (einde Julie/ Augustus) kom ons agter dat daar grasonkruide tussen die graanrye staan. Die onkruiddoder het “uit bene” gehardloop en vandat die gewasse in rye geplant word, is daar voldoende spasie vir laat ontkiemende onkruide om te ontwikkel en saad te stort. Ongelukkig is daar, in die geval van graangewasse, gewoonlik geen onkruiddoderopsie tot ons beskikking wat hierdie laat ontkiemers nog kan beheer nie.

Die grondslag vir die suksesvolle verbouing van kanola lê in die vestiging van die gewas. Die saadgrootte maak die diepte van plant meer kritiek as gewasse met groter sade. Die belangrikste by kanola is om ‘n egalige en eweredige stand te kry: Egalig ten opsigte van opkoms en ontwikkeling van die saailing en eweredig versprei oor die oppervlakte vir optimale benutting van vog en voedingstowwe, asook beter beskerming teen laat ontkiemende onkruide.

Kanola wat egalig ontwikkel, maak bestuursbesluite, insluitend tyds berekening van swambespuitings asook platsny/doodspuit en oestye, meer akkuraat.

Faktore wat ‘n invloed op ‘n egalige en eweredige stand uitoefen, sluit in vogstatus met plant, voorbereiding van ‘n ferm en gelyke saadbed, hoeveelheid plantreste op die oppervlakte, saadkwaliteit en grootte en plantdiepte.

‘n Ferm en egalige saadbed, sonder groot kluite, maak dit vanselfsprekend veel makliker om die saad konstant op die regte diepte te plaas. ‘n Groot hoeveelheid plantreste op die oppervlakte belemmer die plantproses en vertraag ontkieming van kanola.

Plante wat deur ‘n mat plantreste moet groei, is langer en yler en sal makliker vrek as gevolg van saailingverwelksiekte. Daar is verskeie opsies wat oorweeg kan word om bogemelde probleme te bowe te kom.

Een opsie is om die fyn kaf tydens oes in ‘n nou windry te gooi en in die herfs te brand. Dit sal terselfdertyd baie onkruidsade vernietig, terwyl net ‘n beperkte deel van die totale grondoppervlakte sodoende gebrand word.

Indien daar nie ‘n mat plantreste agtergelaat word nadat ‘n graangewas se strooi gebaal of deur diere benut is nie, is die benutting van trifluralien om ‘n land van swaar grasdruk te bevry, ‘n opsie wat sterk aanbeveel word.

Die trifluralien word voor plant breedwerpig oor die land uitgespuit en met ‘n tandimplement ingewerk. Hiermee kan ‘n gunstige saadbed geskep word en die onkruiddoder, wat deur beide UV-ligstrale en vervlugting benadeel word, binne die grond geplaas word waar dit optimale grasbeheer kan verskaf.

Dit is ook die ideale tyd om kalk toe te dien of ‘n ploegbank op te breek sou dit nodig wees. Ek kan hoor hoe die bewaringsbewustes my uitkryt as ‘n sondaar, maar ek is geneig om met dr John Kirkegaardt saam te stem, wat tydens die twee Kanolasimposiums wat die Proteïennavorsingstigting (PNS) aangebied het, gesê het dat in Australië “most no-till adopters continue some strategic tillage for a range of sound agronomic reasons”.

As dit verkies word bo die benutting van die geleentheid om die doeltreffendste eenjarige grasdoder tot ons beskikking tot sy volle potensiaal te benut – en om veral raaigras onder die knie te kry –  dan weet ek nie.

Ander onkruiddoderopsies wat grasbeheer by kanola bied, sluit in metazachlor (Butisan), triasiene (onder andere atrasien en simasien), imasamoks (Cysure) en propisamied (Kerb).

Metazachlor is ‘n uitstekende eenjarige grasdoder wat saailinge tydens ontkieming dood. Dit word algeheel oor die grondoppervlakte gespuit tydens of direk ná plant. Dit benodig reën (ongeveer 15 mm) om dit in die ontkiemingsone van die saad in te loog om sy werk te doen.

Die produk moet vroeg genoeg na ontkieming van die saad ingeloog word om deur die kolioptiel opgeneem te word, anders sal grasse wat bo die oppervlakte verskyn, nie langer beheer word nie. Weens die onbetroubaarheid van reën rondom planttyd, word baie min metazachlor egter gespuit.

Die triasiene kan met plant of vroeg na-opkoms van die onkruid gespuit word. Simasien word verkies vir die vooropkomsbespuiting, terwyl atrasien, wat ook deur die blare opgeneem word, vir die na-opkomstoediening verkies word.

Let wel: Triasien kan net op triasien-tolerante (TT) kanolakultivars gebruik word. Die TT-kultivars se opbrengspotensiaal is egter 10% tot 20% laer as die konvensionele of Clearfield (CL)-kanolakultivars.

Triasiene beheer eenjarige gewasse asook breëblaaronkruide, insluitend ramenas, wat ‘n al groter-wordende probleem is.

Indien jy nie die risiko van skade op opvolggewasse na kanola wil loop nie, moet nie meer as 1 kg aktiewe bestanddeel triasien per seisoen toegedien word nie. Met die koms van min- of geenbewerking van die grond (wat maak dat die bogrond nie vermeng word nie) het die risiko van produkoordrag verhoog. Na ‘n droë seisoen waar loging beperk is en mikro-organisme-aktiwiteit in die grond afgeneem het, vererger die situasie nog verder.

Imazamoks (Cysure) word toegedien wanneer die kanolaplante die vyfblaarstadium bereik het en die onkruide, soos op die etiket gespesifiseer word, nog klein is.

Onthou: Cysure mag net op die Clearfield-groep kanolakultivars gebruik word. Waar SU-weerstand nog nie voorkom nie, kan Cysure ‘n wye spektrum gras en breëblaaronkruide beheer.

Propyzamied (Kerb) word toegedien vroeg na-opkoms (twee- tot drieblaarstadium) van kanola en onkruide. Kerb werk die beste op ‘n relatiewe ferm saadbed en vog is nodig om die produk te aktiveer. Periodes van warm, droë weer sal lei tot swakker beheer. Kerb beheer beide FOPs en DIMs asook SU-weerstandbiedende grasse.

Indien onkruiddoders van die SU-groep die vorige jaar op ʼn graan gewas gespuit is om breëblaaronkruide te beheer, word aanbeveel dat ‘n Clearfield-kanolakultivar geplant word. Let op die onthoudingsperiodes van die verskillende SU-produkte en neem die faktore van oordragprobleme wat by die triasiene genoem is, in ag. Kanola is uiters gevoelig vir SU-oordrag – veral in die saailingstadium.

Siektebeheer

Sclerotinia

Aanvanklik is swartstam as die belangrikste siekte in kanolaverbouing in die Wes-Kaap beskou, maar die geweldige toename in intensiteit en verspreiding van sclerotinia maak dit gewis die grootste siektebedreiging vir kanolaprodusente.

Vog is baie belangrik vir die ontwikkeling van sclerotinia. Vir die primêre ontkieming van sclerotiums (die oorlewingstrukture wat in plantreste en in die grond oorleef) word tien dae van vogtige grondtoestande benodig.

Die ideale temperatuur vir apothecia om te ontwikkel, wissel tussen 11°C en 15°C. Spore word tussen tien dae tot 14 dae na apothecia gevorm het, vrygestel. Die spore ontkiem op ou blomblare wat op takke en stamme vassit, wat as voedsel vir hulle dien.

Besmette blomblare val op blare of teen die stam, waar wit, wollerige mycelium groei en die plantweefsel penetreer. Sclerotiums vorm in die stam van die plant en verhoed dat vog en voedingstowwe getranslokeer kan word. Die sclerotiums kan drie jaar tot vier jaar in die boonste 5 cm van die grond oorleef – en tot tien jaar indien dieper gewerk word. Apothecia vorm slegs op sclerotiums wat in die boonste paar sentimeter van die grond voorkom wanneer die klimaat gunstig is.

Vog, in die vorm van ligte reën, mis of dou in die periode net voor blom en tydens blom sal die risiko vir sclerotinia-infeksie beduidend verhoog. Omdat die askospore net op blomblare wat afgeval het kan ontkiem, is die blomblare op die plant die teken dat dit tyd is vir spuit. Spore wat later op hulle beland, word sodoende verhoed om te ontkiem.

In ‘n seisoen waar vog tydens die voor- en vroeëblomperiode voorkom, moet tussen 20% en 30% blomstadium gespuit word. Indien dit egter droog is tydens hierdie periode, maar later begin reën, kan effens later gespuit word (40% tot 50% blom). Die korrekte tydsberekening van spuit is deurslaggewend vir goeie sclerotiniabeheer.

Wat egter onrusbarend is, is die voorkoms van sclerotinia in die Swartland in ‘n relatiewe droë seisoen. Dit bevestig waarom produsente ekstra op hul hoede moet wees vir die siekte. Produsente wat enige tekens van sclerotinia in hul omgewing waargeneem het, kan besmettings in gevoelige gewasse (lupiene, kanola en erte) verwag indien toestande gunstig word vir die siekte.

Swartstam

Daar is verskeie faktore wat daartoe gelei het dat swart stambesmettings oor die afgelope paar seisoene oor die algemeen relatief laag gebly het.

  • Relatiewe droë toestande kort ná plant wat ongunstig was vir die vroeë ontwikkeling van die siekte (uitsonderings het in dele van die Suid-Kaap voorgekom).
  • Beter aanvaarding van wisselboustelsels wat daartoe gelei het dat kanola elke drie of vier jaar op dieselfde land verbou word.
  • Minder teruggehoue saad word geplant, wat die saadoordrag van die siekte verminder het.
  • Benutting van weerstandbiedende kultivars en wisseling van kultivars met verskillende weerstandsgene.

Produsente kan egter nie die gevaar wat swartstam inhou, onderskat nie. Sou die aksies hierbo genoem, nie geïmplementeer word nie en toestande vroeg in die seisoen meer gunstig vir die ontwikkeling en verspreiding van die siekte wees, kan die situasie drasties verander. Die aangewese groeistadium vir ‘n bespuiting teen swartstam is rondom die vyfblaarstadium van kanola.

Witblaarvlek

Alhoewel witblaarvlek as ‘n sporadiese siekte beskou kan word, kan dit tot erge oesverliese ly waar dit voorkom.

Dit het in 2013 in die Malmesbury-distrik voorgekom en die jaar daarna was simptome oor ‘n groot gebied, insluitend die Overberg, waargeneem. Omdat die siekte al vroeg in die seisoen kan voorkom indien klimaatstoestande gunstig raak, kan dit tot ernstige blaarverliese ly. Veral plante wat ‘n stikstoftekort ervaar, blyk meer vatbaar vir witblaarvlek te wees.

Die swam oorleef as miselium (swamdrade) op oesreste en produseer wind- en reëngedraagde spore tydens gunstige omstandighede in die herfs en winter – wat kanolaplante kan infekteer. Nadat infeksie plaasgevind het, vorm wit tot dowwe geel kolle op die ouer blare onderaan die stam.

Hierdie letsels produseer voorts spore wat veroorsaak dat diesiekte vinnig kan versprei. Die optimale temperatuur vir die ontwikkeling van die siekte is 13°C tot 18°C, maar hoë humiditeit is nodig vir die ontwikkeling van die siekte. Witblaarvlek ontwikkel gewoonlik na ‘n periode van swaar reën.

Geen swamdoder is tans teen witblaarvlek op kanola in Suid- Afrika geregistreer nie, maar daar is waargeneem dat middels wat rondom die vyfblaarstadium vir swartstambeheer toegedien is, wel ‘n onderdrukkende effek op witblaarvlekbesmettings uitoefen.

Kontak Chris Cumming by Cummingza1946@gmail.com vir meer inligting hieroor.

Publication: February 2017

Section: Focus on

Search