July 2017
Die afgelope twee seisoene se droogte het ons opnuut bewus gemaak van hoe belangrik dit is om reënwater optimaal te benut. In die geval van koringproduksie is dit veral praktyke om water op te gaar in die oorlêperiode en die verspreiding van reënbuie oor die groeiseisoen heen wat krities is vir die realisering van hoë graanopbrengste.
Omdat omgewingsfaktore heel dikwels nie ideaal is vir hoër opbrengste nie, moet die leemtes geïdentifiseer en deur gepaste produksiepraktyke reggestel word. Daar is internasionaal bepaal dat slegs sowat 60% van koringkultivars se genetiese opbrengspotensiaal benut word. Die groot vraag is: Hoe word hierdie opbrengsbeperkende faktore in die praktyk aangespreek?
Die belangrikste faktore wat opbrengs beïnvloed, sluit in kultivarkeuse, grondeienskappe, klimaatsfaktore, produksie-insette en risiko’s in die algemeen. Min hiervan kan egter bestuur word, maar die effek daarvan kan verminder word deur:
Om die moderne tegnologie wat beskikbaar is tot jou voordeel in te span, is kennis van die basiese beginsels van graanproduksie krities.
Hoër opbrengste berus grootliks op die effektiwiteit van die interaksie tussen die wortels, water, voeding, grondlewe en fisiese grondeienskappe. Hierdie faktore kan almal tot ‘n mindere of meerdere mate bestuur word. Die langtermyndoelwit moet wees om grondeienskappe sodanig te verbeter dat wortelverspreiding, waterindringing, waterstoorkapasiteit en waterbenutting optimaal kan plaasvind.
Die organiese materiaalinhoud van die grond speel ‘n kritiese rol hierin, aangesien dit hierdie materiaal is wat waterindringing bevorder. Dit is veral belangrik in die boonste ±5 cm van die grondlaag. Water wat wegloop, is nutteloos vir graanproduksie.
Die effektiewe bestuur van organiese deklae is dus van kardinale belang in die bevordering van waterindringing en bewaring. Die verhoging van die grond se organiese materiaalinhoud is egter ‘n proses wat oor jare (en selfs ‘n leeftyd) plaasvind.
Kultivareienskappe
Kultivars moet nie net op grond van opbrengs gekies word nie. Eienskappe wat risiko’s verminder, soos uitloopweerstand, siekte weerstand, Russiese koringluisweerstand, aluminiumverdraagsaamheid en groeiperiode het almal ‘n groot invloed op vol houbare produksie.
In Suid-Afrika word hoofsaaklik twee soorte koring geplant, naamlik lente- en intermediêre koring. Lentekoring word hoofsaaklik geteel vir besproeiingsareas en die winterreënvalgebiede, terwyl intermediêre koring onder droëlandtoestande in die somerreënvalgebied geplant word.
Lentekoring het gewoonlik ‘n groeiperiode van ongeveer 90 tot 110 dae vanaf opkoms tot blom, terwyl intermediêre koring enigiets van 140 tot 180 dae kan neem. Dit is belangrik om die kultivarproewe in jou streek saam met die betrokke navorser te besoek om kultivars se aanpassing in jou omgewing waar te neem. Let veral op die kultivars se bestandheid teen siektes, die aantal sy-are en die aantal pitte per aar.
Wat word van die grond verwag?
Die belangrikste funksie van grond is om water en voedingstowwe te huisves en om ‘n gunstige omgewing vir wortelgroei te skep. Gronddiepte, tekstuur en struktuur van die grond, die teenwoordigheid van organiese materiaal, waterpenetrasievermoë, plantbeskikbare water en ‘n gebalanseerde voedingstatus is almal belangrike faktore wat bydra tot ‘n gunstige omgewing vir plantegroei.
“Plant-vriendelike” grond word gekenmerk deur water wat vinnig indring en nie wegloop nie (oppervlakdreinering), wat nie ‘n kors op die oppervlakte vorm nie (nie toeslaan nie) en wat nie vanaf die oppervlakte ontsnap of verdamp nie. In sulke grond is die hele profiel toeganklik vir wortels, dit bevat genoeg voedingstowwe (en in die regte balans) en is genoegsaam deurlug.
Onder besproeiing word meer as 90% van die water uit die boonste 40 cm-grondlaag onttrek. Dit is belangrik om die wortelverspreiding in hierdie laag te monitor, want dit gee ‘n aanduiding van die teenwoordigheid van verdigte lae en watter soort bewerking en/ of bemesting in die af-seisoen gevolg moet word. Goeie wortelverspreiding tussen die rye is veral belangrik.
Die waterhouvermoë van die grond word grootliks bepaal deur die organiese materiaalinhoud, asook die sand-, klei- en slikpersentasie wat eie is aan ‘n spesifieke grond, sowel as die grootte van porieë. Hiervan kan slegs die organiese materiaalinhoud en die opheffing van verdigte lae bestuur word.
Onthou, wortels groei nie in droë grond nie, dit groei nie in versuip te grond nie en ook nie in porieë met ‘n deursnee kleiner as die wortel s’n nie.
Beginsels van waterbeweging in die grond en waterbenutting deur wortels
Die rol van porieë
Organiese materiaalinhoud en effektiewe grondporieë is sinoniem met mekaar. Water, lug en wortels beweeg in die porieë. Groot porieë bevorder vinnige waterpenetrasie en beweging. Klein porieë bevorder kapillêre beweging (veral opwaarts) van water en indien dit nie in die grondoppervlakte “verbreek” word deur ‘n tipe grondkombers of oesreste nie, versnel dit oppervlakteverdamping.
Porieë in die grondoppervlakte word deur die aanslag van reëndruppels vernietig, wat weer afloop bevorder. Hierdie proses kan verminder word deur sommige afbreekprodukte van organiese materiaal wat gronddeeltjies aanmekaar bind en die resultaat is groter stabiele porieë, wat ‘n groter aanslag van reëndruppels kan trotseer.
Omdat ons gronde oor die algemeen so laag in organiese materiaalinhoud is, speel oesreste wat op die grondoppervlakte lê ʼn belangrike rol in die opbou van organiese materiaalinhoud.
Om humus te vorm is grondorganismes (soos byvoorbeeld bakterieë) nodig en om effektief te werk, word klam grond en optimale temperature verlang.
Hoe beweeg water in grond?
Faktore soos gravitasie en kapillêre kragte speel die hoofrol in die beweging van water deur die profiel. Afwaartse beweging word hoofsaaklik deur gravitasiekrag bewerkstellig. Grond is by veldwaterkapasiteit wanneer dit met water versadig is, maar geen vrywater bevat nie.
Alles meer as veldwaterkapasiteit beweeg in die grondprofiel af onder gravitasiekrag of loop op die oppervlakte weg. Die benattingsfront is daarom altyd by veldwaterkapasiteit na benatting. Water beweeg opwaarts en sywaarts met kapillêre kragte. Die kapillêre krag is groter in kleiner porieë.
Sodra die porieë in die grondoppervlakte vergroot soos met ʼn deklaag (los grondlaag, strooi-deklaag of ‘n laag kleinerige klippies) word die kapillêre beweging vertraag of gestaak en oppervlakverlies word verminder. ‘n Verdigte grondlaag word gekenmerk deur klein porieë.
Water beweeg stadig deur hierdie porieë, wat ‘n opdam-effek bo die verdigting veroorsaak en ‘n tydelike versuiptoestand skep wat baie nadelig vir wortelfunksies is. Dit is ‘n goeie idee om die effektiwiteit van reënbuie te meet deur vas te stel hoe diep elke bui die grond benat.
Plantvoeding
‘n Effektiewe bemestingsplan word beïnvloed deur die opbrengspotensiaal van die gewas, die plant se voedingsbehoeftes, fisiese grondeienskappe, verdeling van voedingstowwe oor die groeiperiode heen en spesifieke vereistes vir graankwaliteit.
Bemesting volgens grondontledings en opbrengspotensiaal is krities vir optimale wortelfunksies en opbrengs. Gedurende diegroeiseisoen moet inspeksiegate gemaak word om wortelverspreiding te bepaal om sodoende sub-optimale benutting van die grondprofiel vas te stel vir latere regstelling.
Onthou die boonste 30 cm- tot 40 cm-grondlaag is die vrugbaarste deel op die plaas en dit dra die meeste by tot opbrengs. Vertroetel derhalwe hierdie grondlaag. Indien voedingstowwe soos fosfor en kalk wat nie loog nie, nie deeglik met die bogrond gemeng word nie, kan dit op die lange duur veroorsaak dat hierdie grondlaag sub-optimaal deur wortels benut word.
Vir optimale graanopbrengs moet grond in staat wees om die nodige voedingstowwe aan die plante te voorsien. Dit is belangrik dat produsente die voedingstowwe wat deur die gewas uit die grond verwyder gaan word, weer terugsit.
Die hoeveelheid plantvoeding wat toegedien moet word, word bereken deur die onttrekking van die verskillende voedingselemente per ton graan. In Tabel 1 word ‘n aanduiding gegee van die onttrekking van voedingselemente per ton graan met 12,5% proteïen en 13% vog.
Die halms, wortels en blare van ‘n koringplant benodig tussen 40 kg en 60 kg N/ha vir ‘n opbrengs van 10 t/ha en hoër.
Grondmonsters vir ontleding moet verkieslik in die hoë sowel as lae potensiaalareas van ‘n land (soos uitgewys deur die stroper se opbrengsmonitor) getrek word en vir afsonderlike ontleding gestuur word. Sulke ooglopende areas moet ook afsonderlik bestuur word.
‘n Goeie praktyk is om die GPS-koördinate van hierdie posisies te neem sodat blaarmonsters by vlagblaarstadium op dieselfde plekke vir ontleding geneem kan word. Die koördinate help ook om die grondmonsters elke jaar op dieselfde plek te neem om ‘n idee te vorm van hoe die voedingstatus oor jare verander en hoe dit vergelyk met die opbrengs van hierdie areas.
Op hierdie wyse word ‘n idee gevorm van die interaksie van die plant/grond/voedingskompleks. Dit is ook ‘n goeie idee om moontlike probleme van die grond in lae produserende areas vas te stel vir moontlike regstelling, asook om dit te vergelyk met die hoë produserende areas. Hierdie is die basiese beginsels van presisieboerdery en is die enigste manier om insette en uiteindelike produksie behoorlik te bestuur.
Die vermoë van die plant om fosfor (P) op te neem, word grootliks bepaal deur die verspreiding van wortels relatief tot waar die P in die grond is. Die wortels moet dus na die P toe groei. Daarom sal enige faktor wat wortelgroei beperk, soos verdigte lae, water-tekorte, lae pH, onkruiddoder- en insekskade, ook P-opname beperk.
Grondsuurheid speel ‘n belangrike rol in die plantbeskikbaarheid van P wat die oplosbaarste in die pH-reeks van 6 tot 7 is. Alles in ag genome moet P goed met die grondlaag (0 cm - 40 cm) vermeng wees om goeie opname deur die groeiseisoen heen te verseker.
In die geval van minimum- en geenbewerking moet hierdie eienskappe van P in ag geneem word en die nodige regstellings gedoen word voordat daar na hierdie praktyke oorgeskakel word. Dit geld vir alle elemente wat nie loog nie.
Die hoeveelheid en verdeling van voedingstowwe, veral stikstof (N), oor die groeiseisoen heen word ook deur die klei-inhoud en voedingstatus van die grond bepaal. Hoe meer sanderig die grond is, hoe minder word N vasgehou (hoe makliker loog dit) en hoe belangriker word dit om N oor die groeiseisoen heen te verdeel.
Normaalweg word die N-bemesting oor die groeiseisoen heen versprei, met die laaste toediening rondom vlagblaarstadium, maar N kan ook met blom toegedien word in gevalle waar die opbrengspotensiaal hoër is as wat aanvanklik beraam is. Soms kan dit voordelig wees om mikro-elemente ook gedurende hierdie laat groeistadium as ‘n blaarvoeding toe te dien.
N-bemesting wat met plant toegedien word, bevorder veral halmproduksie terwyl N-toediening na die aanvang van stamverlenging belangrik is om die lengte en breedte van die aar te bevorder. Die lengte en breedte van die aar word sowat sewe weke na opkoms oor ‘n periode van ongeveer twee weke bepaal. Die lengte word eerste gevorm, gevolg deur die breedte.
Die lengte van die aar gee ‘n aanduiding van die aantal sy-are en die breedte dui op die aantal potensiële blommetjies per sy-aar wat moontlik bevrug kan word om pitte te produseer.
N-toediening tydens vlagblaarstadium of aarverskyning het ʼn positiewe uitwerking op die aantal vrugbare blommetjies wat bevrug kan word en dit is ook belangrik vir ‘n hoë proteïeninhoud in die saad. Daar is ‘n persepsie dat opbrengs negatief korreleer met proteïen.
Dit is egter net ‘n halwe waarheid en is slegs geldig in gevalle waar stikstofbestuur sub-optimaal is. Die grootste hoeveelheid van die N wat vir die proteïeninhoud van die saad verantwoordelik is, word gedurende die eerste 15 tot 20 dae na bestuiwing neergelê en daarna word die stysel wat vir hoë opbrengste verantwoordelik is, neergelê.
In gevalle waar uiters gunstige klimaatstoestande gedurende die korrelvulperiode voorkom, verskuif die verhouding van proteïen/ stysel ten gunste van stysel.
N is die element wat die maklikste loog en word gevolg deur kalium. Kalium (K) speel ‘n belangrike rol in die waterverhoudings van die plant en dra daarom by tot droogteverdraagsaamheid. Genoegsame K gedurende die korrelvulstadium speel ‘n belangrike rol in die produksie van swaar korrels.
Blaarontledings by vlagblaarstadium gee ‘n goeie aanduiding van die plant se voedingsbehoefte. Die hoeveelheid energie wat deur fotosintese geproduseer word, bepaal die hoeveelheid proteïen en stysel (hoë hektolitermassa) in die saad. ‘n Lang groenblaarleeftyd saam met genoeg water en voeding, verseker ‘n effektiewe fotosintesefabriek wat noodsaaklik is vir hoër proteïen en hektolitermassa. Die beheer van luise en siektes wat die blare en are aanval, is derhalwe van groot belang.
Slotgedagtes
Boerdery is ‘n besigheid waarvan die hoofdoel is om wins te maak, terwyl hulpbronne behoue bly. Die wagwoord is daarom hoër opbrengste met laer insette, in simbiose met die natuur. Om hierdie doelwit te bereik, vereis deeglike beplanning en presiese uitvoering van planne.
‘n Produksieplan is nie ‘n resep nie, want dit moet aangepas word by heersende en veranderende omstandighede. Om dit te kan verwesenlik, is dit nie noodsaaklik om ‘n diepgaande wetenskaplike kennis van al die produksieprosesse te hê nie, maar om die basiese werking van die faktore wat opbrengs beïnvloed, goed te verstaan.
Verder is dit belangrik om hierdie prosesse en produksieplanne dag en nag te deurdink sodat dit effektief toegepas kan word. Hou in gedagte dat die plant se ontwikkeling deur verskeie ontwikkelingstadiums, wat elk sy eie behoeftes het, gaan en dat elke stadium krities is vir optimale opbrengs.
Moenie boeredae in jou omgewing misloop nie (al gaan dit oor somergewasse, weiding of diereproduksie), want die ontwikkeling van nuwe tegnologie is aan die orde van die dag en die toepassing daarvan is krities om produksieprosesse te verbeter.
Die sukses van die produsent word bepaal deur sy vermoë om die tekortkominge van die plant se groei-omgewing te identifiseer en reg te stel. ‘n Ketting met ‘n swak skakel is ‘n stukkende ketting.
Publication: July 2017
Section: On farm level