October 2013
– Oktober 2013
Beste Grootneef,
Hopelik is die laaste paar koue slierte nou oor die Vrystaat. Met al die fronte en die winde wat so intens gewaai het, het ons nou letterlik stof tot nadenke. Buurman sê die westewind het so gewaai, sy hoenderhen moes drie keer aan dieselfde eier lê!
Gelukkig het ons ontsnap van brande en vuur. Wel die rokies op die horison gesien. Weiding, al is dit droë rooigras, is nou goud werd. Die weerprofete sê egter dat ons nie te haastig moet wees vir vroeë reën nie. Hulle verwag die eerste buie eers teen November in die binneland. Maar wat weet hulle nou! Dit sal reën op die regte tyd.
Ou Neef, wanneer laas het jy ‘n egte regte brief in die pos gekry? Een met die adres netjies met pen en ink gegriffel en met ‘n posseël regs bo in die hoek van die koevert. Binne in, netjies gevoude velletjies papier met ‘n handgeskrewe briefie. Ek praat nou nie van die venstertjie-goed met rekeninge in nie. Buurman het mos in antwoord op so brief van die Ontvanger, ‘n tjekkie in die pos gegooi, gerig aan “die Ontvanger van al my inkomste”. Nodeloos om te sê, die tjek is teruggestuur en met al die tyd in die pos, kry hy toe boonop ‘n stywe boete omdat sy uiteindelike betaling laat was!
Vandag se kinders weet nie van briefskryf nie. Die mos nou e-pos, WhatsApp, Mxit, SMS, Facebook en Twitter. Gedurig met twee duime soos kewers oor ‘n selfoon se skakels. Hulle kan dit doen terwyl hulle jou stip in die oë kyk, maar eintlik met gedagtes by die ge-WhatsApp, oor wat almal vanaand sokkie toe aantrek.
Dalk het die wêreld waarin ons leef te vinning vir ‘n briefie in die pos geraak. Ek meen, in die Engelse Oorlog van 1900, het ‘n rapportryer van die een kommando na ‘n ander oor die vlaktes gejaag om te laat weet wat die aanvalsplanne was. Het die Engelse die rapportryer gevang, het die buurkommando nie geweet van die moeilikheid nie, tot die eerste skote geklap het. Net soos ‘n rapportryer met ‘n brief in die bladsak 20 jaar ná die oorlog nie meer gedeug het nie, so is ‘n briefie in die pos nou amper ondenkbaar. Vonkpos oor die internet het die norm geword.
Dit laat my sommer dink aan ‘n tyd toe briewe ‘n groot verskil gemaak het. Dit was in ons oorle jong dae in die army. So een keer ‘n week het die korporaal pos uitgedeel. Dan moes daar “betaal” word vir ‘n stukkie nuus van die huis met push ups. As ‘n briefie opgedaag het in ‘n gekleurde koevert met ‘n fyn skriffie voorop en wat effe na laventel geruik het, het die aantal push ups op ‘n progressiewe skaal vermeerder, want dan was dit ‘n briefie van die skoner geslag. Wanneer die koevert geseël was met die woorde “SWANK” agterop, het die korporaal jou behoorlik laat sweet – dié kode het gestaan vir “sealed with a nice kiss...”
Daardie dae was ‘n briefie, veral van die spesiale meisie in jou lewe, meer werd as ‘n rat pack, want dié brief het tasbaar bewys dat iemand aan jou dink. Dit was ook nie van lees en weggooi nie; nee, die brief is bo in jou uniform se hempsak gedruk om wanneer daar ‘n stil tydjie was, weer en weer te lees.
Soos in enige omgewing was daar destyds ook maar die ongepoetste boelie in die pakaas. Gegewe die “betaalstelsel” van push ups vir elke skrywe, het ons toe besluit om ‘n advertensie in die destydse Pronk tydskrif te plaas. Dit was so tipe van die arm man se Huisgenoot, met ‘n paar sinnelose artikels, foto’s van mooi meisies en die agterblaaie vol klein advertensies vir “penmaats vir die manne in uniform”.
Ons het die betrokke jongman se adres, nommer, rang en naam deurgegee aan Pronk, onder die naam van “Grensvegter Noord-Kaap”. Die stomme vegter het nooit verstaan hoekom hy skielik ‘n horde briewe uit onbekende oorde kry nie! En vir elk daarvan moes hy “betaal” by die korporaal...
So stap die tyd aan. Vir ons was ‘n brief destyds so elke twee weke genoeg. Ek wonder of ons kinders oor 30 jaar met heimwee sal terugdink aan die SMSe en Tweets wat hul gestuur het, terwyl hul dan op nuwe tegnologie sit en tokkel om met mekaar te praat.
Groete op die Oosgrens
Kleinneef
Publication: October 2013
Section: E-mails