May 2013
JOHAN VAN DEN BERG, SANTAM LANDBOU, BLOEMFONTEIN
Alhoewel die naam “multirisikoversekering” aandui dat meer as een risiko verseker word, is die grootste risiko wat hierdeur in Suid-Afrika gedek word, hoofsaaklik droogte. Dit is ook nie “alle risiko” nie, want daar is baie uitsluitings.
Multirisikoversekering kan beskou word as versekering wat alle onbeheerbare klimaatsfaktore asook onbeheerbare peste en plae dek. Daar is egter ‘n klomp voorwaardes om aan te voldoen voordat multirisikoversekering oorweeg sal word deur versekeraars.
Eerstens moet die gewas wat jy wil verseker, ‘n bewese geskiedenis van suksesvolle verbouing in die gebied hê. Versekeraars is onwillig om “skoolgeld” te betaal vir die eksperimentering met verskillende gewasse in verskillende gebiede.
Tweedens moet die versekerde ook ‘n bewese suksesvolle bestuurder wees wat die gewas en gebied/produksietoestande ken. Daar is dikwels die opvatting dat multirisikoversekering alle risiko’s dek, wat dan insluit swak boerderypraktyke, soos swak onkruidbeheer, onvoldoende bemesting, verkeerde tipes gewasse en verkeerde kultivars, gewasse wat buite die aanvaarbare plantdatum geplant is asook swak grondbewerking.
Om te verseker dat die produsent of versekerde wel alles in sy vermoë doen om volgens die regte norme te produseer, is die bestuur van die multirisikoversekeringsproduk arbeidsintensief en duur, want die versekeraar moet gereelde inspeksies doen om te verseker dat daar nie afgewyk word van die aanvaarbare produksiepraktyke nie.
Wie kwalifiseer vir multirisikoversekering en wie maak gebruik daarvan?
Multirisikoversekering word hoofsaaklik gebruik om die risiko’s by droëlandgraanproduksie te dek. Produsente in bewese graanproduserende gebiede met ‘n bewese rekord van produksie kwalifiseer om sy totale boerdery-eenheid vir ‘n spesifieke gewas aan te bied.
Daar word egter ook uitsonderings gemaak vir nuwe toetreders sonder ‘n produksiegeskiedenis, maar hier word die produsent gepenaliseer in terme van die waarborgopbrengs wat verseker word totdat betroubare rekords oor tyd opgebou word.
Alhoewel multirisikoversekering deur baie produsente gebruik word as kollateraal vir die doel van produksiefinansiering, is daar ‘n toenemende aantal produsente wat nie van finansiering gebruik maak nie, maar multirisikoversekering gebruik om hulle eie risiko te verskans.
Met die baie hoë insetkoste is dit ‘n goeie manier van risikobestuur om nie eie bates, soos grond of spaargeld op die spel te plaas indien mis oeste sou voorkom nie. Een of twee swak oeste kan maklik veroorsaak dat volhoubare boerdery nie meer moontlik is nie en ‘n produsent kan vanaf welaf tot ‘n bankrotskapsituasie binne een of twee seisoene verswak. In die meeste graanproduserende lande van die wêreld word versekering as deel van insetkoste beskou en word daarvolgens begroot.
Hoe werk multirisikoversekering?
Multirisikoversekering waarborg ‘n spesifieke tonnemaat of ton/hektaar, gegrond op die produksiegeskiedenis. Vir ‘n aansoek word ten minste die afgelope vyf jaar se totale oesopbrengsresultate benodig en gebruik om ‘n langtermyngemiddelde opbrengs te bereken. Indien hierdie opbrengsstatistiek aanvaarbaar is om te dien as langtermyngemiddelde opbrengs of as opbrengsmikpunt, word ‘n waarborgpersentasie bereken wat gebaseer is op die variasie van opbrengste oor tyd.
Hoe meer stabiel die opbrengsste oor tyd is, hoe hoër is die waarborgpersentasies wat toegeken kan word; tot ‘n maksimum van 65% van die langtermyngemiddelde opbrengs (onder besproeiingstoestande kan waarborgpersentasies van tot 70% van die langtermyngemiddelde opbrengs toegeken word).
As die langtermyngemiddelde opbrengs oor ten minste die afgelope vyf jaar byvoorbeeld 4 ton/ha is en die variasie is redelik klein, kan ‘n maksimum van 65% van die 4 ton/ha (2,6 ton/ha) as waarborg aangebied word. Indien die totale oesopbrengs van die boerdery-eenheid onder 2,6 ton/ha daal, word die verskil tussen die werklike opbrengs en die waarborgopbrengs bereken as ‘n eis ten gunste van die produsent.
Die pryswaarde van die graan word aan die begin van die seisoen, maar nie later nie as 15 Desember, vasgemaak binne ‘n aanvaarbare prysband soos vasgestel deur die versekeraar (gewoonlik R200 - R300 rondom die Safex-prys) en dit kan nie later gewysig word nie.
Aansoeke vir multirisikoversekering moet vroegtydig geskied sodat die laaste keurings nie later nie as 35 dae voor die laaste aanvaarbare plantdatum, afgehandel is. Hierdie baie vroeë sluiting van aansoeke is om te verhoed dat seleksie plaasvind wat die versekeraar benadeel, byvoorbeeld as dit droog bly of baie reën kan produsente byvoorbeeld op ‘n laat stadium besluit om te verseker of nie te verseker nie, wat veroorsaak dat daar teen die versekeraar geselekteer word en dit die multirisikoversekeringsproduk nie volhoubaar maak nie.
Die aansoek dien as ‘n bindende kontrak vir die produsent teenoor die versekeraar, maar die versekeraar kan die aansoek van die hand wys.
‘n Ander belangrike aspek is die verpligte aanbied van die hele boerdery- eenheid vir multirisikoversekering deur die produsent. Dit is in teenstelling met haelversekering, waar individuele landerye aangebied word. Hierdie vereiste is weer eens daargestel om te verhoed dat ‘n produsent net “swak” landerye aanbied waar die risiko baie groter is as by sy “goeie landerye”.
Is haelskade gedek onder multirisikoversekering?
Die antwoord is hier “ja” en “nee”. Haelskade word apart verseker van multirisikoversekering, maar is verpligtend. Die rede hiervoor is dat multirisikoversekering die produsent slegs dek tot 65% van die langtermyngemiddelde opbrengs.
In ‘n goeie seisoen kan daar byvoorbeeld bogemiddelde opbrengste wees en waar die produsent hierdie gedeelte tussen die werklike potensiaal en die waarborgopbrengs ook wil dek teen haelskade. Dus is haelversekering nie beperk tot 65% van die langtermyngemiddelde opbrengs nie, maar volgens die potensiaal vir ‘n seisoen.
Wat kan beskou word as onbeheerbare peste en plae?
Indien ‘n chemiese middel in Suid-Afrika geregistreer is teen ‘n spesifieke pes of plaag, word die plaag beskou as beheerbaar. Onbeheerbare peste en plae kan dus gesien word as nuwe siektes waarvoor daar nog nie geregistreerde chemiese middels beskikbaar is nie.
‘n Uitsondering is die skade aangerig deur sprinkane aangesien dit beskou word as ‘n plaag wat binne ‘n baie kort tydperk van buite die produsent se omgewing kan toesak en skade veroorsaak.
Daar is egter ‘n baie fyn lyn om byvoorbeeld kommandowurms en springhaasrotte nie te sien as onbeheerbaar nie. In die geval van kommandowurms, word geredeneer dat daar gewoonlik genoeg tyd is om dit te beheer vandat dit die gebied betree totdat grootskaalse skade voorkom. In die geval van springhaasrotte is dit ‘n probleem wat oor seisoene opbou. Indien dit nie vroegtydig beheer word wanneer kolonies nog klein is nie, kan dit in die volgende seisoen “ontplof”.
Wanneer neem dekking ‘n aanvang en wanneer kan multirisikoversekering deur die versekeraar
onttrek word?
Dekking neem ‘n aanvang sodra die versekeraar tevrede gestel is, deur middel van ‘n opkomsverslag wat deur opgeleide taksateurs gedoen word, dat die plantestand voldoende is om die langtermyngemiddelde opbrengs te behaal. Verder moet ook gekyk word of daar voldoende grondvog is om die jong plante vir ten minste ses weke van vog te voorsien indien geen reën nie sou voorkom nie. Dit is ook belangrik dat goeie onkruidbeheer toegepas word.
Indien daar onkruidprobleme is wat wel nog beheer kan word, word die produsent ‘n week gegun om dit te beheer en ná inspeksie kan die landerye wel aanvaar word. Indien die onkruidbeheer nie goed toegepas word nie, sal die landerye nie aanvaar word nie.
Die laaste geleentheid waar die versekeraar nog verdere dekking kan weier, is tydens die sogenaamde vorderingsverslag wat in die laat vegetatiewe stadium gedoen word. Op hierdie stadium kan swak onkruid beheer veroorsaak dat dekking gestaak word of ander onaanvaarbare boerderypraktyke, soos chemiese skade sou voorkom.
Indien die versekeraar tevrede is met toestande tydens die vorderingsverslag, word die risiko aanvaar. Skade veroorsaak deur klimaat of onbeheerbare peste en plae wat ná die vorderingsverslag kan voorkom, word nou gedek. Risiko’s, soos kultivars wat byvoorbeeld swak presteer as gevolg van genetiese defekte soos swak bestuiwing en skade deur chemiese toedienings, word steeds nie deur die multirisikoversekering gedek nie, maar word beskou as die verantwoordelikheid van saaden/ of chemiese maatskappye.
Hoe word skade bepaal?
Die produsent moet skade aan die naaste verteenwoordiger en/of die agent waar die polis uitgereik is, rapporteer. Indien skade gerapporteer word, word ‘n finale opbrengsskatting ongeveer twee tot vier weke voor oestyd gedoen en bepaal of daar ‘n moontlikheid is dat die produsent nie sy waarborgopbrengs oor die hele boerdery-eenheid gaan behaal nie.
Indien daar enige aanduiding is dat daar wel ‘n potensiële opbrengstekort is, word ‘n opbrengs bepaal deur ongeveer 5% tot 10% van die totale oppervlakte in bane, wat verteenwoordigend is van die opbrengsverskille, te laat stroop tydens normale oestyd en dit akkuraat te weeg en die opbrengs oor die oppervlakte gestroop te bereken.
Leweringsbewyse by silo’s of stropermonitors is nie aanvaarbaar nie aangesien daar ‘n groot morele risiko is dat oeste verkeerdelik bereken word deur byvoorbeeld lewerings wat nie deur die silo gaan nie of in die geval van stropermonitors waar dit dalk nie korrek gekalibreer is nie.
Hoe volhoubaar is multirisikoversekering?
Ongelukkig is multirisikoversekering ‘n meer katastrofiese gebeurtenis, dit wil sê dat dit groot in omvang kan wees. So byvoorbeeld is ‘n droogte gewoonlik oor groot gedeeltes van distrikte, provinsies of selfs die hele land.
Dit kan vergelyk word met haelskade wat baie meer gereeld voorkom, maar die omvang is baie kleiner en ook geografies meer verspreid. Suid-Afrika is in die onbenydenswaardige situasie dat versekeraars en herversekeraars baie versigtig om multirisikoversekering aan te bied as gevolg van die gebrek aan staatsondersteuning.
In byna alle ander lande van die wêreld waar multirisikoversekering aangebied word, is daar staatsbetrokkenheid, hetsy in die vorm van subsidie of andersyds in deelname van die risiko.
In die Suid-Afrikaanse konteks is multirisikoversekering dus baie kwesbaar indien swak produksietoestande en groot eise sou voortduur, aangesien daar geen regeringsondersteuning is nie.
Dit is dus van uiterste belang vir die voortbestaan van die produk om goeie onderskrywing te doen sodat daar wel dekking is wanneer rampe wel voorkom wat die voortbestaan van graanproduksie bedreig.
Omvang van multirisikoversekering en waarde ten opsigte van die graanbedryf
Die gebruik van multirisikoversekering het in die afgelope dekade baie gestyg. Dit word beraam dat ongeveer 25% - 30% van alle somergraanprodusente wel gebruik maak van multirisikoversekering.
As daar in gedagte gehou word dat ‘n redelike gedeelte van deelnemende produsente afhanklik is van multirisikoversekering vir finansieringsdoeleindes, kan ‘n mens sien dat dit ‘n baie groot bydrae in die totale produksieomgewing in Suid-Afrika lewer.
Indien hierdie ongeveer 25% - 30% van produsente nie meer kan produseer nie as gevolg van ‘n gebrek aan finansiering, kan dit ‘n groot rippeleffek hê op baie landboubedrywe. Dit kan ook die afname in die aantal produsente baie versnel en ‘n omvangryke sosio-ekonomiese impak hê.
Wat is die toekoms van multirisikoversekering?
Met ‘n paar swak seisoene vir die versekeraars agter die rug asook die 2012/2013-seisoen wat op ‘n redelike ramp afstuur in veral die sentrale tot westelike somergraanproduksiegebiede, word daar baie vrae gevra oor multirisikoversekering.
Vele groot multirisiko- en ander landbouverwante versekeringseise in die VSA, Mexiko, die Oekraïne, Rusland, Thailand, Italië en Pole in die afgelope twee seisoene, het gesorg vir ernstige herbesinning deur veral groot herversekeraars.
Multirisikoversekering sal waarskynlik nie verdwyn nie, maar die kanse is goed dat daar groot veranderings kan kom gedurende die volgende seisoene by die aanbieding van hierdie produk om volhoubaarheid te verseker.
Publication: May 2013
Section: Input Overview