April 2010
Beste Grootneef
Kêrels, hierdie is ernstige sake. Dit vra van landbou en Graan SA se swaar gewigte om betrokke te raak. Want sonder grond is hier nie boere nie; en sonder boere is hier nie kos nie; en sonder kos is daar ‘n bokkerop in enige land.
By die onlangse Graan SA Kongres het die direkteur-generaal (DG) van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, mnr Thozi Gwanya, ewe vroom beleidsake van sy departement met die afgevaardigdes gedeel. Botter kon nie in sy mond smelt nie en al die regte geluide is gemaak wat telkens ‘n hartlike handeklap van afgevaardigdes ontlok het. Daar is gepraat oor voedselsekuriteit. En van landelike ontwikke ling. En herhaaldelik van vennootskappe met die kommersiële sektor om nuwe produsente touwys te maak.
Maar geen woord is gespraak van enige gedagte dat die staat beplan om grond in ‘n nasionale bate te omskep nie...
Dit was dus ‘n ontnugtering om skaars ‘n week na die Graan SA Kongres, in die Sondagwaarheid te lees van die nuwe plan van Grondsake om van produktiewe landbougrond ‘n nasionale bate te maak. Die implikasies hiervan is verreikend. Die “plan” is ook nie terloops of onbeduidend nie. Nee, dit was deel van ‘n driejaar-strategie tot 2013 wat aan die parlement se portefeuljekomitee voorgelê is en terloops, ook deur die komitee goedgekeur is.
Ou Neef, verskeie vrae ontstaan, waarvan die eerste: Waarom is daar nie vooraf met georganiseerde landbou oor so ‘n voorneme gekonsulteer nie? Wat het geword van die welluidende “strategiese vennootskappe” waaroor so baie by die Graan SA Kongres gepraat is? ‘n Vennoot maak mos nie so nie! Bak mooi broodjies voor kongresgangers en los ‘n week later ‘n bom!
Wat beteken dit as alle produktiewe landbougrond as nasionale bate verklaar sou word? Volgens grondwetkenners, is dit beslis ‘n vorm van nasionalisering. Op die dieselfde resep as wat die staat minerale- en waterregte hanteer het en vorige eienaars nou aan streng voorwaardes moet voldoen om weer van daardie regte gebruik te maak.
As die plan wet word, kan bestaande eienaars van grond se eiendomsreg verander in lewensregte of erfpagstelsels. Die staat sal ook voorwaardes kan stel oor wie op ‘n plaas mag boer al dan nie. Die DG het ook gemeld dat daar moontlik perke geplaas kan word op die hoeveelheid (grootte) grond wat besit mag word. Ek hoop die staat se wyse manne verstaan die verskil tussen ‘n wingerdplaas en ‘n Karooplaas. Grootte, is relatief...
Die DG het selfs melding gemaak dat daar oorweeg word om Artikel 25 van die Grondwet wat handel oor eiendomsreg te wysig om hierdie plan in die praktyk toe te pas.
Kêrels, as dit alles waar is, is die handskoene af. Die staat wys sy hand en die kaarte is gedeel. Die vraag is, wat kan georganiseerde landbou doen?
Die antwoord lê waarskynlik in ‘n lang en uitgerekte hofstryd as rede nie seëvier nie. ‘n Feit soos ‘n koei is dat die staat se benadering nie sito-sito aanvaar kan word nie. Genadiglik het Graan SA ‘n regshulpfonds wat van toeka tot nou bymekaar gemaak is. Elke pennie gaan nodig wees om hakke in te slaan, indien nodig, tot in die hoogste hof. Hierdie is egter nie net ‘n saak vir Graan SA nie, maar georganiseerde landbou sal dit as ‘n eenheidsfront moet hanteer.
Neef Jub se besprekingspunt by Kongres dat die beginsel van gewillige koper en verkoper van grond ten alle koste beskerm moet word, was profeties. Want nou is daar perde.
Dié goed maak my sommer heel morbied. Gelukkig is die Bulle en die Stormers nou nog bo-aan die Super 14. Hoop hulle kan dit volhou. Wat van ‘n eindstryd tussen die twee spanne op neutrale grond - Kimberley is ewe ver vir beide spanne!
Sterkte op die Oosgrens!
Kleinneef
Publication: April 2010
Section: E-mails