May 2014
Misoeste is nie ongewoon vir Suid-Afrikaanse graanprodusente nie en as dit voorkom beteken dit dat moeilike tye vir die mediumtermyn voorlê. Misoeste lei gewoonlik tot ‘n verhoging in druk en spanning vir ‘n boerdery.
Spanning en druk kan maklik tot verkeerde besluite aanleiding gee en daarom is dit belangrik dat produsente met ‘n gestruktureerde werkswyse na oplossings vir hul probleme soek. Indien hierdie werkswyse deurgevoer word, kan dit lei tot die implementering van die regte strategie om die boerdery se voortbestaan te verseker.
Een manier om hierdie onnodige spanning hok te slaan, is om die probleme vroegtydig te identifiseer en dan daarop te reageer. Dit is baie beter om die probleme te bestuur, as om deur die probleme bestuur te word. Ruim vir jouself tyd in om die boerdery ordentlik te ontleed of te laat ontleed. Kyk veral na solvabiliteit, likiditeit en rentabiliteit.
Solvabiliteit
Solvabiliteit gee ‘n aanduiding van hoe solvent die besigheid is. Indien die boerdery nog solvent is, sal daar altyd ‘n kans wees dat die boerdery kan voortgaan. Gewoonlik word daar ook na die boerdery se skuldlas verwys wanneer solvabiliteit ontleed word. Hierdie verhoudings word hoofsaaklik met inligting uit die balansstaat opgestel. Maak dus seker dat die balansstaat volledig opgestel is.
Likiditeit
Likiditeit is ‘n aanduiding van hoe maklik korttermynskuld met korttermynbates afgelos kan word. Gewoonlik is dit hier waar boerderye se probleme lê. Weens die koste van mediumtermynbates word dit gewoonlik op krediet aangekoop en ná ‘n swak jaar kan die paaiemente nie gediens word nie.
Rentabiliteit
‘n Verdere ontleding wat gemaak moet word, is om die toekomstige winsgewendheid of rentabiliteit van die besigheid te ondersoek. Hier gaan dit oor hoeveel wins daar in ‘n normale jaar gemaak kan word.
Om hierdie ontledings te kan doen sal van ‘n produsent verwag word om ‘n volledige balansstaat asook toekomstige inkomste- en uitgawestaat en toekomstige balansstaat op te stel. Met hierdie berekeninge is ‘n tydige kontantvloei ongetwyfeld ook ‘n vereiste. Hierdie state kan ‘n produsent of konsultant in staat stel om korrek te bepaal hoe groot sy probleem is en ook om die beste moontlike oplossings voor te stel.
Kontantvloei
Ongelukkig hou ‘n misoes nie net probleme in vir hierdie jaar nie, maar ook vir die komende jare. ‘n Volledig gedetailleerde beplanning en kontantvloei vir die toekoms moet ook opgestel word. Deur laasgenoemde te doen sal die produsent onmiddellik ‘n geheelbeeld kry van wanneer moet wat in die boerdery gebeur en wanneer moet wat betaal word. Die kontantvloei sal ook ‘n aanduiding gee van wanneer inkomste weer verwag kan word.
As daar betalingsprobleme gaan wees, moenie wag tot op nommer 99 nie, gaan sien die krediteure en begin met planne om die probleem aan te spreek en op te los.
Ontleed die probleem asook die oorsake van die situasie
Dit is ook baie belangrik dat produsente die oorsaak van hul probleme moet bepaal. Is die winsgewendheid van die besigheid nie al lankal onder druk nie (die eenheid is te klein om die gesin te onderhou) of is daar nie vertakkings wat gereeld verliese veroorsaak nie? Ontleed die winsgewendheid van die verskillende bedryfstakke insluitende vaste koste en vergelyk dit met ander rolspelers in die bedryf. Hierdie ontleding sal ook aandui wat vir hierdie boerdery moontlik is en hoeveel skuld betaal kan word.
In enige bedryf is daar altyd sekere norme. Reeds direk ná die oes is daar norme waaraan voldoen moet word. Een van die eerste aanduiders van probleme is die skuldlasverhoudings. Tabel 1 gee ‘n aanduiding van wat die maksimumskuldlas van verskillende tipes boerderye behoort te wees. Hierdie is egter net norme en dit moet altyd saam met rentabiliteit en likiditeit en terugbetaalvermoë gesien word.
Indien ‘n gedetailleerde begroting jaarliks opgestel is, moet daar probeer uitgevind word hoekom dit nie gerealiseer het nie. Was die begrotings ooroptimisties of was daar ‘n probleem in die produksie- of bemarkingsproses? Daar is baie redes waarom ‘n boerdery in ‘n finansiële krisis beland. Sommige hiervan word deur korttermynprobleme veroorsaak en is makliker om te voorkom of te bestuur.
Faktore soos ‘n eenmalige droogte, skielike afname in kommoditeitspryse of die uitbreking van ‘n siekte kan daartoe aanleiding gee dat verwagte inkomste drasties kan daal. So ‘n verlaagde inkomste kan daartoe aanleiding gee dat ‘n produsent skielik met oorlaatskuld sit, wat ‘n aansoek vir finansiering vir die volgende produksieseisoen nadelig kan beïnvloed.
Dit kan ook meewerk dat ander finansiële verpligtinge in die betrokke jaar ook nie nagekom kan word nie. Finansierders is gewoonlik bereid om produsente in sulke omstandighede binne perke by te staan mits daar aangetoon kan word wat gedoen gaan word om nie weer in die moeilikheid te kom nie.
Indien die rede vir die finansiële krisis meer lang termyn van aard is, byvoorbeeld ‘n langtermyndroogte, ‘n lang tydperk van swakker pryse of verkeerde finansiële besluite wat in die verlede geneem is, is ‘n ander benadering dalk nodig. Deur aansoek vir verdere oorlaatskuld te maak gaan heel moontlik nie die regte oplossing wees nie. Die produsent sal weer nuut na die boerdery moet kyk om seker te maak dat die boerdery op die regte pad is en soms sal dit beteken dat van die bates in kontant omgesit moet word.
Optimaliseer jou boerdery
Dit kan net gedoen word deur of koste te bespaar of deur inkomste te verhoog. Indien jy weet dat die boerdery ‘n finansiële beperking het, moet die rentabiliteit van elke vertakking bereken word. Daar moet op die vertakking wat die hoogste rentabiliteit verdien gefokus word. Verbou soveel as moontlik van hierdie vertakking totdat die fondse tot jou beskikking op is. Indien dit uitkom dat daar ‘n oppervlakte-beperking in jou boerdery is, moet die vertakking wat die hoogste bruto marge verdien, op die beperkte oppervlakte verbou word. Onthou net om ook die risiko van elke vertakking in aanmerking te neem.
Beplan strategies
Sodra ’n boerdery in ‘n finansiële krisis is, moet daar veral nou strategies en toekomsgerig gedink word. Waar moet die boerdery oor ‘n paar jaar wees (met die klem op die volgende twaalf maande wat oorleef moet word)? Probeer om hierdie beplanning nie alleen te doen nie. Betrek die hele gesin en lig die arbeid ook in. Om ‘n onafhanklike persoon of instansie, soos ‘n landboubesigheid, te betrek sal verdere waarde tot so ‘n beplanning voeg.
Sonder ‘n opgestelde plan met doelwitte, tydsraamwerke en implementering help strategiese beplanning niks nie. Maak ook jou krediteure deel van jou strategiese plan en hou hul op hoogte van jou vordering.
Stel vas hoe inkomste verhoog kan word
Ontleed die boerdery krities en stel vas of daar nie enige ander maniere binne die huidige boerderystelsel is om die inkomste te verhoog nie. Kyk of tegnologie verbeter of aangepas kan word om inkomste te verhoog of koste te verlaag. Dink veral aan presisieboerdery. Hierdeur word gesorg dat koste op die regte plekke aangewend word en die stap sal veroorsaak dat winste drasties verhoog word.
Soms is dit belangrik dat die hulpbronne baie goed ondersoek word. Probeer om die lande gekarteer te kry en skakel die laer potensiaal gedeeltes uit of om, en pas ander praktyke toe.
Deur produkte op die regte tyd te bemark of pryse te verskans, kan inkomste verhoog word. Dit is nie altyd so maklik nie, maar maak gebruik van kundige persone of instansies om te bepaal wanneer dit die beste tyd is om produkte te bemark of te verskans. Soms kan inkomste verseker word deur die risiko van boerdery te verskans. Insetversekering is ‘n goeie voorbeeld van hoe ‘n produsent kan sorg dat die kapitaal in sy boerdery verskans bly.
Verminder uitgawes en wend dit beter aan
Die uitgawes wat aangegaan moet word, moet so aangewend word dat dit tot waarde vir geld, effektiwiteit en doeltreffendheid aanleiding gee. Dink twee keer voor uitgawes aangegaan word. Goedkoop koop is gewoonlik duur koop. Maak dus seker dat die insette wat aangekoop is die werk met die eerste ronde kan afhandel. Dink maar aan onkruiddoder – hoeveel kos dit nie om weer te spuit nie?
Uitgawes is nodig om inkomste te genereer. Waak dus daarteen om nie uitgawes te verminder en terselfdertyd inkomste in te boet nie. As daar krediet verkry word, wend die krediet soos ooreengekom is aan. Moenie die krediet probeer rek om meer daarmee te doen as waarvoor dit bedoel was nie.
Vaste en oorhoofse koste is daardie koste wat aangegaan moet word of daar byvoorbeeld geplant word of nie. Kry beheer daaroor en maak seker dat daar nie onnodige en verskuilde uitgawes is wat jaarliks oorbodig aangegaan word nie.
Dit is nie ‘n skande om hulp te soek nie. Gaan praat met finansierders, voorligters en konsultante om raad in te win en jou te help om die spesifieke probleem aan te spreek. Hierdie buitestander sien dalk geleenthede en bedreigings in jou besigheid raak wat telkemale misgekyk is. So ‘n persoon/instansie het dalk ook ‘n model wat jy kan gebruik om jou berekening in meer detail te doen en dít help al klaar sommer baie.
Navrae kan aan Pietman Botha by 082 759 2991 of Michael van Rooyen by 018 633 1000 gerig word.
Publication: May 2014
Section: Other Articles
Author: PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker en MICHAEL VAN ROOYEN, bestuurder: NWK Boerdery