July 2015
HANS LOMBARD, namens Fertasa
“Ten einde die misstofbedryf te vestig as ‘n erkende en voorkeur-instansie verbind tot die uitbouing van die beeld van sy bedryf, het Fertasa (Misstofvereniging van Suider-Afrika) ‘n doeltreffende raamwerk van selfregulering daargestel. Dit sluit die onderskrywing van ‘n gedragskode en die nakoming van ‘n oudit in asook daaropvolgende akkreditasie vir sy lede ingevolge internasionale standaarde,” het mnr Adriaan de Lange (voorsitter: Fertasa en besturende direkteur: Omnia Kunsmis) gesê.
Met die aanbieding van sy jaarverslag tydens die 55ste Fertasa-kongres in Kaapstad, het hy gesê Afri Compliance is gekontrakteer om die nakoming van die gedragskode te implementeer. Nadat sulke nakoming bevestig is, word ‘n lidmaatskapsertifikaat toegeken. Die eerste sertifikaat is aan mnr Tom Mason (hoof uitvoerende beampte: Metson Manufacturing) oorhandig.
Aldus De Lange is die doel met nakoming van die gedragskode juis die skep, handhaaf en monitor van ‘n etiese kultuur van nakoming, integriteit en vertroue binne die misstofbedryf.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het ingestem tot ‘n afsonderlike Kunsmiswet. Om die misstofbedryf te reguleer, is noodsaaklik vir die beskerming van die omgewing en die beskerming van die verbruikers van voedsel waar bemesting gebruik is asook die beskerming van produsente teen verdagte verskaffers.
Voorgenome wysigings tot die regulasies vervat in Wet 36 van 1947 om die gebruik van sink-as as ‘n kernbron in misstofprodukte te beheer, is aan die Registrateur voorgelê.
Fertasa het ook riglyne opgestel vir die registrasie van Groep 3-misstowwe, aangesien daar tans geen duidelike riglyne hiervoor bestaan nie.
De Lange het bygevoeg dat sowel lede as nie-lede bygestaan word met produkregistrasie-aansoeke wat by die Registrateur ingedien moet word ten einde vertragings te verminder.
Lidmaatskap van die vereniging het toegeneem van 28 verlede jaar tot ‘n huidige 42.
Afrika se voedselpotensiaal
Mnr Adam Mostert (hoof uitvoerende beampte: Fertasa) het gesê dat verskeie invloedryke bronne dikwels beweer dat Afrika oor die potensiaal beskik om nie net sy eie bevolking te voed nie, maar ook om surplusse vir uitvoer beskikbaar te hê. Die vraag is egter: Wat word gedoen om hierdie potensiaal te ontgin?
Die feit is dat mense nie van potensiaal kan lewe nie. Hulle leef van dit wat werklik geproduseer word. Die huidige produksie is onvoldoende, aangesien miljoene Afrika-inwoners aan hongersnood en wanvoeding ly.
“Afrika spandeer jaarliks 35 miljard dollar aan voedselinvoere. Sonder verandering, sal steeds meer mense van hongersnood vergaan. Ons kan nie sit en ginnegaap terwyl alles om ons in duie stort nie.”
Mostert het genoem dat hy onlangs die Afrika-Groenrewolisieforum bygewoon het wat die Kofi Annan-stigting in Addis Ababa aangebied het. Tydens dié forum is klem gelê op die volgende aspekte waaraan dringend aandag geskenk moet word ten einde Afrika te help om sy voedselpotensiaal te bereik:
Zambië
Dr Guy Scott (Lusaka) en ‘n voormalige waarnemende president van die Republiek van Zambië, het gesê die gebruik van minimumgrondbewerking kan tot verhoogde mielieopbrengste vir sowel kleinboere as kommersiële produsente in Zambië lei.
Daar is reeds heelwat navorsing en ontwikkeling gedoen om verliese wat deur laat aanplantings, onakkurate saadplasing, uitermatige onkruidgroei, onnoukeurige toediening van plantvoedingstowwe en onvoldoende waterretensie veroorsaak is, te beperk. Hierdie genoemde aspekte lei tot opbrengsverliese van 65%.
“Handelsmaatskappye in die sintetiese misstofbedryf moet ‘n toegewyde belangstelling toon in die breër konteks waarbinne misstowwe gebruik word, veral deur kleinboere, om sodoende groter doeltreffendheid vir die toekoms te bewerkstellig.”
Volgens dr Scott beland baie van die kunsmis wat elke jaar in Zambië versprei word, ongelukkig in die hande van invloedryke persone, insluitend staatsamptenare en die plaaslike politieke elite. Hulle skuil agter sogenaamde “koöperasies” waar lede (kleinboere) nie die kunsmis kry wat hulle toekom nie. Misstofdistribusie stel dus die minderheid “mediumskaalboere” daartoe in staat om die oorgrote deel van die mielieoes deur middel van korrupsie te produseer.
Kleinboere is nie die antwoord nie
Onafhanklike landbou-ekonoom, mnr Fanie Brink, het beklemtoon dat voedselproduksie deur kleinboere nooit die antwoord op voedseltekorte en die uitwissing van armoede in Afrika kan wees nie. “In baie gevalle sukkel hulle self om ‘n bestaan te maak. Hulle was nooit in die verlede die antwoord nie; en sal dit ook nie in die toekoms wees nie.
“Geen produsent ter wêreld, ongeag die grootte van sy plaas, kan tot voedselsekerheid bydra indien hy voedsel nie winsgewend en volhoubaar kan produseer nie. Die tyd het nou aangebreek dat almal wat by die daarstelling van voedselsekerheid vir Afrika betrokke is, hierdie realiteit erken en aanvaar.”
Na beraming is daar in Afrika 870 miljoen mense wat aan wanvoeding ly. Wat skokkend is, is dat 60% van hulle bestaansboere is. Wat Suid-Afrika betref, kan die regering se algemeen-aanvaarde doelwitte van grondverdeling en die ontwikkeling van bestaansboere aan die een kant, en voedselsekerheid aan die ander kant, nooit versoenbaar wees nie.
Die hoofrede is dat dit onmoontlik is vir kleinboere om noemenswaardig tot voedselsekerheid by te dra indien hulle nie volhoubaar en winsgewend kan boer nie, het Brink beklemtoon.
Werksgeleenthede-potensiaal in landbou
Enige noemenswaardige groei in werksgeleenthede op plase kan alleen geskep word deur addisionele besproeibare grond te ontwikkel, tesame met verbeterde lewenstandaarde en verhoogde indiensneming in die kommunale boerderygemeenskap. Bedrywe wat die grootste potensiaal in werksgeleenthede bied, is meestal besproeiingsgebaseer, aldus prof Nick Vink, voorsitter van die Departement van Landbou-ekonomie, Universiteit van Stellenbosch.
Hy het gesê Suid-Afrika bewerk tans ongeveer 13 miljoen ha landbougrond. Beskikbare landbougrond beloop ongeveer 15 miljoen ha. Dit laat 2 miljoen ha beskikbaar, hoofsaaklik in die voormalige tuislande, vir verdere uitbreidings.
“Ongeveer 300 000 werksgeleenthede kan in die kommunale (stamgebiede) geskep word, waar nagenoeg 1,3 miljoen huishoudings toegang tot grond het. Die minder intensiewe gewassektor het ‘n potensiaal van 10 000 op-die-plaas-geleenthede. In totaal kan die getal primêre en sekondêre werksgeleenthede wat geskep kan word, 900 000 oorskry,” het prof Vink bygevoeg.
Vir verdere besonderhede, skakel mnr Adam Mostert by 082 803 5394 of 012 349 1450.
Geen produsent sal sy grond verloor nie – Zokwana
“Geen produsent sal sy grond verloor as gevolg van grondhervorming nie,” het die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, mnr Senzeni Zokwana, op Fertasa se jaarkongres in Kaapstad gesê.
Hy het die misstofbedryf geloof vir sy insette as die grootste en een van die belangrikste komponente om te verseker dat daar genoegsame bekostigbare voedsel vir ‘n groeiende bevolking beskikbaar is. Die regering erken die noodsaaklikheid van same werking in voortgesette pogings om voedselsekerheid te verseker.
“Om hierdie doel na te streef, nooi ek Fertasa om meer dikwels met my te skakel ten einde die uitdagings wat die bedryf in die gesig te staar, aan te spreek. Daar is reeds terreine, soos regulatoriese aangeleenthede, waar die regering en die bedryf saamwerk, maar ek wens ons kan op meer terreine saamwerk, soos:
“Daar is ‘n behoefte aan ‘n onderneming van almal van ons om saam te werk om aangeleenthede van gemeenskaplike belang aan te spreek,” het die minister beklemtoon.
Publication: July 2015
Section: Focus on