June 2015
GODDY PRINSLOO, LNR-Kleingraaninstituut
Vlieënde plantluise migreer op hoogtes van 12 m en hoër. Hierdie plantluise is baie keer die draers (vektor) van siektes na plante en kan dus bydra tot die uitbreek van plantsiektes. Dit is waarom die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) betrokke geraak het by die monitering van plantluise wat die gars geel dwerg virus of in Engels bekend as barley yellow dwarf virus kan oordra.
Gars geel dwerg virus is daarvoor bekend dat dit sedert 2006 skade by koring onder besproeiing in verskeie gebiede, maar veral KwaZulu-Natal, veroorsaak. Migrerende plantluisgetalle word sedert Junie 2013, in samewerking met die Universiteit van Pretoria, met behulp van vier suigvalle by Koedoeskop, Brits, Groblersdal en Winterton gemonitor (Foto 1).
Hoe vroeër virusoordraging op koring plaasvind, hoe skadeliker kan dit vir die gewas wees. Aangesien die klimaat tussen die gebiede verskil, word kultivars op verskillende tye in die verskillende gebiede aangeplant en dus verskil die periodes waartydens die koring sensitief is vir virusoordraging, ook tussen gebiede. Hierdie periode word bepaal deur tien weke by die laatste plantdatum in ‘n gebied te voeg. Plantluise wat dus in hierdie periode in groot getalle migreer en op grasse voed, kan as ‘n moontlike vektor van gars geel dwerg virus dien.
Meer as twintig verskillende plantluisspesies
Met ongeveer 18 maande se data tot ons beskikking, is die basis van die inligting gelê en kan ons nou daarop voortbou soos wat die inligting verder ingesamel word. Tussen 20 en 30 verskillende plantluisspesies is in elk van hierdie suigvalle gevang.
Die koringluise wat die gars geel dwerg virus oordra, maak maar vyf van hierdie spesies uit. Nog ‘n verdere vyf tot agt spesies wat ook op sommige tye wel op gras voed, verhoog die potensiële vektore tot omtrent 13, maar dit wissel tussen gebiede. Die vlugpatrone kan varieer as gevolg van klimaatsverskille asook die tipes gewasse wat in groot hoeveelhede aangeplant word.
Data wys alreeds vae prentjie
Luise wat in al vier gebiede in die grootste aantalle voorgekom het, was die hawerluis (Rhopalosiphum padi) en mielieluis (Rhopalosiphum maidis) (Grafiek 1 – Winterton). Hulle het egter in die eerste vyf maande van die jaar gevlieg, maar gelukkig in baie lae getalle gedurende die periode waar koring sensitief is vir virusbesmetting.
Die eerste gevolgtrekking kan dus wees dat hulle geen faktor is in die oordraging van virusse nie. Die groot getalle wat vlieg, kan egter veroorsaak dat meer luise op grasse aangrensend aan lande kan oorleef. Hierdie luise kan met gemak dan van grasse na koring beweeg en die virus na koring oordra. Laasgenoemde beweging sal eers bevestig moet word.
In die Groblersdal-omgewing het die koringluise se patrone van beweging verskil van dié van hawerluise – wat laat en in groter getalle voorgekom het – terwyl bruinaarluise (Sitobion avenae) regdeur die periode wanneer koring sensitief is vir virusbesmetting, voorgekom het (Grafiek 2). Hierdie is ook ‘n goeie voorbeeld van hoe die migrasiepatrone tussen die verskillende gebiede varieer.
Ander grasvoedende luise ook betrokke
Die grasvoedende plantluise wys ook interessante patrone. In die Groblersdal-omgewing is daar veral drie van hierdie spesies wat in redelike getalle voorgekom het. Een van hulle is Hyalopterus pruni wat ook op perskes en pruime voed (Grafiek 3). Hulle tussengasheerplante is egter riete wat langs die meeste riviere en vleigebiede regoor die land groei.
Hierdie luise vlieg veral in redelike getalle wanneer koring sensitief is vir virusoordraging (Grafiek 3). Luise wat vanaf riete na bome beweeg, kan deur die kleur van koring aangetrek word en op die koring land en voed voordat hulle aanbeweeg op soek na bome. Dit gee genoeg tyd vir die virus om na die koring oorgedra te word, indien die luise vooraf op gars geel dwerg virus besmette riete gevoed het.
‘n Literatuurstudie gedurende Januarie vanjaar het twee rekords opgelewer waar gars geel dwerg virus uit hierdie riete in Europa geïsoleer is en dus is die teorie nie heeltemal onwaarskynlik nie. ‘n Soortgelyke ondersoek word tans hier gedoen om vas te stel of riete waarop luise gevoed het, wel die gars geel dwerg virus bevat. Hierdie inligting kan verdere kennis verskaf oor die vektore van die gars geel dwerg virus.
Eweneens vlieg baie Aphis sp. luise vroeg rond, wanneer koring sensitief is vir die oordraging van virusse, en dus sal hierdie moontlikheid ook ondersoek moet word (Grafiek 3).
Die inligting uit hierdie suigvalle is nog beperk, maar die voordele wat hieruit kan spruit, is alreeds besig om duidelik te word. Soos meer data vanaf hierdie suigvalle inkom, kan die prentjie duideliker word en sal meer akkurate gevolgtrekkings gemaak kan word wat tot verdere uitbreidings in die studie van vektore van gars geel dwerg virus kan lei.
Publication: June 2015
Section: On farm level