• Login
  • Search Icon

Migrasie van die mieliestamboorder in verskillende mengsels van Bt- en nie-Bt-mielies

January 2013

DR ANNEMIE ERASMUS, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Die toevlugsoord-strategie word in Suid-Afrika asook in die res van die wêreld gebruik om die ontwikkeling van stamboorderweerstand teen Bt-mielies te bestuur. Die toevlugsoord-strategie behels die aanplanting van nie-Bt-mielies langs of om ‘n Bt-mielieland, sodat motte vanaf Bt-mielieplante kan paar met vatbare motte vanaf nie-Bt-plante om te verseker dat die nageslag ook vatbaar is en nog beheer sal word deur Bt-mielies.

In Suid-Afrika is die voorgeskrewe riglyne vir ‘n toevlugsoord, die aanplanting van ‘n 5% of ‘n 20% toevlugsoord van nie-Bt-plante. Insekdoders mag toegedien word in die 20% toevlugsoord, maar nie as net ‘n 5% toevlugsoord geplant word nie.

Die twee teiken-stamboorders wat beheer kan word deur Bt-mielies in Suid-Afrika, is die mieliestamboorder (Busseola fusca) (Foto 1) en die Chilo boorder (Chilo partellus) (Foto 2). Eersgenoemde het weerstand opgebou teen Bt-“events” wat Cry1Ab proteïen uitdruk in mielieplante, maar beheer word deur ‘n nuwe “event” wat ‘n stapelgeen is met twee proteïene, naamlik Cry1A.105 en Cry2Ab2.

image

Een van die grootste redes vir weerstandsontwikkeling van die mieliestamboorder is as gevolg van toevlugsoorde wat nie geplant is nie of verkeerdelik geplant word. Daar word voortdurend navorsing gedoen om weerstandsontwikkeling van insekte beter te bestuur en na nuwe strategieë te kyk wat maklik toegepas kan word.

Die “toevlugsoord in ‘n sak” (TIS) (refuge in a bag)-strategie is een van die nuwe strategieë wat in die buiteland ondersoek word en vir sekere insekte toegepas word. Hierdie strategie behels ‘n mengsel van Bt- en nie-Bt-saad in dieselfde sak.

In die geval van ons mieliestamboorder is dit egter bekend dat larwes voortdurend na aangrensende plante migreer. Bt-tegnologie maak egter net aanspraak op effektiewe beheer van larwes in die eerste twee ontwikkelingstadiums. As ‘n larwe dus op ‘n nie-Bt-plant die eerste twee stadiums voltooi het, is dit moontlik dat dit Bt-plante kan aanval sonder om beheer te word. Die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) in samewerking met die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, het die geleentheid raakgesien om die strategie te evalueer indien dit in die toekoms toegepas sou word vir die mieliestamboorder in Suid-Afrika.

Die doel van die studie is om na larwale migrasie van die mieliestamboorder oor tyd te kyk en om vas te stel of daar potensiaal is om hierdie strategie toe te pas om weerstandsontwikkeling van die mieliestamboorder in Suid-Afrika teë te werk.

‘n Veldproef is geloods om te kyk na stamboorder-migrasie in verskillende TIS-behandelings. Beide “events” wat kommersieel in Suid-Afrika beskikbaar is, is geëvalueer. Saadmengsels wat 5%, 10%, 15% en 20% nie-Bt-saad bevat, is in blokke geplant asook ‘n nie-Bt-kontrole blok.

Elke blok is geïnokuleer met 50 larwes in die middelste plant van die blok en migrasie is waargeneem oor tyd deur middel van weeklikse tellings van stamboorderskade. Grootskaalse migrasie is waargeneem binne die eerste drie weke. ‘n Hoë persentasie migrasie is veral waargeneem in blokke geplant met die Cry1Ab-geen en in die kontroleblokke.

In die blokke waar die Cry1Ab-plante was, het die aantal beskadigde plante altyd die persentasie TIS oorskry, behalwe in die geval van die 20% TIS (Grafiek 1 in rooi). Geen betekenisvolle verskille is waargeneem in stamboorderskade indien mielieplante met die Cry1Ab-geen geplant was met die verskillende persentasies TIS nie.

image

In blokke geplant met die stapelgeen was die persentasie skade altyd laer as die persentasie TIS en dit het ook betekenisvol verskil van die kontrole (Grafiek 1 in blou). Dit wil sê plante met die Cry1Ab-geen is ook beskadig, maar nie in die geval met die stapelgeen nie. In vorige studies is dit alreeds bewys dat die aantal nie-Bt-plante wat beskadig kan word van een stamboordereierpakkie, tussen drie en sewe plante langs mekaar kan wees. Dit impliseer dat die observasie van stamboorderskade in die Cry1Ab-blokke dieselfde is as in die geval van nie- Bt-mielies.

Die vlak van migrasie en oorlewing van stamboorderlarwes wat geplant is met saadmengsels van Bt- en nie-Bt-saad, sal afhang van waar die oorspronklike infestasie plaasgevind het, op ‘n Bt- of ‘n nie- Bt-plant.

Die waarskynlikheid dat ‘n nie-Bt-plant die bron van infestasie gaan wees, is klein, aangesien die getal nie-Bt-plante laag sal wees in ‘n TISstrategie. Die grootskaalse migrasie waargeneem in die studie wys dat die TIS-strategie moontlik kan bydra tot larwes wat oor tyd blootge stel sal word aan sub-letale dosisse van Bt wat kan lei tot seleksiedruk en ontwikkeling van weerstand.

Uit die studie blyk dit dat in die geval van saadmengsels wat meer as 5% nie-Bt-saad bevat, larwes kan oorleef. Dit bevestig dat saadmengsels nie noodwendig die aangewese bestuurstrategie is wat gevolg behoort te word om insekweerstand teë te werk indien dit bekend is dat ‘n plaag tussen plante migreer nie.

Publication: January 2013

Section: Input Overview

Search