• Login
  • Search Icon

Mielies: 10 ton/ha met 700 mm reën en byna geen kunsmis - is dit moontlik?

January 2011

PIETMAN BOTHA, SENIOR LANDBOUNAVORSINGS KUNDIGE, GRAAN SA

Tydens ‘n onlangse besoek aan Argentinië het ek die skokkende ontdekking gemaak dat dié produsente 10 ton mielies per hektaar oes met slegs 700 mm reën en byna geen kunsmis nie. In die provinsies Córdoba en Santa Fé stroop produsente gereeld hierdie opbrengste en selfs beter met net 700 mm reën. In hierdie artikel gaan ek poog om te verduidelik hóé produsente in die Córdobaen Santa Fé-provinsies dít regkry.

Die grondsoorte in hierdie streke wissel ook, soos in Suid-Afrika, baie. Die meerderheid van die gronde in hierdie streek het ‘n kleipersentasie wat wissel tussen 10% en 20% in die boonste 20 cm.

Die A-horison is sterk gestruktureer en beskik oor baie organiese materiaal. Lande word só bestuur dat daar altyd ‘n baie goeie deklaag op is en indien die deklaag te min raak, sal ‘n dekgewas geplant word om dit weer op te bou. Een van die redes vir die deklaag is om die reënwater wat meeste van die tyd in baie harde buie voorkom, op te vang en die grond kans te gee om hierdie water te kan absorbeer. Afloop word met ander woorde tot die minimum beperk wat tot gevolg het dat meer water vir die plante beskikbaar is. Verder help die deklaag om verdamping te verminder en om wind- en watererosie te bekamp. Die deklaag veroorsaak dat die organiese materiaal in die grond verbeter of konstant gehou word en verder verskaf dit deur die nitrifikasieproses baie voedingstowwe aan die plante. Interessant: oesreste word glad nie deur vee bewei nie. Produsente hier beskou oesreste as bemesting en oesversekering, omdat dit water opvang en tot beskikking van die plante gehou moet word. Produsente glo daarom dat hulle te veel verloor as oesreste bewei of verwyder word.

Lande in hierdie streek is oor die algemeen nog relatief jonk en baie van die lande is nog nie 25 jaar in produksie nie. Die meerderheid van hierdie lande is direk vanaf veld in produksie gebring deur ‘n direkte plantstelsel te gebruik – wat nog steeds gevolg word. Dit beteken met ander woorde dat die lande nie geploeg of bewerk is of word nie en die grond word so min as moontlik versteur. Die gevolg hiervan is dat die organiese materiaal in die grond nooit afgebreek is nie, maar dat dit eerder oor tyd verhoog is. ‘n Verdere voordeel van hierdie stelsel is dat die hoë vlakke van organiese materiaal daartoe lei dat bemesting dramaties verlaag kon word. Vogverlies as gevolg van bewerking word ook tot die minimum beperk deur die direkte plantstelsel te volg, omdat grond baie min versteur word.

Kliek op https://www.grainsa.co.za/documents/SAGraan%20Jan%202011_Mielies%2010ton.pdf   vir die volledige artikel.

Publication: January 2011

Section: Input Overview

Search