• Login
  • Search Icon

Meer van dieselfde kan landbou nie verander nie

August 2011

Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Ek was die afgelope 25 jaar intens betrokke by landboubeleid in Suid-Afrika. Ek het groot geword tydens die beheerrade en met honderde regulasies. Daar het ek deur al die menigte vergaderings gesit tydens die sluiting van die rade en die stigtingsvergaderings van al die nuwe strukture, maatskappye en trusts wat tans die vrye mark dien.

Suid-Afrikaanse landbou het baie goed gevorder om die vrye mark te maak werk en om die verbeterings aan te bring, maar ons het nou ‘n punt bereik waar “meer van dieselfde” net nie meer goed genoeg is nie!

Ons bestaande maniere en wyses van werk hou die vrye mark aan die gang en op ‘n gesonde drafstap, maar ons beleidsomgewing bly nie in pas met wat in die werklikheid aangaan nie en ons kry bloedweinig daaraan gedoen. Daar is verskeie redes vir die probleem, naamlik:

·       Wantroue tussen die regering en kommersiële landbou;

·       Uiteenlopende doelwitte tussen die regering en kommersiële landbou; en

·       Onenigheid in landbou.

Ons vermoë om die beleidsomgewing via georganiseerde landbou te verbeter, is aan die taan, die eens entoesiastiese konsultasies van die regering is aan die verminder en die periode vir kommentaar grens soms aan belaglikheid. Om op 24 Desember 2010 van georganiseerde landbou insette te vra oor planne en voorstelle vir werkskepping en te vereis dat dit weer op 10 Januarie 2011 moet in wees, kan bloot nie as konsultasie beskou word nie.

Hoe nou gemaak om hierdie probleme te oorkom? Georganiseerde landbou se pogings is nie minder nie, maar die impak daarvan is beslis nie effektief nie. Die wantroue het gewis iets te make met die onenigheid in landbou sowel as die uiteenlopende sakelyste waarmee die partye tafel toe kom.

‘n Sakelys oor hoe om armoede hok te slaan en ‘n ander een wat die winsgewendheid van die landbousektor as prioriteit op het, is nie maklik versoenbaar nie. Ons skree en raas al hoe harder vir en met mekaar, maar niemand hoor mekaar nie. Dus geen vordering nie! Dit klink amper soos die Doha-rondte van die Wêreldhandelsorganisasie se onderhandelings tussen die ryk lande wat hulle produsente subsidieer en die arm lande wat nie kan meeding nie en nou sonder kos sit.

Daar kort ‘n ernstige poging van landbou om die eenheid en wantroue aan te spreek om sodoende die reg te verdien om gehoor te word. Die regering daarteenoor behoort in te sien dat sonder winsgewendheid, voedsel nie volhoubaar in dié land geproduseer sal kan word nie.

Landbou het in die laat negentiger jare nie die inherente vermoë gehad om die sprong te maak vanuit die beheerde omgewing na die vrye mark nie. Die regering het bloot in 1996 die beheerde stelsel se “prop” kom uittrek en ons moes maar sien kom klaar. Dit laat ‘n mens wonder wat nou nodig is om eenheid in die landbou te kry. Miskien is van die dinge juis reeds besig om te gebeur: Min of geen afsprake met politici en besluitnemers nie; geen of belaglike tariefbeskermingsvlakke; vermindering van navorsingsgelde en swak grensbeheer.

My pleidooi is dat landbou, anders as in die 1990’s, self met leierskap inherent sal verander om hierdie sprong te kan maak. Ek haal my hoed af vir die Hoofbestuur van Graan SA wat alreeds die eerste stappe tot eenheid in die landbou geneem het. ‘n Mens hoop maar net dit kan op nasionale vlak ook gebeur. Stappe tot eenheid kan dalk vandag ongewild klink, maar dit is ons redding vir môre!

Publication: August 2011

Section: Editorial

Search