July 2017
Bemarking en prysrisikobestuur speel ‘n uiters belangrike rol in die winsgewendheid van produsente. Beter produksiepraktyke en tegnologiese vooruitgang het plaaslike produsente oor die afgelope paar jaar heelwat meer effektief begin maak en produsente toon effektiewe produksie.
Die effektiewe bemarking van grane word egter dikwels tot ʼn groot mate agterweë gelaat en dit kan aan verskeie faktore toegeskryf word, wat somtyds die gebrek aan selfvertroue en/of die tekort aan basiese kennis van die werking van afgeleide instrumente insluit.
Daar is besluit om ‘n reeks artikels oor prysrisikobesuur en bemarkingsmoontlikhede in SA Graan/Grain te publiseer. Die reeks sal uit ses artikels bestaan en sal verskeie faktore met betrekking tot prysrisikobestuur en bemarkingsmoontlikhede aanspreek:
Deel 1: Markstrukture en inligtingsbronne – Julie 2017
Deel 2: Risiko’s om te oorweeg – Augustus 2017
Deel 3: Bemarkingsmoontlikhede – September 2017
Deel 4: Die gebruik van Safex-termynkontrakte – Oktober 2017
Deel 5: Die gebruik van Safex-opsiekontrakte – November 2017
Deel 6: Diversifikasie – Desember 2017
Die markstrukture
Suid-Afrika het voor die deregulering van die bemarkingsrade in 1997 ‘n gereguleerde markstruktuur gehad. Dit was die sogenaamde enkelkanaalbemarkingstelsel, waar die pryse wat produsente vir die geproduseerde produk ontvang het, vasgestel is deur die betrokke kommoditeit se bemarkingsraad.
Hierdie raad het dus die “bemarking” van die grane namens die produsente behartig en die produsente het deur die loop van die seisoen ‘n vasgestelde prys vir die produk ontvang.
Die bemarkingswet is egter in 1997 hersien en die mark is gedereguleer, wat beteken het dat dit oorbeweeg het na ‘n vryemarkstelsel, waar elke rolspeler in die waardeketting self verantwoordelikheid moes aanvaar vir die bemarking van die geproduseerde produk. Groot veranderinge het in die mark plaasgevind en nuwe stelsels is in plek gestel om vryemarkhandel te vergemaklik en beter te laat funksioneer.
In werklikheid het die hele mark ‘n strukturele verandering ondergaan en daarom is dit belangrik vir produsente om die huidige markstruktuur te verstaan.
Rolspelers in die mark
Een van die ekonomiese kenmerke van ‘n vrymarkstelsel is dat daar ‘n groot aantal kopers en verkopers in die mark is en die pryse van die onderliggende produkte deur die markkragte, naamlik vraag en aanbod, bepaal word.
Dit wil sê dat alhoewel daar verskeie rolspelers in die mark is wat elk in sy eie reg ‘n belang by en in die werking van die mark het, geen van hierdie rolspelers die mark kan beïnvloed nie. Dit is as gevolg van die grootte en aantal deelnemers in die mark.
Hierdie rolspelers is belanghebbendes in die mark wat deur die hele waardeketting van die produk strek – van die primêre produsent wat die rouproduk produseer tot en met die verbruiker wat die produkte wat uit die rouproduk vervaardig is op die ou einde verbruik.
Die rolspelers in die mark sluit in primêre produsente wat die fisiese kommoditeit produseer.
Handelaars en makelaars, wat meestal dien as middelman tussen die kopers en verkopers, is in die meeste gevalle ook verantwoordelik vir die verskansing van grane. Opbergers sluit die kommersiële silo-eienaars wat die grane vir die kliënt stoor, in.
Die kliënt kan enige party in die waardeketting wees en hy betaal ‘n stoorfooi aan die opberger. Meulenaars en veevoervervaardigers verwerk die rou kommoditeite na ander produkte (meel en veevoere) voor dit weer na die relevante bestemmings versprei word.
Prysvormingstrukture
Daar is verskeie faktore wat die plaaslike pryse van grane beïnvloed. Hierdie pryse sluit nie net die plaaslike markomstandighede in nie, maar ook die internasionale kommoditeitspryse en selfs die wisselkoers.
Die internasionale mark speel daarom ook ‘n groot rol in die plaaslike prysbepaling. Een van die groot redes daarvoor is die feit dat die plaaslike pryse oor die algemeen tussen ‘n in- en uitvoerpariteitsprys verhandel, afhangende van die plaaslike markomstandighede en aanbod.
Pariteitspryse is konsepte wat gebruik word wanneer internasionale vergelykende pryse geanaliseer word. In kort beteken dit dat ‘n invoerpariteitsprys min of meer die prys sal wees wat vir die produk betaal word wanneer dit ingevoer word, terwyl die uitvoerpariteitsprys verwys na die prys wat ontvang sal word vir die produk wanneer dit uitgevoer word.
Hierdie prys sluit die verskeie kostes verbonde aan die aankoop/ verkoop van die produk in, wat strek vanaf die aankoop-/verkoopprys van die produk tot en met die vervoer, hanterings-, finansierings- en versekeringskostes om die produk op ‘n sekere plek te kry.
Die plaaslike kommoditeitspryse verhandel grootliks tussen die in- en uitvoerpariteitspryse – afhangende van die huidige situasie in die mark. Gedurende tye wanneer daar tekorte in die land is, sal die pryse nader aan die invoerpariteitsprys verhandel, terwyl dit weer nader aan die uitvoerpariteitsprys sal verhandel in tye wanneer ‘n oorskot van die graan plaaslik beskikbaar is.
Die oliesademark het egter ‘n derde komponent wat grootliks deel vorm van die prysstrukture. Hierdie komponent word die afgeleide prys genoem. Die afgeleide prys verwys na wat dit sal kos om die produkte wat van die verwerking van oliesade verkry word (met ander woorde die olie en die oliekoek) apart in te voer.
Hierdie prys word grootliks bepaal deur die internasionale kommoditeitspryse, die olie- en oliekoekprys internasionaal en die wisselkoers.
Markinligtingsbronne
Daar is verskeie inligtingsbronne wat deur die verskeie markdeelnemers gebruik word om die markte te ontleed, waardeur vasgestel kan word wat die moontlike risiko’s in die mark is.
Hierdie inligtingsbronne sluit verslae vanuit verskeie oorde in: Amptelike regeringsverslae, verslae van produsente-organisasies en nie-winsgedrewe instansies, internasionale agentskappe, asook markontledings deur plaaslike makelaars. Die verslae word maandeliks, weekliks en daagliks vrygestel en die gerapporteerde inligting word gebruik om menings oor toekomstige prysrigting te ontwikkel.
Dit is egter vir markdeelnemers noodsaaklik om alle moontlike inligting te verkry en te ontleed ten einde die bes moontlike bemarkingsbesluit te neem. Hierdie inligting sluit beide die internasionale en plaaslike inligting in en sommige van die inligtingsbronne en gebruike daarvan word vervolgens bespreek.
Internasionale inligting
Die internasionale inligting wat oorweeg word, sluit daaglikse, weeklikse en maandelikse inligting in. Die daaglikse inligting is hoofsaaklik die internasionale prysbewegings en hoe die pryse die vorige dag in die internasionale mark verhandel het (hoofsaaklik Amerikaanse pryse).
Dit kan ‘n goeie aanduiding bied van wat moontlik die betrokke dag met plaaslike pryse kan gebeur, alhoewel dit in gedagte gehou moet word dat die plaaslike pryse nie die internasionale pryse slaafs navolg nie en dat verskeie ander faktore ook bydra tot die prysbewegings in die plaaslike mark.
Die weeklikse verslae sluit hoofsaaklik die Amerikaanse Departement van Landbou se produksievorderingsverslae in. Hierdie verslae toon op ‘n weeklikse basis deur die loop van die seisoen (van planttyd tot en met strooptyd) die vordering van die Amerikaanse produksie.
Dit sluit in die tempo waarteen die aanplantings plaasvind, produksietoestande uitgedruk as ‘n persentasie van swak tot uitstekend, asook die tempo waarteen die stroopproses plaasvind. Dit gee bruikbare inligting deur, wat gebruik kan word om afleidings te maak rakende die moontlike Amerikaanse aanbod vir die seisoen (Amerika is die grootste produserende land van verskeie grane en oliesade).
Die maandelikse verslag is die wêreldvraag-en-aanbodverslag wat deur die Amerikaanse Departement van Landbou vrygestel word. Dit is ‘n skatting van wat die verwagte wêreldproduksie en -verbruik vir ‘n spesifieke seisoen is.
Hierdie verslag is ‘n goeie aanduiding van wat verwag kan word wat die internasionale pryse oor die algemeen betref en ook waar geleenthede vir ander markte gedurende ‘n seisoen kan ontstaan.
Ander algemene internasionale inligting om in ag te neem, is algemene weerstoestande in produserende lande, asook die ekonomiese en beleidsaspekte van dié lande wat ‘n impak op die internasionale pryse kan hê.
Plaaslike inligting
Plaaslik is dit belangrik om vertroud te wees met die marksamestelling en alhoewel dit in soms klink na algemene kennis, is dit vir produsente tog belangrik om dit in perspektief te sien en jouself af te vra wat die inligting wat jy het, beteken.
Kennis oor produksieseisoene, asook die gewasse wat waar aangeplant word, is waardevolle inligting om in ag te neem wanneer bemarkingsbesluite geneem word. Indien jy vertroud is met die produksieseisoene in verskillende streke, asook met die gewasse wat daar verbou word, kan produsente deur omstandighede in die verskillende streke te bestudeer en dit in konteks te oorweeg, ‘n redelike goeie oorsig kry van wat moontlik die jaar verwag kan word.
Dit is ook belangrik dat produsente die land se algehele produksieomstandighede moet sien en nie net op sekere gedeeltes en/of eie streke sal fokus nie.
Ander belangrike plaaslike verslae is die Nasionale Oesskattingskomitee se skattings wat elke maand gedurende die groeiseisoen van die verskillende gewasse bekendgemaak word. Die komitee het hulself al oor die jare bewys as geloofwaardig en akkuraat en hul verslae bied uitstekende inligting.
Die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens, beter bekend as SAGIS, stel ook verskillende verslae op weeklikse en maandelikse basisse vry. Hierdie verslae sluit die weeklikse in- en uitvoersyfers van mielies en koring, asook die weeklikse mielie- en koringprodusentelewerings in.
Maandelikse verslae sluit algemene vraag-en-aanbodsyfers van grane en oliesade wat heelwat meer gedetailleerde inligting rakende die aanbod, verwerkings en ander faktore soos in- en uitvoere bevat, in. Hierdie inligting is van kardinale belang vir die bedryf en die werking van die mark en bruikbare ontledings kan hieruit gemaak word.
SAGIS publiseer ook produktesyfers vir mielies, koring en oliesade en hierdie syfers korreleer uitstekend met mekaar – wat dui op die akkuraatheid van die SAGIS-inligting.
Ander verslae wat op ‘n daaglikse, weeklikse en maandelikse basis versprei word, is algemene markverslae van verskeie organisasies soos Graan SA, verskeie landboumaatskappye en ander organisasies wat belange in die graanmark het.
Hierdie verslae sluit meer fundamentele inligting van wat in die markte plaasvind, in. Dit is belangrik dat produsente van hierdie verslae gebruik maak wanneer hulle bemarkingsbesluite neem.
Hierdie verslae sluit ook maandelikse vraag-en-aanbodprojeksies in, wat uiters waardevolle inligting verskaf soos die verwagte aanbod, verbruik, invoere en uitvoere (indien nodig), asook die geskatte eindvoorraadvlakke van die verskillende gewasse vir die betrokke bemarkingsjaar.
Ten slotte
Bemarkingsbesluite kan, as een van verskeie aspekte wat belangrik is vir goeie langtermyn-volhoubare produksie, beslis ook ‘n regmerkie ontvang. Goed-deurdagte bemarkingsbesluite begin by die nodige kennis en ‘n vertroudheid met die werking van die mark en markinstrumente.
Oor die duur van die volgende paar maande sal opeenvolgende artikels die beginsels en toepassing van die instrumente wat beskikbaar is en die opsies wat oorweeg kan word, verduidelik.
Deel 2 (wat in die Augustus-uitgawe verskyn) handel oor die risiko’s wat oorweeg moet word.
Publication: July 2017
Section: On farm level