• Login
  • Search Icon

Maniere om Sclerotinia peul en stamvrot te voorkom

February 2013

HENK VAN DER WESTHUIZEN, PHILAGRO SA EN WESSEL VAN WYK, PNS KONTRAKTEUR

Sclerotinia sclerotiorum is dié swam se formele naam: Die bekendste vorm waarin die swam deur baie produsente herken word, is die sogenaamde muismis of sclerotia. Hierdie struktuurtjie lyk regtig soos muismis en kan in ongesertifiseerde saad voorkom en kan selfs sommer so oop en bloot op die grond lê as die besmetting hoog is, of dit kan gesien word in die murg van die stam van ‘n plant wat verwelk het. Die muismis is geweldig gehard en kan vir jare in die grond oorleef – veral as dit nie diep ingeploeg word nie.

image

Die siekte kan aanleiding gee tot twee verskillende simptome. As van die spore wat deur die muismis vrygestel is op die blomblare van ‘n potensiële peul beland, kan die peul besmet raak en wit, wollerige swamdrade kan dikwels gesien word. Slegs enkele peule word aangetas en die hele plant vrek nie sommer nie. Die peulbesmettings kan egter as besmettingsbron dien wat kan aanleiding gee tot verdere verspreiding van die swam.

Sclerotinia het nie ‘n datum waarop dit voorkom nie en sal indien die patogeen teenwoordig is, klimaatstoestande gunstig is en daar ‘n besmettingsroete is, in enige van die maande tussen Desember en Maart kan ontwikkel.

Besmetting vind egter makliker plaas as die blaredak dig is, daar klam en koel toestande heers en die plante blommetjies afspeen wat aanleiding gee tot wondjies op die stamme van sojabone. Enige sojaboonkultivar is vatbaar vir hierdie siekte in ‘n mindere en meerdere mate.

Vatbaarheid van die kultivar vir die siekte word bepaal deur eienskappe soos digtheid van die blaredak (sondeurlatendheid), lengte van die tydperk waartydens daar blomme afgespeen word en die spoed waarteen peulontwikkeling plaasvind.

Sekere ultravinnige kultivars begin reeds blom op tussen 40 en 50 dae na-plant, waartydens plante nog relatief “klein” is en die blaredak nog nie ter sprake is nie. Bepaalde en semi-bepaalde groeitipe-kultivars in hierdie vinnige klas sal klaar blom in ‘n tydperk van nie langer as vyf tot tien dae nie. Kultivars met ‘n langer groeitydperk en wat beskik oor ‘n onbepaalde groeiwyse blom daarenteen gewoonlik oor ‘n periode van so lank as 25 tot 35 dae en beskik ook alreeds oor ‘n goed ontwikkelde blaredak.

Teoreties behoort ‘n ultravinnige kultivar wat beskik oor ‘n bepaalde, semi-bepaalde en selfs onbepaalde groeiwyse dus in staat te wees om Sclerotinia te ontwyk deurdat dit baie vroeg begin blom en mikro-klimaatstoestande onder die plante nog nie optimaal is vir die siekte om te ontwikkel nie. Langer groeiers met ‘n bepaalde groeiwyse sal ook vir ‘n korter tyd blootgestel word aan besmetting, want die blomtydperk is korter.

In Grafiek 1 word die opbrengs- en besmettingsdata wat verkry is, met verskillende kultivars in die 2009/2010-seisoen op Kinross in Mpumalanga, opgesom. Dit is uit die grafiek duidelik dat die twee ultravinnige kultivars (LS 6444 R – semi-bepaald en PAN 1454 R – onbepaald) geensins enige besmetting gehad het nie. Die twee bepaalde groeiers in die langseisoen-klas naamlik PAN 1664 R en PAN 737 het “minder” besmetting gehad as die onbepaalde groeiers in dieselfde klas.

image

Sumisclex-bespuiting

In dieselfde proef is daar gekyk na die invloed van ‘n Sumisclexbespuiting met blom en dit is duidelik dat sekere kultivars baatgevind het daarby – besmetting het afgeneem en opbrengs het gestyg.

Sumisclex SC is geregistreer vir die korrektiewe beheer van die siekte teen ‘n dosis van 1,5 liter tot 2 liter per hektaar; of teen 1 liter per hektaar, indien die benatter BreakThru bygevoeg word teen 0,05%. Toedienings moet gedoen word sodra die eerste tekens van besmetting voorkom.

As konvensionele spuitbalke gebruik word, moet die toediening in ten minste 500 liter water per hektaar geskied. Dit is raadsaam om die druk waarteen die toedienings gemaak word, te verhoog. Sodoende word die water en die produk in die plante ingeblaas en beter benatting van die stamme word verkry. Beheer word verbeter as kousbalkspuite gebruik word, omdat die spuitstof dan by die stamme kan uitkom. Die produk kan ook deur middel van die spilpunt toegedien word.

Om met ‘n vliegtuig bespuitings uit te voer om die siekte te probeer beheer, is ‘n mors van geld aangesien slegs die blare benat word en nie die stamme van die plante nie.

Die voordele van ‘n swamdodertoediening is meer as om net die verspreiding van die siekte in die bestaande oes te verhoed en opbrengs te beskerm. Neem in ag dat elke plant wat besmet raak, muismis (sclerotia) gaan produseer wat op en in die grond gaan beland as die aangetaste plant vrek. Dié muismis dien dan weer as ‘n bron van besmetting vir daaropvolgende gewasse.

Dit moet weer eens beklemtoon word dat alle kultivars vatbaar is vir Sclerotinia, maar as gevolg van sekere eienskappe van ultravinnige kultivars, kan dit goed aangewend word om Sclerotinia te ontwyk.

Indien daar byvoorbeeld in Januarie twee weke voorkom wat dit nat, koel en bewolk is en daar blommetjies is wat op die plant afspeen, is die kanse goed dat hierdie ultravinnige kultivars wel besmet sal word met Sclerotinia.

image

Hoe beland die siekte in my lande?

Dikwels kan die muismisstrukture gevind word in die saad wat teruggehou is en tydens plant word die muismis dan ook geplant – so tussen die ander sade. Omdat die swam soveel ander geskikte gasheerplante het, kan daar natuurlik sojabone geplant word op ‘n land wat ‘n oordragbesmetting van die vorige gewasse dra. As ons in gedagte hou dat die sclerotia verskeie jare in die grond kan oorleef, is dit hoogs waarskynlik dat baie van die siekteverskynings die oorsaak is van grondoordraging.

Meganiese verspreiding deur veral oestoerusting en masjinerie gee ook aanleiding tot die probleem.

Hoe kan die siekte beheer word?

  • Begin deur gesonde, hoëkwaliteit, gesertifiseerde saad, vry van sclerotia, te plant.
  • Aangesien baie breëblaaronkruide as gasheerplante vir die siekte kan optree, is goeie onkruidbeheer noodsaaklik. Kakiebos en opslagsonneblom moet vernietig word.
  • Soos reeds vermeld, word die sclerotia dikwels deur stropers vervoer en daarom moet lande waarin die siekte opgemerk is, laaste gestroop word.
  • Waar siekte voorgekom het, word aanbeveel dat oesreste verbrand word, of ten minste deeglik ingeploeg word. Grondmikrobes wat die sclerotia aanval en vernietig, kan sodoende ‘n bydrae lewer.
  • Wisselbou met gewasse wat nie so vatbaar is vir die siekte nie, soos mielies en sorghum, is ‘n moet. Dit help om die opbou van besmettingsmateriaal (inokulum) in die grond te verminder. Dié gewasse moet dan vir ten minste drie seisoene geplant word alvorens daar weer ‘n vatbare gewas, soos droëbone, sojabone of sonneblom, geplant kan word. Waar swaar uitbrake voorgekom het, word selfs aanbeveel dat aangrensende lande met nie-vatbare gewasse geplant word. Die lande tree op as “spoorvangers” en dan kan die spore nie verder ontwikkel nie.
  • Verbouingspraktyke moet van so aard wees dat die koel, vogtige mikroklimaat waarop Sclerotinia floreer, nie tussen die plante geskep word nie. Deur effens wyer rye te plant en selfs deur die rye van oos na wes te plant, sal die grond en plante bietjie vinniger droog word, wat kan help.
  • Plant op so ‘n wyse dat spuitbane oopgelos word tussen die rye, sodat spuitkarre gebruik kan word om bespuitings toe te dien sonder om die sojabone plat te trap.
  • Chemiese beheer is moeilik omdat die toediening geskied wanneer die plante reeds groot is. Waar dit wel gedoen word, moet die swamdoder in genoegsame water toegedien word om te verseker dat die onderste deel van die stamme benat word, want dit is waar die siekte voorkom en versprei. Sclerotinia is nie ‘n blaarsiekte nie, so dit help nie om net die blare met swamdoders nat te spuit nie.

Publication: February 2013

Section: Input Overview

Search