July 2011
Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder
Graan SA is al sedert 2009 besig om die rolspelers in die graanwaardeketting te oortuig dat dit vir hierdie land en vir voedselsekerheid nodig is om te weet hoeveel graan uitgevoer word. Ja, SAGIS verskaf maandeliks en selfs weekliks vir ons die historiese inligting, maar niemand weet kollektief hoeveel graan en oliesade is alreeds verkoop aan buitelanders en wat nog nie ons landsgrense verlaat het nie.
Met die mildelike mielie-oeste en toename in sojaproduksie die afgelope twee seisoene, het Graan SA en ander rolspelers hard aan die werk gespring om nuwe markte vir ons surplusse te vind. Produksie in ons tradisionele Afrika-markte het in so ‘n mate verbeter dat die meeste van ons uitvoere tans op diepsee-uitvoere (nie Afrika-lande nie) gefokus is. Die meeste van hierdie “nuwe” kliënte van Suid-Afrikaanse mielies, is nie klein kopers nie. Suid-Korea, Meksiko, Italië en Japan koop nie net ‘n bootvrag of twee per jaar nie.
Met dié dat ons mielies vir ‘n geruime tyd onder uitvoerpariteit verhandel, sal dit my nie verbaas as van hierdie lande alreeds groot hoeveelhede Suid-Afrikaanse mielies vasgemaak het nie. “Vasgemaak” meen in hierdie konteks “gekoop”, maar nog binne Suid-Afrika. Ons tel dit dan houtgerus maandeliks (korrek) by ons voorrade wat SAGIS publiseer en almal dink ons het genoegsame voorraad en voedselsekerheid is nie ‘n probleem nie. Meer nog, ons bemark al hoe aggressiewer om kopers na Suid-Afrika te lok wat ons “groot surplusse” moet kom koop.
Een van die eerste lesings wat ek gekry het met my toetrede tot die graanbedryf in 1985, was die storie van die “great grain robbery”. Dit was in die Koue Oorlogsjare toe die Russe een langnaweek op ‘n baie stil manier ‘n massa VSA koring by verskillende handelaars gaan koop het en toe die Amerikaners die Maandagoggend hulle oë uitvee, was bykans hulle hele oes opgekoop en in Russiese besit. Nodeloos om te sê dat die pryse oornag astronomies verhoog het. Dit het die VSA genoop om alle uitvoerders volgens wet te verplig om alle uitvoere, ongeag of dit die grense van die land verlaat het of nie, aan hulle Departement van Landbou te rapporteer.
Moet ons nou ook eers ‘n “grain robbery” beleef voor almal sal besef dat dit beter en tot almal se voordeel is om die inligting aan die mark deur te gee? Indien ons meer as 2,1 miljoen ton se mielies gaan uitvoer, behoort die prys met ± R1 000/ton te styg na invoerpariteit. Dit is ‘n ramp vir verbruikers, maar eintlik ook vir produsente, want ons het die afgelope nege maande die mielies byna verniet weggegee aan die Koreane, Meksikane, Japannese en Europeërs.
Dit kan egter ook ons redding wees, want dit sal die mark aanmoedig om meer te plant vir die komende seisoen. Hopelik, as ons die uit voerintensies vir almal publiseer, sal ons volgende jaar beter pryse kan kry. Ek wonder of die verbruikers weet hoe gelukkig hulle is dat die rand sterk is en terwyl mielies rekordpryse in die wêreld behaal, ons dit onder invoerpariteit aan hulle verskaf. Wel, daar is groot gevolge en risiko’s vir hulle, gegewe wat hier genoem is.
Ná twee jaar se “wolf, wolf” skree deur Graan SA, lyk dit of daar eers bloed moet vloei voor die skaapwagters (die staat in hierdie geval) gaan opstaan en hulle herderlike plig nakom. Kom nou, Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, neem op julle verantwoordelikhede deur maandeliks vir die mark te sê hoeveel “slots” al in die hawe geboek is vir die toekoms! Dit is in almal se belang.
Publication: July 2011
Section: Editorial