October 2011
PIETMAN BOTHA, SENIOR LANDBOUNAVORSINGSKUNDIGE, GRAAN SA
‘n Nuwe produksiejaar lê voor en vele produsent moet nou strategiese besluite neem oor die toekoms van sy boerdery. Die vraag kom onwillekeurig op: “Waarheen is ek met my boerdery op pad? Wat is die toekomsverwagtinge vir my huidige bedryf. Moet ek in die graanbedryf bly of moet ek na die veebedryf oorskakel en indien wel, hoe moet ek dit doen?”
In hierdie artikel word ‘n vergelyking tussen ‘n paar verskillende stelsels vir ‘n hoë produserende en laer produserende gebied getref. In ‘n produksiestelsel is alle vertakkings aan mekaar gekoppel en sekere gewasse sal as gevolg van wisselbou-effekte bevoordeel word terwyl ander benadeel word.
Verskillende mielieverbouingstelsels
Om die effek van wisselbou vir eers uit die prentjie te hou, word daar gefokus op die effek van verskillende mielieverbouingstelsels en om dit te vergelyk met ‘n mielie-veestelsel.
Die stelsels wat in hierdie artikel van naderby bekyk en vergelyk word, sluit ‘n plaas in wat met:
In die monokultuurstelsel word al die lande jaar op jaar met mielies beplant. Geen lande in die stelsel lê ooit braak nie. In die 50% russtelsel word daar net op 50% van die lande geplant en daar word net op braaklande geplant waar die vog die vorige jaar opgeberg is. Die braaklande word gedurende die jaar chemies en meganies skoongehou.
In die 33% russtelsel word 66% van die lande met mielies beplant en 33% van die lande lê braak. Die helfte van die mielies word op oorlêlande geplant waar vog opgegaar is en die ander helfte word op die vorige jaar se mielielande geplant.
Die weidingstelsel is ‘n stelsel waar permanente aangeplante weiding op van die lande gevestig word en waar ‘n gedeelte jaarliks teruggeskakel word na mielies. Ten einde die hoeveelheid weiding konstant te hou, word ‘n ander mieliegedeelte weer omgeskakel na permanente weidings.
Mielies word vir drie jaar verbou, waarna dit weer na permanente aangeplante weiding omgeskakel word. Die permanente weiding word hoofsaaklik deur vee benut, maar ‘n gedeelte word aangewend om hooi te vervaardig.
Winsgewendheid is nie die enigste bepalende faktor of ‘n stelsel sal werk of nie. Die plaas se hulpbronne asook die produsent se belangstelling speel ‘n rol in die besluit wat geneem word. Die hoeveelheid kapitaal wat elke stelsel benodig, sal ook verskil en produsente moet ‘n volledige studie maak voor so ‘n besluit geneem kan word.
Tydwaarde van geld-beginsel
Die tydwaarde van geld-beginsel moet in aanmerking geneem word om stelsels wat oor meer as een jaar strek met mekaar te vergelyk. Die huidige waardemetode is ontwikkel om stelsels wat oor meer as een jaar strek met mekaar te kan vergelyk.
Die tegniek kom daarop neer dat toekomstige inkomstes en uitgawes gelyk gestel word aan huidige waardes. Dit word gedoen deur toekomstige inkomstes en uitgawes terug te verdiskonteer na ‘n huidige waarde.
Op dié manier word seker gemaak dat ‘n rand wat jy vandag verdien, meer werd is as ‘n rand wat môre verdien word. In hierdie ontleding is die stelsels vir vier jaar laat loop en toe terug verdiskonteer na die huidige waarde.
Die kritiese rentabiliteit is gelykgestel aan die nabelaste geweegde gemiddelde koste van kapitaal wat gebruik word om toekomstige inkomstes en uitgawes mee te verdiskonteer.
Die inligting wat gebruik is om die nabelaste geweegde gemiddelde koste van kapitaal te bereken, word in Tabel 1 getoon.
Die inligting, soos gebruik in die stelselvergelykings, is verkry vanaf produsente en is aangepas met die 2011/2012 begrote inligting. Ten einde die kontantvloei te optimeer, word aanvaar dat die saaikoste twee keer toegedeel word, naamlik 55% gedurende Desember en 45% gedurende April.
Daar is voorsiening gemaak om die oorlêlande vyf keer skoon te maak en die koste is ook so verdeel. Die weiding se uitgawes is aan die begin van die seisoen toegedeel en daar word aanvaar dat alle inkomste gedurende Junie verkry word en dit is so aangeteken. Dié inligting vorm die kontantvloei om die netto huidige waarde te bereken.
In Tabel 2 word die direkte allokeerbare koste, opbrengste asook die graanpryse vir elke stelsel getoon. Die effek van klimaat en inflasie is buite rekening gelaat en dus word aanvaar dat die mielies elke jaar dieselfde produksie handhaaf en dat die produksiekoste dieselfde bly.
Die volgende aannames word oor weidingstelsels gemaak:
Tabel 3 toon die resultate van die ontledings.
Volgens Tabel 3 is dit duidelik dat daar nie groot verskille in die winsgewendheid van die stelsels is nie. Dit wil voorkom of die 33% russtelsel dalk ‘n bietjie beter presteer as die ander stelsels. Uit hierdie inligting is dit duidelik dat ander aspekte soos risiko, kapitaalbenodighede, bedryfsverwagtinge en talle ander ’n groter rol sal speel as wat die winsgewendheid van die stelsels reflekteer.
In die laer produserende streke waar die winsgewendheid van die saaivertakkings meer onder druk is, sal die situasie ander vereistes aan die optimale stelsel stel.
Ten einde die laer produserende streke te vergelyk, is die volgende stelsels en aannames, soos in Tabel 4 uiteengesit, gebruik.
In Tabel 4 word die praktyke vir die laer potensiaalstreke aangedui. Die direkte allokeerbare koste, opbrengs asook die graanpryse vir elke stelsel word getoon. Dieselfde aannames vir die weidingstelsel is aanvaar soos by die weidingstelsel in die hoë produserende gedeeltes.
Tabel 5 toon die resultate vir die laer potensiaalstreke.
Tabel 5 toon ook dat daar nie groot verskille in die winsgewendheid van die stelsels is nie. Dit wil voorkom of die 50% russtelsel dalk ‘n bietjie beter presteer as die ander saaistelsels. Wat egter uitstaan, is die veestelsels wat beter presteer. Teen ‘n hooi-opbrengs van 2,55 ton/ha, breek die weidingstelsel gelyk met die 50% russtelsel.
Vaste koste
Vaste koste varieer tussen die verskillende stelsels. Een van die hoofredes hiervoor is die hoeveelheid trekkers benodig. Hoe minder lande bewerk word, hoe beter kan die trekkers aangewend word en kan aksies binne die optimale tyd gedoen word.
Daar is ook groot verskille tussen die hoeveelheid bedryfskapitaal wat die verskillende stelsels benodig. Die veestelsels benodig heelwat meer bedryfskapitaal as die landestelsels omdat vee gebruik word om die weiding in geld te omskep.
Onthou
Moenie te vinnig probeer omskakel van een stelsel na ‘n ander nie. Probeer om in jaar een nie meer as 10% om te skakel nie. In jaar twee kan 20% omgeskakel word en daarna kan groter omskakelings gedoen word.
Wat die veestelsels betref, sal die kontantvloei die bepalende faktor wees. Hier sal elke individu sy eie strategie moet bepaal.
As ons alles saam vat, staan die volgende uit:
Vir meer inligting, skakel gerus vir Pietman Botha by Graan SA by (056) 515-2145.
Publication: October 2011
Section: Wenartikels