September 2010
Dr Kobus Laubscher, Hoofbestuurder
Die gemene deler in die mieliebedryf as die leiergraan in die Suid-Afrikaanse graanmandjie, is lae pryse en die verwagte impak wat dit kan he op volhoubaarheid. In hierdie rubriek is daar al breedvoerig berig en geargumenteer oor die beste strategiee om volhoubaarheid te komplementeer, maar die gebrek aan dringendheid met antwoorde, bly opvallend.
Sedert die omvang van die huidige mielie-oes wat by wyse van verskerpte dalings in produsentepryse duideliker geword het, is Graan SA op alle moontlike terreine in gesprek met belanghebbendes, waarvan die vernaamste sekerlik die regering is.
Stadig maar seker is daar gevorder met die verstaan van wat die probleem is en dat unieke oplossings bedink moet word. Die pas van verstaan was egter in baie opsigte nie vinnig genoeg om ‘n impak op produksiebesluitneming te he nie. Afdoende bewys bestaan dat die regering van die dag, ten spyte van sy openbare steun ten opsigte van die belangrikheid van die sektor, begrip oor die ritme van landbou ontbreek. Besluite word nog te laat geneem en hoewel dit kan dui op ‘n bepaalde politieke moedswilligheid, is daar bepaald ander redes vir die gebrek aan begrip – ‘n voorbeeld hiervan is die laat aankondiging van die invoertarief op koring.
Dit is egter nou duidelik dat die sogenaamde “mieliekrisis” oor ‘n wye spektrum besef en verstaan word en daarmee is ‘n kollektiewe soek na ‘n oplossing besig om te ontwikkel. Ongelukkig bly die markte dinamies en beleidmakers moet aanpas by die bekende gesegde van “make the road by walking”. Die werklikheid kan nie tot stilstand gebring word om dit beter te verstaan nie. Bedink planne en oplossings terwyl die besigheid aangaan!
Die graanbedryf in Suid-Afrika is by ‘n kruispad en kan bepaald beskryf word as buitengewoon onseker. Lae pryse kan nie net aan ooraanbod toegeskryf word nie, want daardeur sal die afwaartse druk weens die aanbod, oorstateer word. Die antwoord oor die medium en lang termyn le in die ontwikkeling van die vraag na grane, maar dan op ‘n meer verbeeldingryke en onkonvensionele manier.
Invoervervanging en nuwe aanwendings is die enigste manier waarop vraag geskep kan word vir produsente om teen te presteer. Suid-Afrika se landbou is soos enige ander land met vergelykbare omstandighede steeds afhanklik van die weer; en die impak van die droogte in Rusland moet as ‘n vroee waarskuwing dien. Daar kan nie vergeet word van periodieke droogtes nie, maar wat van belang is, is die sektor se vermoe om aan te pas by veranderde omstandighede.
In hierdie verband bestaan daar afdoende bewys dat tegnologie en bestuurskundigheid dermate gevorder het dat produsente bykans deurlopend in staat sal bly om te voorsien aan binnelandse vraag en selfs meer. Prysbewegings wat ‘n ander oorsprong het, moet dus nie hierdie vermoe om te kan aanpas, inhibeer nie. Derhalwe die pogings om die produksiekapasiteit ten opsigte van somergrane, te beskerm – Suid-Afrika moet paraat bly om te kan voldoen aan normale vraagveranderinge.
Die huidige vraag en aanbod-situasie in die mieliebedryf sit beleidstoepassing deur sy passies! Die belangrikste beleide wat sedert 1994 gestalte gekry het, kan nou eers getoets word en bepaalde leemtes is reeds uitgelig. Dit is dus noodsaaklik dat die toekoms van die bedryf, en dit wat daarop kan inwerk, intyds verdiskonteer en in veranderde beleid vasgele word. Die lang termyn is dus dringender as wat baie wil toegee. Die luukse van een of ander nuwe more met hoe pryse in die toekoms, sal net realiseer as daar nou hard gewerk word aan unieke oplossings. ‘n Pragmatiese benadering tot die probleem bly die aangewese, maar dat die mark eers gestabiliseer moet word, is voor die hand liggend.
‘n Vermindering in die verhandelbare voorraad mielies in die binneland is die aangewese vertrekpunt om die werkbaarheid van ander oplossings moontlik te maak. Beperk dus die langtermyn beplanningshorison tot die komende plantseisoen.
Publication: September 2010
Section: Editorial