September 2014
JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO
Wanneer jy in Londen op die ondergrondse treine ry, is daar oral kennisgewings op en selfs aankondigings oor 'n openbare luidsprekerstelsel om versigtig te wees vir die gaping tussen die perron en die trein. Vandag wil ek die aandag vestig op ander gapings.
Die eerste is die gaping in ons navorsingsgeledere tussen die ou gesoute navorsers en die nuwe opkomende navorsers. Die ouer garde is so tussen vyf en agt jaar van aftrede af en die jongeres het so tussen vyf en agt jaar ervaring in die veld. Ons het heelwat in die bedryf gedoen om met behulp van beurse, die onderste gapings op te vul, maar daar is nie juis oplossings om die gaping tussenin te vul nie.
Net die ander dag het dr Cobus le Roux (algemene bestuurder: LNR-Veldgewasdivisie) gespog dat die huidige aantal personeel met doktorsgrade die meeste is wat nog ooit by die Instituut op Bethlehem werksaam was. Dit is bemoedigend!
Dit is egter ook waar dat ons ten spyte daarvan nog nie op die standaard is waar die LNR 20 jaar gelede was nie. Graan SA is tans hard aan die werk om juis hierdie gaping oor die mediumtermyn aan te spreek. Daar is baie opwindende nuwe planne ten einde navorsingskapasiteit en -kwaliteit vir die toekoms te verseker.
Die LNR sal deel wees daarvan, maar nuwe gedagtes en nuwe vennootskappe is beslis nodig. Hierdie werk is nie aldag so sigbaar bo die oppervlakte nie, maar agter die skerms woel dit.
Die ander gaping waaroor ek iets wil sê, is die gaping tussen invoer- en uitvoerpariteit as dit by mielies kom. Hierdie gaping maak selfs die beleidmakers in die land senuagtig. Ten spyte van die land se potensiaal om jaarliks surplusse te produseer, is daar steeds staatsamptenare wat bekommerd is dat ons te veel sal uitvoer en die pryse aan verbruikers, van uitvoerpariteit na invoerpariteit sal laat styg.
Hierdie gaping verteenwoordig maklik ‘n 50%-styging in mieliemeel en mieliegebaseerde produkte. Dit is groot genoeg om enige politikus die ritteltits te gee, ongeag die grootte van die meerderheid waarmee die verkiesing gewen is. Hierdie gaping is die verskil tussen voedselsekerheid en ‘n ramp. Daar is heelwat faktore wat hierdie gaping beïnvloed, maar ek kan julle verseker daar is meer as net ‘n paar hoenderboere wat dit dophou.
Laastens wil ek iets sê oor die gaping tussen die mandaat van die Land Bank en die kommersiële banke. Dit was met groot teleurstelling dat ons moes aanhoor dat die Land Bank nie aptyt het vir produksielenings aan ons nuwe-era kommersiële boere nie. Hierdie lede van ons het nie titelaktes van die grond waarop hulle boer nie en is blykbaar te veel van ‘n risiko.
Ek het nog altyd verstaan dat die mandaat van die Land Bank ontwikkeling is. As die gaping tussen hulle en die kommersiële banke so nou word, weet ek nie waarom die staat in die bankwese moet wees nie.
Intussen is daar baie interessante instansies wat in hierdie gaping inbeweeg. Insetverskaffers soos Monsanto, Omnia, John Deere en Old Mutual het almal bykans oornag in dié gaping ingehardloop en is besig om ons nuwe-era kommersiële boere te finansier. Is die vrye mark nie wonderlik nie? Hou hierdie gaping dop!
Miskien moet ek afsluit met die bekendste gaping wat ons almal so goed ken en wat na aan ons bedryf is: “Van die hand na die mond, val die pap op die grond.”
Dit is ‘n waarskuwing vir ons almal om te eerbiedig as ons voedselsekerheid in hierdie land wil handhaaf. As ons nie die gapings mooi dophou en werk daarvan maak om dit te vul nie, sal die volgende geslag ons beslis kwalik neem.
Publication: September 2014
Section: Features