• Login
  • Search Icon

Leiers vereer vir uitnemende leierskap in graanindustrie

November 2014

RUTH SCHULTZ, SA Graan/Grain medewerker; Foto's: HELENUS KRUGER

Graan SA het vanjaar ‘n inspirasietoekenning en drie spesiale erkennings by die Graan SA toekenningsfunksie gemaak aan diegene wat uitnemende bydraes tot die graan industrie gemaak het.

Die inspirasietoekenning het vanjaar gegaan aan die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) as blyk van waardering vir die voortdurende bydraes wat hulle tot die graanindustrie lewer en omdat hulle toenemend buitengewone resultate bereik en die industrie inspireer om meer kompeterend te wees in sy verbintenis tot uitnemendheid.

Spesiale erkennings

As hoogste eerbetoon het Graan SA vir mnr Neels Ferreira vereer vir sy visie en uitnemende leierskap, plaaslik en internasionaal, in belang van alle graan- en oliesadeprodusente van Suid-Afrika.

“Graan SA het my wêreld vergroot. 14 van die 17 jaar wat ek betrokke was by dié organisasie was ek óf voorsitter óf visevoorsitter. Een ding het ek geleer en dit is dat jy jouself moet omring met smarter mense as jyself. Ek is baie trots op Graan SA – hou aan om die regte dinge te doen,” het hy gesê. Hy het vir sy vrou, Ina, dankie gesê dat sy hom toegelaat het om te kon doen wat vir hom belangrik is.

“Ek glo vas dat wanneer jy oor dinge in die verlede praat, word jy die verlede. Ons moet oor die toekoms praat. Ek vra julle as toekomsleiers om ‘n nasie en ‘n land te bou waarop ons kinders sal trots wees. Kom ons kry politiek uit landbou. Ons is nie op die aarde geplaas vir ons eie glorie nie.

“Tweedens benodig leierskap dapperheid. Hier wil ek dit vergelyk met die migrasie van die blouwildebees in die Serengeti. Op hul reis na groener weivelde moet hulle riviere oorsteek, wat hulle nie weet hoe diep dit is of watter gevare dit vir hulle inhou nie, maar hulle weet dit is beter aan die ander kant.”

Wyle mnr Gert Pretorius is vereer vir sy leierskap ten tyde van die eenwording en stigting van Graan SA. Sy uitnemende bydrae tot veral die oliesadebedryf, plaaslik en internasionaal, word met hierdie toekenning erken. Pretorius se seun, Willie, het die toekenning in ontvangs geneem en ‘n pragtige boodskap oor sy pa gelewer.

“Dit is ‘n voorreg om hierdie toekenning namens my oorlede pa te ontvang. My pa was 'n lojale en passievolle persoon. Familie en boerdery was twee van sy grootste passies. Hy het geglo dat die enigste manier vir landbou om suksesvol te wees in ‘n onvriendelike omgewing, is deur georganiseerde strukture wat produsente bymekaarbring om kollektiewe en proaktiewe besluite te neem en daarvolgens op te tree.

“Hy het die vermoë gehad om te organiseer en hy was deel van ‘n hele paar georganiseerde landbou-organisasies. Ek dank ons Hemelse Vader vir die tyd wat Hy hom vir ons gegee het asook die vermoë wat Hy ons pa gegee het om te kon lei. Dankie ook vir Graan SA vir die tyd wat my pa by dié organisasie kon betrokke wees – my pa het gelewe vir Graan SA. Hy sou baie trots gewees het op hierdie toekenning. Graan SA was ‘n groot deel van Gert Pretorius.”

Mnr Fanie van Zyl is vereer vir sy leierskap op die Graan SA Dagbestuur en as voorsitter van die Ouditkomitee van Graan SA; vir baanbrekerswerk rakende die vestiging van beste bestuurspraktyke asook die ontwikkeling van beleide en prosedures vir Graan SA.

Dissipline en spaarsamigheid is in sy bloed. “Oral waar ek betrokke was, was die elemente van goeie bestuur altyd voorop gestel. Goeie bestuur moet ‘n gewoonte raak en ek reken Graan SA het daarin geslaag. Louw en Jannie, my beste wense vergesel julle vir die res van Graan SA se bestaan.”

image

Publication: November 2014

Section: Grain SA

Search