• Login
  • Search Icon

LANDBOU SE DAGMOEDER

September 2013

image

September is die begin van ‘n nuwe seisoen vir dié van ons wat in die Suidelike Halfrond woon. Vir die wintergraanmanne en -vroue is dit ‘n tyd van oes wat gesaai was en vir die somergrane is dit die inleiding tot planttyd.

Die stowwerige, vuil, bruin en swart verbrande dele word weer skoongewas deur donderbuie en al die ou “gemors” van die winter word weer nuut. Dis ‘n mooi tyd van die jaar; selfs ‘n goeie tyd om weer ‘n opname te doen van waar jy in jou persoonlike lewe staan met die doelwitte wat jy vir jouself gestel het en om net weer te kyk of jy nog goed op pad is.

Die lente is ook dikwels die inspirasie om nuwe dinge aan te pak. Ek wil jou aanmoedig om veral weer bestekopname te doen oor jou verhoudings en dan die besluite uit te voer of te implementeer soos jy jouself in jou hart voorneem.

Teen einde Julie vanjaar het ek ‘n interessante belewenis gehad wat ek graag wil deel. Ná ‘n baie moeilike en vol week het ek my in een van die Reserwebank se raadsale bevind. Rondom my was velerlei landbouleiers.

Die geleentheid was een waar die goewerneur van die Reserwebank, me Gill Marcus, die sektor se leiers genooi het vir ‘n oop gesprek oor die rol van landbou in die ekonomie. Agri SA het ‘n aanbieding gedoen oor hoe ons as sektor na onsself kyk en wat ons sien. Daarna het Marcus die manne en vroue om die tafel kans gegee om kommentaar en insette te lewer.

Ons ken mekaar al so goed dat ons presies geweet het wat elkeen gaan sê. So hier en daar was daar darem ‘n paar nuwe, vars sake na aanleiding van nuwe omstandighede in en om ons. Ons het oor ernstige sake gepraat: Voedselsekerheid, grondhervorming, mynwese se impak op landbou, toegang tot finansiering en oor die plaaslike en internasionale markte. Dan weer oor tekorte aan dienslewering en infrastruktuur; asook veiligheid op plase. Daar is ook openlik oor arbeid sake gesels. Ons het al hoe meer entoesiasties begin deelneem en so het ons vrymoedigheid ook toegeneem om ons harte as landbouers te sit en uitpraat.

Dit is juis hier waar ek toe besin en begin wonder oor wat hier aan die gebeur is. Me Marcus is nie ‘n minister en politieke figuur nie. Sy val niemand in die rede nie. Sy luister! Haar mandaat strek nie so ver as dit wat ons op die tafel sit nie, maar sy luister met ‘n simpatieke oor – iets wat nie aldag gebeur nie.

Sy maak ook nie beloftes in haar kommentaar wanneer sy reageer nie. Sy identifiseer ons probleem sommer gou en ons eens groeiende entoesiasme daal skielik as ons na onsself deur haar bril kyk; dan sien ons weer daardie eens bekende, maar ongewilde prentjie raak: Daar is nie vertroue tussen ons as landbouers en die politieke leiers van ons land nie.

Vir ‘n oomblik het ons in ‘n beswyming verval van hoe dit sal wees om na geluister te word.

Met die terugry het ek weer oor die vergadering nagedink en aan die beeld gedink wat ons dikwels hier in die groot stad sien. Dit is die konsep van ‘n dagmoeder. Dit is nou dié dames wat bedags na die kleuters omsien wie se ma’s werk. Gill Marcus het ons op haar skoot getel, na ons storie geluister, spoeg opgesit, ‘n soentjie gegee en toe ‘n pleistertjie opgeplak en ons vertel om maar weer daar buite te gaan speel en versigtig te wees dat ons nie seerkry nie. Vanaand as ons regte ma kom, dan gee sy ons oor aan haar. Dié ma van ons wat so besig is dat sy nie tyd het om te luister en salfies op te sit nie. Dié een wat self moeg is en ander prioriteite het en nie nou kan help nie, want sy is te besig met kosmaak en om haar werk te doen wat sy huis toe gebring het en dan is daar ook nog die tyd wat sy aan Pa moet spandeer.

Ek wil egter afsluit met ‘n tweede gewaarwording, en dít is die vordering wat ons in eenheid oor rasgrense heen as produsente gemaak het. Toe een van die swart produsente begin deur te sê sy grootste probleem is misdaad, het ek besef dat ons nou almal produsente is en wat vir die een geld, geld net soveel vir die ander.

Met ‘n ma wat werk en ‘n dagmoeder wat versorg (al is dit net emosioneel) het ons produsente nader aan mekaar beweeg en dit gee my hoop vir die nuwe seisoen wat voorlê: ‘n Seisoen, menende ‘n periode, en nie net drie maande nie.

image

Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder

Publication: September 2013

Section: Editorial

Search