October 2017
Die huidige seisoen is ‘n strawwe een in die Swartland. Waar Andries Theron in ‘n normale jaar gewoonlik ongeveer 380 mm reën kry, het dit hierdie jaar nog net 119 mm gereën.
“My seun vra my: Hoe nou gemaak? Hierdie is nie die eerste droogte wat ons beleef nie – ons het al ‘n klompie sulke jare gehad. Ons ouer boere moet nou die jonger boere moed inpraat,” gesels die voorsitter van Graan SA se Wintergraanwerkgroep en voormalige visevoorsitter van die organisasie.
“Onthou, jy is nie alleen in dié situasie nie. Praat met jou bure; praat met jou gesin. As jy jou probleem met iemand deel, bly net die helfte van die probleem oor. En gaan genoeg met vakansie. Nou wonder jy seker hoe ek so-iets kan sê? Hoe kan ‘n mens in só ‘n tyd met vakansie gaan? Dit is eenvoudig: Dit is maklik om nou negatief te raak. Die droogte beïnvloed jou denke; jy raak depressief en neerslagtig en dít is uiters gevaarlik – kom dus uit jou omgewing,” stel Andries voor.
“Jy moet die droogte vierkantig in die oë kyk en aangaan. Bestuur dit sodat jy volgende jaar weer kan plant en kan voortgaan. Glo in jou Skepper – Hy sal nie ‘n venster toemaak sonder om êrens ‘n deur vir jou oop te maak nie. Glo en vertrou op Sy bystand,” benadruk Andries.
Uitdagings van ‘n pa-en-seunboerdery
Andries boer die afgelope ses jaar saam met sy seun, Frikkie (31). In ‘n pa-en-seunboerdery is daar gewoonlik heelwat kopstampgeleenthede, maar in hulle geval was die uitdagings van saamboer anders.
“Ek was nie in die week by die huis nie en het die boerdery van ‘n afstand af bestuur – ons was nie heeldag in mekaar se hare nie. Frikkie is redelik aan die diepkant ingegooi en hy moes vroeg al verantwoordelikheid vir sy besluite neem.
“Dit is vir my altyd interessant om te sien hoe mense aan mag vasklou. As jou seun op 32 of 35 nog nie verantwoordelikheid vir die boerdery kan aanvaar nie, gaan hy dit nie op 40 hê nie en ook nie op 50 nie,” meen Andries. “Dit is vir my ‘n voorreg om dít wat ek bymekaar gemaak het, aan my seun te kan oordra.”
Andries is deesdae meer betrokke by die bestuur van die boerdery en gee advies (volgens hom soms ongevraagd!) terwyl Frikkie verantwoordelik is vir die praktiese uitvoering van die boerderytake. Andries self fokus meer op hul skaapboerdery en geniet dit ongelooflik.
Op my vraag oor watse raad hy vir pa’s en seuns het wat saamboer, antwoord Andries: “Wees ‘n mentor – gee leiding waar nodig. En die seun moet weer na sy mentor luister. Jy gaan foute maak. Dit is nie óf jy ‘n fout gaan maak nie; dit is hoe jy daarna opstaan. Wat het jy geleer? Moet dit nie herhaal nie. Bou daarop vir die toekoms. “Ons as ouers moet ons kinders só toerus dat hul kan opstaan en aangaan na die foute wat hulle gemaak het,” gee hy raad.
Bewaringslandbou
Sedert 2002 het Andries begin om geenbewerkingspraktyke toe te pas. “Voor dit het ons al begin met verminderde bewerking. In 2003 het ek ‘n gedeelte van my grond konvensioneel bewerk en op ‘n gedeelte geenbewerkingspraktyke toegepas. Die praktyk het ‘n ongelooflike verskil aan die grond gemaak. Sedertdien pas ek net geenbewerking toe,” vertel Andries.
“Ons woon in ‘n gedeelte van die land waar droogte nie vreemd is nie. Bewaringslandboupraktyke maak definitief dat ‘n mens die droogte makliker kan hanteer. Ek voel jammer vir ouens in die Wes-Kaap wat dit nog nie toepas nie. Die kosteknyptang sou my al ‘n hele paar jaar gelede uit produksie gehaal het as ek nie bewaringslandbou begin toepas het nie. Ons grondvrugbaarheid het toegeneem, opbrengste het verhoog en bewerkingskoste het afgeneem,” verduidelik Andries.
Hy beklemtoon egter dat elke produsent ‘n bewaringsbewerkingstelsel moet vind wat by sy spesifieke omstandighede pas. “Elkeen se grond en plaas in uniek – daar is nie ‘n enkele stelsel wat almal pas nie.”
Verder speel wisselbou ‘n belangrike rol in die boerdery. “Ek het in 1996 laas monokultuurkoring geplant. Vandag bestaan ons wisselboustelsel uit medics/ koring/peulgewasse/ koring. Ons het die afgelope paar jaar ook begin om kanola in die stelsel in te bring (10% van ons grond word onder kanola verbou) en dit pas perfek in by ons boerdery.”
Andries-hulle was verlede jaar ook een van vier produsente in die Swartland wat vir die eerste keer gars geplant het. “Ons moet kyk na alternatiewe vir koring en gars is ‘n manier om nog ‘n gewas in jou toolbox te kry. Dit is ander chemikalieë wat op gars gebruik word en dit lewer ‘n bydrae met onkruidbestuur en onkruiddoderweerstandsbeheer.”
Met dié dat geenbewerking ingespan word, moet chemiese bespuiting effektief toegepas word. “Dit is ‘n uitdaging om weerstandigheid te voorkom en die beskikbaarheid van nuwe chemie te beskerm.”
Weerstandbiedende raaigras is ‘n groot probleem in die Swartland en volgens Andries is dit duur om effektief te beheer. Die effektiwiteit van beheer hang van die voor-opkomsonkruiddoders af – asook van beskikbare grondvog. “Die middels moet oordeelkundig gebruik word, want daar gaan nie gou nuwe chemikalieë beskikbaar wees nie,” waarsku hy.
Presisieboerdery en rekordhouding
Andries-hulle is in die proses om presisieboerdery oor die volgende drie jaar in hul boerdery in te faseer. Akkurate rekordhouding is volgens hom kritiek belangrik. “Jy gaan nie weet as jy nie meet nie. Jy moet weet hoe jou kostestruktuur lyk, anders kan jy dit nie bestuur nie en dit sal fataal vir jou boerdery wees.”
Georganiseerde landbou
Andries se pa was ook al die jare betrokke by georganiseerde land- bou en Andries het in sy voetspore gevolg. “Koringberg, die gemeenskap waar ek boer, het my destyds gehelp toe ek begin boer en dit swaar gegaan het. Ek wou graag terugploeg in die gemeenskap.” Hy het by die boerevereniging aangesluit, later betrokke geraak by die distriksboerevereniging en uiteindelik by Agri Wes-Kaap.
Na die deregulering van die koringbedryf het hy betrokke geraak by die Wintergraanprodusente-organisasie (WPO). Hy was intens betrokke by die herstrukturering van die koringbedryf en was passievol teen die liggingsdifferensiaal gekant. Hy vertel laggend dat hy destyds vir verkiesing tot Graan SA se Hoofbestuur gestaan het omdat hy gedink het hy gaan “gou ontslae raak van die liggingsdifferensiaal”, maar vandag – amper twaalf jaar later – is hy steeds by die organisasie betrokke.
Andries is in 2006 tot Graan SA se Hoofbestuur verkies en in 2010 tot visevoorsitter van die organisasie. Hy het in Maart vanjaar as visevoorsitter uitgetree, maar dien steeds op die Hoofbestuur as gekoöpteerde spesialisverteenwoordiger vir wintergrane.
Hy het aanvanklik by die Proteïennavorsingstigting (PNS) betrokke geraak om kanola as volwaardige kontantgewas gevestig te kry. Vandag is hy ondervoorsitter van die PNS en geniet hy die rol wat hy daarin speel verskriklik. Verder is hy ook betrokke by die Wintergraantrust en sê dat dit veral ‘n uitdaging is om alternatiewe modelle vir die befondsing van nuwe kultivars te ondersoek. Hy is besonder trots op die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse agentskap vir kultivar- en tegnologie-ontwikkeling (SACTA) – en dien ook daar as voorsitter.
Koringomdraaistrategie
“Die koringomdraaistrategie het oor tyd plaasgevind en het ten doel om die volhoubaarheid van koringproduksie – en natuurlik koringprodusente – in Suid-Afrika te verseker.
“Die bedryf het vir lank op kwaliteit gefokus en ons het nagelaat om ‘n balans tussen kwaliteit en opbrengs te handhaaf. Dit het veroorsaak dat ons in ‘n swak mededingende posisie verval het. Nuwe toetreders, soos die Swartseelande, het begin om ‘n fenomenale rol in wêreldhandel te speel en ons moet met hulle in die wêreldmark kompeteer. Ons het daarom by ‘n punt gekom waar ons opbrengste kompeterend met die res van die wêreld s’n moes wees en die gradering van koring aangespreek moes word.
“Die speelveld moet net gelyk wees met ‘n geleentheid om kompeterend met ander lande mee te ding. Ons kan nie kompeteer met die subsidies wat oorsese produsente ontvang nie en het ‘n tarief nodig om ons te beskerm,” benadruk hy.
Graan SA en die pad vorentoe
“Dit is fantasties dat daar ‘n organisasie soos Graan SA is. Ja, heelwat mense kritiseer Graan SA, maar wat gaan gebeur as Graan SA uit die speelveld geneem word?
“Die regering van die dag is ‘n realiteit en Graan SA moet sy verhouding met die regering uitbou om produsente se posisie by hulle te stel. Die organisasie moet aanpas by die regering se manier van onderhandelings en gesprekvoerings en Graan SA is reg geposisioneer om dít te kan doen. Graan SA se rol gaan in toekoms heelwat groter word as dít waaraan ons gewoond is. Die organisasie het uitstekende leiers en ek sien uit na die pad vorentoe saam met hulle,” sê hy.
Andries glo ons gaan nog tot en met die volgende verkiesing unieke uitdagings in die land beleef. Hy probeer egter om die mense om hom positief te hou. “As jy negatief is, gaan geleenthede by jou verby.”
Hy is positief oor hul boerdery se toekoms. “Jy hoef nie altyd horisontaal uit te brei en jou boerdery groter en groter te maak nie. Jy kan vertikaal ook uitbrei in waardetoevoeging. Raak betrokke in die waardeketting of belê daarin. Beperk ook jou risiko – moenie alles wat jy het net in jou boerdery belê nie.”
Maar is daar ‘n toekoms vir jong boere in Suid-Afrika? Hieroor voel Andries ernstig. “Ek is baie positief daaroor ondanks al die uitdagings. Dit is my en my ouderdomsgenote se plig en verantwoordelikheid om die gemors wat tans in die land gebeur, uit te sorteer sodat ons vir ons kinders ‘n toekoms kan nalaat in hierdie pragtige land van ons en in boerdery.
“Dit het ‘n kultuur onder ons mense geword om ‘weg te raak’ – te onttrek. Ons bou ‘n figuurlike hoë heining om ons plaas en kruip daar weg, maar ons moet meer betrokke raak en het ‘n verantwoordelikheid om vir ons nageslag ‘n toekoms te skep. Raak betrokke en neem deel en maak mense wat dit kán doen se hande sterk. Dit is hoekom ek doen wat ek doen,” sluit hy af.
Publication: October 2017
Section: Focus on