• Login
  • Search Icon

KWALITEIT VAN INSETTE – benader aankope só

October 2018

Dit is weer sulke tyd: Tyd vir die aankoop en toediening van insette. Produsente spandeer jaarliks miljoene rande aan produksie-insette. Waarom dan kanse vat met die kwaliteit daarvan?

Graan SA staan jaarliks sy lede by om ondersteuning te verleen met die beslegting van insetdispute, waar die kwaliteit van insette skade aan die lid se oes veroorsaak het. Die afgelope seisoen was weer eens ’n bewys daarvan toe heelparty inset-uitdagings by Graan SA aangemeld is. 

Wenke vir die aankoop en gebruik van insette 
Die gebruik van ongetoetste insetmiddele en die aankoop van insetmiddele by onbekende verspreiders, stel produsente jaarliks aan groot risiko’s bloot. Let op die volgende wenke wanneer insetmiddele aangekoop en gebruik word:

  • Maak seker dat die insetverskaffer ’n erkende maatskappy is met ’n bewese rekord.
  • Sorg dat alle aanbevelings sover moontlik op skrif gestel en veilig bewaar word.
  • Hou rekord van alle aankope.
  • Gaan die kwaliteit van die insetmiddel na.
  • Wanneer saad behandel word, moet dit deur die saadmaatskappy self of met gesertifiseerde saadbehandelingstoerusting gedoen word.
  • Wanneer landbouchemikalieë aangekoop word, maak seker:
    • Die middel is geregistreer onder Wet 36 van 1947 vir die doel van gebruik;
    • die maatskappy wie se middel dit is, lid van CropLife is; 
    • dat die verspreidingsmaatskappy lid van CropLife is; en
    • dat die agent gekwalifiseerd is.
  • Dit gee ekstra gemoedsrus as ’n maatskappy waarby aangekoop word, ’n lid van ’n sambreelorganisasie is, byvoorbeeld vir saad, SANSOR; vir kunsmis, Fertasa, vir landbouchemikalieë, Croplife en vir Landboumasjinerie, SAAMA.
  • Raadpleeg die 2018 MIG-publikasie van die LNR-Graangewasse.

Gebruik oor die algemeen klein kontrolepersele om nuwe inset-middele te toets alvorens dit op groot skaal gebruik word. Moenie ’n nuwe middel op al jou hektare gebruik nie. 

Wat Rhizobium-bakterieë betref, is dit belangrik dat slegs geregistreerde (L-registrasie onder Wet 36 van 1947) entstowwe gebruik word. Die spesifieke produk moet ook verkieslik deur die betrokke saadmaatskappy wie se saad geplant word, aanbeveel word. Moenie nuwe produkte op groot skaal gebruik nie. 

Produsente wat hul entstof wil laat toets om seker te maak dat dit lewensvatbaar is, kan die LNR-Plantbeskermingsnavorsing (Roodeplaat) hiervoor kontak by 012 808 8138 of stuur ’n e-pos na:

Hoe gemaak as kwaliteitsuitdagings wel ervaar word? 
Wanneer uitdagings met die kwaliteit van ’n inset vermoed of ondervind word, moet die volgende stappe gevolg word:

  • Kontak so gou moontlik die verteenwoordiger van wie die insetmiddel aangekoop is en dring op ’n ter plaatse ondersoek aan. Hou ook rekord van datums en gesprekke.
  • Versamel en stel soveel moontlik inligting op skrif, neem foto’s of maak video-opnames om later na terug te verwys.

Daarna moet die volgende stappe oorweeg word indien die uitdaging nie opgelos is nie. Moenie te lank hiermee wag nie. Hoe langer gesloer word, hoe ’n groter uitdaging raak dit om te bewys dat dit kwaliteitsuitdagings is wat skade veroorsaak het.

  • Lede kan Graan SA in kennis stel indien die maatskappy nie die nodige aandag en oplossings vir die betrokke uitdagings verskaf nie.
  • Tree in verbinding met ’n onafhanklike wetenskaplike om ’n ter plaatse ondersoek te doen.

Saad
Ingeval ’n produsent steeds vermoed dat daar uitdagings met die saad is wat hy aangekoop het nadat die saak reeds met die verteenwoordiger en die maatskappy wat die saad verskaf het, opgeneem is, kan hy die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye kontak. Dié departement sal dan ’n handelskontrole-ondersoek doen ingevolge die Plantverbeteringswet.

Kontakpersone
Oos-Kaapse streeksverteenwoordigers
Gerald Jack (Port Elizabeth) by 041 484 2725
Felicity Daniels (Port Elizabeth) by 041 484 2725

Vrystaatse streeksverteenwoordiger
Zanele Buhlungu (Bloemfontein) by 051 406 0967

Gautengse streeksverteenwoordiger
Christo Botha (Pretoria) by 012 319 6139

Wes-Kaapse streeksverteenwoordiger
Christo Gouws (Stellenbosch) by 021 809 1709

Produsente word aanbeveel om rekord van lotnommers of kodenommers te hou, aangesien indieningsmonsters van alle saadlotte by die betrokke geregistreerde saadlaboratoriums waar kwaliteitskontrole uitgevoer word, vir dispuutondersoeke beskikbaar is. Tydens die aankope van saad behoort ’n ontledingsertifikaat ten opsigte van die kwaliteit van die spesifieke saadlot wat deur ’n geregistreerde saadlaboratorium uitgereik is, aangevra te word. 

Ons raai produsente ook aan om die fisiese sak en etikette wat aan die sak aangebring is, te bewaar, sowel as die faktuur wat uitgereik is vir die aankope van die spesifieke lot. Om bloot ’n saadmonster te hou, sal in vele gevalle nie goed genoeg as bewys wees nie, maar ’n geseëlde sak saad sal wel kan dien as ondersteuning. 

Kunsmis
Produsente moet daarop let dat daar ál meer ongetoetste produkte in die mark beskikbaar raak. Moet nie op groot skaal nuwe middels gebruik nie.

Produsente word aangeraai om hul kunsmis onafhanklik te laat toets. Dit is uiters belangrik dat kunsmismonsters reg geneem moet word. Kunsmismonsters om kunsmiskwaliteit te toets, moet in samewerking met die kunsmismaatskappy geneem word. Produsente kan in dié verband vir Graan SA, Fertasa of vir William Deale direk kontak vir die neem en ontleding van monsters om die kwaliteit daarvan te toets. William se kontakbesonderhede is 083 947 2389 of wideale@gmail.com

Ingeval ’n produsent steeds vermoed dat daar uitdagings is met die kunsmis wat hy gekoop het – nadat die saak met die kunsmismaatskappy opgeneem is – kan hy Graan SA skakel of ’n klagte direk by die Registrateur van Wet 36 van 1947 aanhangig maak.

Landbouchemikalieë
Die kwaliteit van landbouchemikalieë (aktiewe bestanddele) kan by die Suid-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) getoets word.

Kontak Cecilia Breedt (Crop Protection Division – SAGL) by Cecilia.breedt@sagl.co.za, 012 807 4019 X 2023 of 082 458 9327.

Diesel
Indien produsente vermoed dat daar uitdagings met dieselkwaliteit is – veral in gevalle van moontlike paraffienkontaminasie, kan hulle die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) skakel vir die monitering daarvan.

Kontak Russell Allison (SAID) by rallison@sars.gov.za.

Indien produsente self hul diesel wil toets, kan die webtuiste www.dieseltesting.co.za besoek word of 087 575 3568 geskakel word om die toetsinstrumente aan te koop.

Publication: October 2018

Section: On farm level

Search