• Login
  • Search Icon

Kunsmiskwaliteit verbeter die afgelope twaalf jaar

July 2013

ANDRÉ NEL EN WILLIAM DEALE, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Kunsmis en kalk beslaan sowat ‘n kwart tot ‘n derde van die direk toedeelbare koste van mielieproduksie en speel gevolglik ‘n belangrike rol in die winsgewendheid daarvan. Om die winsgewendheid aanvaarbaar te hou, is dit noodsaaklik dat die kwaliteit van hierdie insette hoog moet wees.

Aan die eenkant is dit dus vir Graan SA-lede belangrik dat hulle kunsmis ontvang wat aan die kwaliteitsvereistes voldoen. Netso is dit vir die lede van die Misstofvereniging belangrik om te weet, en aan te toon, dat hulle produkte verskaf wat aan die verwagte standaarde voldoen.

Die kwaliteit waaraan kunsmis moet voldoen, word in Wet 36 van 1947 beskryf. Die wet maak voorsiening dat die voedingselementinhoud van kunsmis tot ‘n beperkte mate mag afwyk van die geregistreerde inhoud. Dié afwyking word volgens ‘n glyskaal bepaal. Gevolglik word gepraat van ‘n toelaatbare tekort wat ‘n kunsmis nie mag oorskry nie.

Weens ‘n gebrek aan die monitering van kunsmis- en kalkkwaliteit deur ‘n onafhanklike derde party, het Graan SA en die Misstofvereniging van Suid-Afrika ‘n kunsmismoniteringsprojek van stapel gestuur. Die projek is reeds in 2000 begin en is deur die Mielietrust, Misstofvereniging en Graan SA gefinansier met die LNR as die onafhanklike derde party.

Die moniteringsprosedure van korrelkunsmis behels dat kunsmismonsters ná aflewering op die plaas geneem word. Elke monster word met ‘n gespesialiseerde apparaat in submonsters verdeel. Van die submonsters word aan die betrokke kunsmismaatskappyverteenwoordiger gegee en die ander monsters word by drie laboratoriums ontleed. Indien grensgevalle voorkom, word monsters weer ontleed om sekerheid oor die resultate te kry.

Hierdie ontledingsresultate word na aanleiding van die vereistes van Wet 36 beoordeel. Vervolgens word die uitslag aan die betrokke partye bekend gemaak. Na afloop van ‘n betrokke seisoen se monitering, word verslag gedoen oor al die resultate, wat dan in SA Graan/Grain gepubliseer word.

Maar wat het met verloop van tyd gebeur? Opsommende resultate van die afgelope twaalf seisoene word in Grafiek 1, Grafiek 2 en Grafiek 3 getoon. In die geval van stikstof het tussen 9% en 15% van die monsters in 2000/2001, 2001/2002 en 2002/2003 die toelaatbare tekort oorskry. Dit het tot sowat 6% in die 2010/2011- en 2011/2012-seisoene afgeneem.

image

image

Die persentasie fosforbevattende monsters wat die toelaatbare tekort oorskry het, het baie van seisoen tot seisoen gewissel (Grafiek 2). ‘n Dalende tendens in die persentasieoorskryding is egter ook duidelik en in 2011/2012 het alle monsters aan die vereiste voldoen.

Soos fosfor, het kalium ook relatief groot variasie getoon in die persentasie monsters wat die toelaatbare tekort oorskry het. ‘n Afname in die persentasie het ook met tyd voorgekom en in die 2010/2011- en 2011/2012-seisoene het alle kaliumbevattende monsters aan die vereiste voldoen.

In kort het die kwaliteit van kunsmis die afgelope twaalf jaar merkbaar verbeter. Die projek het waarskynlik baie daartoe bygedra om die vertroue tussen die kunsmisbedryf en graanprodusente te verstewig.

Publication: July 2013

Section: Input Overview

Search