September 2012
Weens die potensiële impak wat plantsiektes op opbrengste kan hê, moet die bestuur daarvan ‘n integrale deel van die produksiebedryf vorm. Internasionale navorsing het bevind dat met noordelike mielieblaarskroei van mielies, ‘n opbrengsverlies van tussen 2% en 8% verwag kan word vir elke 10% toename in siektegraad.
Met “bestuur” word daar natuurlik na die verskillende fasette verwys wat verband hou met die siekte en hier speel kennis ‘n kardinale rol: kennis van die kultivar, kennis van die patogeen (swam wat siekte veroorsaak), kennis van swamdoders asook kennis rondom siektemonitering.
Noordelike mielieblaarskroei word deur die swam Exserohilum turcicum (Foto 1) veroorsaak en word algemeen geassosieer met ovaalvormige, langwerpige nekrotiese letsels (Foto 2) wat oor tyd die heleplant kan oortrek. Produksies onder besproeiingsisteme is meergeneig om deur die siekte beïnvloed te word, maar wanneer gunstigetoestande vir siekte-ontwikkeling egter voorkom, kan die patogeenook onder droëlandtoestande tot erge oesverliese lei.
Die inkorporering van weerstandsgene in mieliebasters word beskou as die mees effektiewe wyse van siektebeheer. Hoof weerstandsgene (Ht1, Ht2, Ht3 en HtN) word tans in teeltprogramme wêreldwyd gebruik om weerstand teen E. turcicum in basters te vestig.
Foto 3 bevat ‘n voorbeeld van ‘n weerstandsletsel. Soms gebeur dit dat ‘n spesifieke baster wat een of meer van die hoofweerstandsgene bevat, ná ‘n paar jaar nie meer effektiewe weerstand teen ‘n siekte bied nie. Hierdie afbraak van weerstand is dan in alle waarskynlikheid die gevolg van die voorkoms van ‘n nuwe ras van die siekte-organisme. Foto 4 is ‘n voorbeeld van wat kan gebeur indien ‘n nuwe ras in ‘n gebied inkom.
Kortseisoen-kultivars is die afgelope paar jaar deur die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) vir hul vatbaarheid vir infeksie deur die siekteveroorsakende organisme van noordelike mielieblaarskroei (E. turcicum) geëvalueer.
‘n Kombinasie van noordelike mielieblaarskroei-isolate afkomstig van verskeie lokaliteite binne die mielieproduksiegebied is gebruik in ‘n poging om die kultivars se weerstand te toets teen ‘n verskeidenheid van isolate (en dus moontlike rasse) van die patogeen.
Die resultate van die 2010/2011-seisoen is in Grafiek 1 gelys. Hoe hoër die persentasie infeksie (geaffekteerde blaarmateriaal), hoe meer vatbaar was die spesifieke kultivar vir noordelike mielieblaarskroei. Hieruit is dit duidelik dat nie alle kultivars ewe weerstandbiedend was in hul reaksie op infeksie nie.
Kultivarkeuse berus egter gewoonlik op ‘n spesifieke baster se opbrengsvermoë en nie soseer op sy weerstandstatus nie. Kennis van die gekose kultivar se vermoë om infeksie teen te staan moet egter beskou word as die eerste stap met die bestuur van die siekte.
Om die optimale opbrengs te verkry, sal dus beteken dat produsente berekende besluite sal moet neem, gebaseer op beskikbare inligting. Die goue reël met alle blaarsiektes is dat die blare bokant die koppe altyd skoongehou moet word van infeksie. Die graad van opbrengsverliese wat verwag kan word as gevolg van noordelike mielie blaarskroei is gekoppel aan twee aspekte, naamlik die groeistadium van die plant toe die infeksie ontstaan het en die siektegraad (hoe vinnig die siekte vorder en dus die siektedruk wat ontstaan het).
Hoe vroeër ‘n blaarsiekte dus op die plante begin ontwikkel (byvoorbeeld reeds voor stuifmeelstorting), hoe meer tyd het dit om teen die plant op te beweeg en skade te veroorsaak (Foto 5). Sou die siekte vertraag word tot ongeveer ses weke ná stuifmeelstorting sal die effek van noordelike mielieblaarskroei op opbrengs nie so hewig wees nie.
Waar noordelike mielieblaarskroei jaarliks ‘n groot probleem is (soos onder besproeiing) en die siekte dus voorkomend bestuur word, moet die produsent kennis dra van die beskikbare swamdoders (d.i. hul werking, toedieningstadia, dosis asook opvolgbespuiting) om optimale beheer te verkry. Wanneer die siekte nie werklik ‘n probleem is nie, maar tog soms opduik, is dit noodsaaklik dat produsente hul lande op ‘n weeklikse basis vanaf die vegetatiewe stadia (voor blom) moniteer om sodoende ‘n ingeligte besluit te kan neem oor wanneer om te spuit al dan nie.
Onder droëlandtoestande is chemiese beheer dikwels nie ekonomies nie en word dit in die praktyk beperk tot saadproduksies. Oorweging kan wel geskenk word om te spuit wanneer letsels reeds vroeg in die seisoen naby die onderste koppe begin ontwikkel en die weerstoestande baie gunstig is vir siekte-ontwikkeling, soos in langdurige nat toestande met temperature van tussen 170C - 280C.
Onder besproeiing kan oorweging geskenk word om te spuit wanneer een letsel per plant waarneembaar is (reeds voor stuifmeelstorting). Indien infeksies later voorkom, sal faktore soos die groeistadium van die plant asook die vermoë om met ‘n swamdoder by die letsels self uit te kom in ag geneem word in die besluitnemingsproses om te spuit al dan nie.
Deur egter gereeld die lande te monitor vir siekte-ontwikkeling kan die koste moontlik beperk word deur te verseker dat daar dalk nie onnodig gespuit word nie. Deur meer weerstandbiedende kultivars te plant kan weer gespaar word op chemiese onkoste, alhoewel monitering van lande steeds noodsaaklik is om te verseker dat die plante nie onder enige vorm van stremming verkeer nie.
Die plant van weerstandbiedende kultivars dra ook verder daartoe by dat daar nie ‘n opbou van inokulum (groot hoeveelhede van die patogeen) op ‘n bepaalde land oor tyd is nie.
Produsente word dus aangemoedig om soveel moontlik van hul voorkeurkultivars vir die komende seisoen uit te vind sodat daar beter beplan kan word en potensiële probleme vroegtydig geïdentifiseer word. Sodoende kan die hoogste opbrengs en finansiële wins verkry word.
Publication: September 2012
Section: Input Overview