• Login
  • Search Icon

Korrekte identifisering van "kruisvingergras" – 'n eenjarige onkruid

February 2013

ELBÉ HUGO, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE, POTCHEFSTROOM

image

Daar word beweer dat “vingergrasse” (in Engels crabgrass) of te wel Digitaria-spesies een van die eerste gekultiveerde grane was voordat dit wêreldwyd, in verskeie lande, ‘n onkruidprobleem geword het.

Die genus naam is afkomstig van die Latynse word, “digitus”, wat vingers beteken en beskryf die bloeiwyse van die grasse. Die mees algemene vingergrasse in Suid-Afrika is die meerjarige Smutsvingergras (D. eriantha) en die eenjarige onkruid, kruisvingergras (D. sanguinalis). Die Digitaria-genus bestaan uit ongeveer 300 verskillende spesies waarvan 31 inheems tot Suider-Afrika is.

“Kruisvingergras” word meestal deur produsente gebruik as ‘n versamelnaam vir dié grasonkruid. Daar is egter ‘n hele paar naverwante Digitaria-spesies wat baie moeilik van mekaar onderskei kan word wat ook in gewasse probleemonkruide kan wees. Meeste etikette van grasonkruiddoders het wel net kruisvingergras op die lys van grasse wat beheer word, maar wanneer een van die ander spesies dalk meer dominant is, is dit nie ‘n waarborg dat effektiewe beheer verkry gaan word nie. Wanneer oneffektiewe beheer van kruisvingergras ondervind word, is die moontlikheid heel dikwels dat dit wel een van die ander na-verwante spesies kan wees.

Die verskillende Digitaria-spesies is baie moeilik onderskeibaar van mekaar in die saailingstadium. Al die spesies stoot ‘n langwerpige koleoptiel eerste uit die grond, gevolg deur ‘n breër eerste ware blaar (Foto 1). Die blare is gewoonlik helder- tot donkergroen, glad en buigsaam.

Die stingels van meeste Digitaria-spesies kan rooi-pers verkleur en harig wees, maar dit kan egter nie as definitiewe eienskap gebruik word om tussen die spesies te onderskei nie. Die groeiwyse van Digitaria-grasse is van regop tot “mat-vormig” en hulle kan tot 60 cm hoog groei. Waar die stingelknope aan die grond raak, vorm daar wortels en versprei die lopers vinnig. Een kruisvingergraspol kan ongeveer 700 lopers maak en 150 000 sade produseer, wat maak dat hierdie grasspesies al in verskeie lande as een van die top tien ergste onkruide geklassifiseer word.

Onlangs het studies getoon dat oneffektiewe beheer van “kruisvingergras” veral in die oostelike dele van die Noordwes Provinsie en die noord-oostelike dele van die Vrystaat ondervind word. Eksemplare van die sogenaamde “kruisvingergras” is na die herbarium van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI) gestuur waar dit positief geïdentifiseer is as D. nuda (naked crabgrass).

Die enigste definitiewe eienskap wat D. nuda van kruisvingergras (D. sanguinalis) onderskei,kan op die grasse se saad waargeneemword – wat problematies vir produsente kanwees, aangesien die onkruid beheer moetword voordat dit saad stort.

Dit wil voorkom asof D. nuda, wat nog nie ‘n gemaklike algemene Afrikaanse naam het nie, meer robuus groei as kruisvingergras en vinniger wortels vorm by die stingelknope op die grond. D. nuda vorm ook makliker ‘n matagtige groeiwyse, teenoor kruisvingergras wat partykeer meer geneig is om regop te groei. Hierdie is maar ‘n paar moontlike aanduidings wat produsente kan gebruik om dalk tussen die twee spesies te onderskei.

image

‘n Ander verskynsel wat opgemerk is, is dat dit blyk asof D. nuda meer tolerant is teen die gewone voor-opkoms grasonkruiddoders, soos acetochlor en s-metolachlor. Effektiewe beheer word wel verkry waar die gewone voor-opkoms grasonkruiddoders opgevolg word met na-opkoms grasonkruiddoders. Hierdie na-opkoms grasonkruiddoders bevat aktiewe bestanddele uit die triketone-groep en sluit mesotrioon, tembotrioon en top -
rame zoon in.

Dit is uiters belangrik om grasse tussen die vier- en sesblaarstadium na-opkoms te beheer, want wanneer polle begin vorm, is chemiese beheer minder effektief. Grasse kan oor die algemeen ook met ‘n vlakbewerking beheer word, aangesien hulle saad klein is en hoofsaaklik in die boonste 5 cm van die grond voorkom. Aangesien kruisvingergras maklik deur voor-opkoms grasdoders beheer word, kan dit tot gevolg hê dat D. nuda meer dominant gaan raak in genoemde gebiede.

Die voorkoms van hierdie relatief onbekende vingergras (D. nuda) is in Suid-Afrika beskryf deur Kok en medewerkers (1989) waar hulle dit veral in die noord-oostelike dele van KwaZulu-Natal en Mpumalanga positief geïdentifiseer het. Daar is egter toe al opgemerk dat die gras meer wydverspreid kan voorkom omdat dit maklik verwar kan word met gewone kruisvingergras.

Sover is die gras slegs in sommige Wes-Afrika-lande as ‘n probleemonkruid aangemeld en dit is ‘n ernstige probleem in suikerrietlande in Brasilië.

Die biologie en beheer van grasonkruide is spesie-spesifiek en die korrekte identifisering van ‘n probleemonkruid is die eerste noodsaaklike stap vir volhoubare beheer. Ongelukkig is dit nie so eenvoudig om tussen grasse van dieselfde spesie te veralgemeen nie en reageer elke spesie op sy eie, unieke manier op omgewingsfaktore en beheermaatreëls.

Vir meer besonderhede, kontak Elbé Hugo by (018) 299-6298.

Publication: February 2013

Section: Input Overview

Search