• Login
  • Search Icon

Koringprodusente... Hoekom plant julle nie koring nie?

September 2014

image

ESTIE DE VILLIERS, redakteur, SA Graan/Grain

Suid-Afrika sukkel die afgelope paar jaar om beswaarlik 45% van sy jaarlikse koringbehoefte plaaslik te produseer.

Ons spandeer byna R6 miljard per jaar om die res in te voer, geld wat vir produksie in die platteland bestem is en nou na die buiteland gaan. Ons is bewus daarvan dat desnieteenstaande uitstekende opbrengste en rekordoeste in die Wes- en Suid-Kaap asook in die koeler besproeiingsgebiede, winsgewendheid steeds onder geweldige druk is, om nie van die Vrystaat te praat nie. Hoekom dan? Wat is die redes vir die swak kompeterendheid van koring op jou plaas?

Die tydskrif het by ‘n paar koringprodusente gaan stilstaan om by hulle te hoor of daar nie oplossings vir hierdie dilemma gevind kan word nie.

Die produsente wat aan die gesprek deelgeneem het, is:

  • Mnr Richard Krige – Caledon-distrik;
  • Mnr Andries Theron – Moorreesburg-distrik;
  • Mnr CD du Toit – Riversdal- en Napier-distrik;
  • Mnr Jaco Breytenbach – Fouriesburg- en Bethlehem-distrik; en
  • Mnr Koos Blanckenberg – Koeberg-area in die Durbanville-distrik.

Uit ons gesprek met die produsente blyk dit dat opbrengs en nogmaals opbrengs ‘n groot behoefte, indien nie dié grootste behoefte nie, onder produsente is. Produsente soek nuwe kultivars wat vir hulle ‘n hoër opbrengs kan gee.

Verder voel produsente dat hulle nie ‘n groot genoeg premie betaal word vir die kwaliteit van koring wat hulle produseer nie. Suid-Afrikaanse produsente produseer van die beste kwaliteit koring in die wêreld en meen die kopers buit hulle uit deur swakker kwaliteit koring in te voer en in te meng.

Produsente wys daarop dat hulle in kompetisie is met 'n gesubsidieerde, swakkwaliteit, ingevoerde produk en voel hulle kan nie daarmee kompeteer nie.

Soos wat Richard Krige van die Suid-Kaap dit duidelik stel: “Dit is by my ‘n bekommernis dat ons, ten spyte daarvan dat Suid-Afrikaanse produsente op die voorpunt van tegnologie is en van die beste produsente ter wêreld is, steeds nie kan kompeteer teen ingevoerde koring nie.”

Andries Theron van die Wes-Kaap voel: “Koringkwaliteit en opbrengs is negatief gekorreleerd. Teel vir ons koring met dieselfde kwaliteit as dít wat ingevoer word, met hoër opbrengste.”

Koringprys en insetkoste is natuurlik ‘n verdere belangrike punt waaroor produsente sterk voel. Diversifikasie en risikoverspreiding dra ook daartoe by dat koringaanplantings afgeskaal word. Maar kom ons kyk meer spesifiek na wat die produsente gesê het wat aan ons gesprek deelgeneem het:

Het koringproduksie ‘n rol te speel in jou wisselboustelsel?

Richard: Ja, beslis. Ons het nie baie alternatiewe in die gebied nie en produseer op droëland in ‘n winterreënvalstreek. Somergewasse is nie ‘n alternatief nie. Gars se markruimte is beperk en ons kan nie alleenlik oliesade (kanola) produseer nie, aangesien ons 'n rotasiebeplanning moet volg.

Ons wisselbou is hoofsaaklik medics/klawers met koring elke tweede jaar – so koring bly ons hoofkontantgewas. Die winsgewendheid van koring op marginale gronde maak dat ons egter met veeboer waar daar nie baie hoëpotensiaalgrond is nie. Hier bring ons hawer in as 'n weidingsgewas. Hawerpryse bly ook laag teenoor ingevoerde hawer.

Vee het oor die afgelope tien jaar, sewe uit die tien keer, die saaiery se syfers op ons plaas geklop.

Andries: Koring het nog altyd en sal in die toekoms steeds ‘n kernrol in my boerdery speel. Die gebrek aan lewensvatbare, volhoubare alternatiewe gewasse in die plek van koring, sal die plek wat koring in my boerdery speel ten minste in die kort termyn verseker, maar die grootte van die rol wat koring gaan vervul, gaan egter in my wisselboustelsel verminder.

Ongeveer 20 jaar gelede was ek in ‘n 100%-monokultuurkoringstelsel. Van toe af, tot en met verlede jaar, was ek in ‘n 50%-koring-, 50%-medics-, lupine- en kanolastelsel. Tans is ons besig om oor te skakel na ‘n derde stelsel: Koring (slegs een derde), kanola (een derde) en medics (een derde).

CD: Ja, koring maak 50% van die kontantgewasse uit wat ons aanplant.

Jaco: Wat wisselbou betref, is dit ‘n uitstekende gewas en is dit die manier waarop ons wisselbou die afgelope 20 tot 30 jaar in die Oos-Vrystaat toegepas het. As ons lande het wat baie vuil raak met onkruide en ons sukkel om daarvan ontslae te raak met die chemiese middels tot ons beskikking in die somergewasse (soos oliebome en/of kankerroos), is dit 'n baie goeie idee om oor te slaan na koring “om die lande skoon te maak”.

Koos: Koring is ons hoofgraanproduk. Ons is daarmee op ‘n volledige wisselboustelsel met kanola, medics en hawer.

Met welke praktyke van koringverbouing vind jy probleme?

Richard: Ons het as ‘n standaardpraktyk ons koring tot drie keer met ‘n swammiddel begin spuit. Siekteweerstand verwater met tyd en die opbrengsverhogings wat ons daardeur verkry, regverdig die praktyk – selfs met die nuwe kultivars wat met vrystelling weerstand teen sekere siektes het.

Die kwaliteit van ons koring is te hoog in my opinie. Nie die kwantiteit van die proteïen nie, maar wel die kwaliteit. Dit is, in my opinie, ten koste van opbrengs.

Daar is niks wat vergoed soos opbrengs nie en met die rolspelers betrokke by die goedkeuring van nuwe kultivars in ons land, het daar myns insiens te veel klem op kwaliteit geval. Produsente soek nuwe kultivars wat vir ons meer opbrengs kan gee.

Dit is by my ‘n bekommernis dat ons, ten spyte daarvan dat Suid-Afrikaanse produsente op die voorpunt van tegnologie is en van die beste produsente ter wêreld is, steeds nie kan kompeteer teen ingevoerde koring nie.

Tans het ons alle beskikbare tegnologie ingespan om produksiepraktyke te verbeter en verbouingspraktykaanpassings gemaak om ons doeltreffendheid te verhoog. Ons staan op die oomblik op 12,8 kg/mm reënval in die seisoen oor alle grondtipes en met die bestaande kultivars tot ons beskikking, sukkel ons om dit te verhoog. ‘n Sekere kultivar is byvoorbeeld in 1998 vrygestel en maak vanjaar nog ongeveer 25% van die aanplantings in my gebied uit. Dit maak mos nie sin nie?

Nuwe kultivars vervang nie vinnig genoeg die oues nie – veral by koring in die Wes-Kaap. Neem byvoorbeeld Australië, waar kultivars soos Mace binne drie jaar 60% van die aanplantings in Wes-Australië uitmaak.

Ek skat kanolakultivars hou maksimum vyf jaar voordat ‘n beter kultivar hulle vervang en oues uitgefaseer word. Daar kom met ander woorde nie genoeg verbeterde koringkultivars na die mark in die Wes-Kaap nie.

Andries: Die beperkende faktore in die produksie van koring is nie in die verbouing daarvan nie, maar in die omgewing waarbinne ek koring moet verbou – onbillike spelreëls wat net vir die een span geld.

Hier is my frustrasies:

  • Die onsimpatieke houding van die regering spesifiek ten opsigte van kompetisie met gesubsidieerde ingevoerde produk.
  • Onsensitiwiteit ten opsigte van selfvoorsienendheid. Dit kan gebeur dat ons met die valuta in die hand staan en daar geen koring beskikbaar is nie.
  • Die infrastrukture wat agteruitgaan; spoorweë wat veroorsaak dat die surplusproduksie vanaf die Wes-Kaap per pad na die noorde vervoer moet word en ek as produsent moet daarvoor betaal sonder die voordeel van spoorvervoer wat veronderstel is om die koste van vervoer meer bekostigbaar te maak.
  • Hawefasiliteite wat nie meer losmaatuitvoere van koring moontlik maak nie en ons beperk tot net die plaaslike mark.

My frustrasie in die koringbedryf is verder die vier groot kopers wat die totale bedryf boelie en hulle magsposisies misbruik deur aan my as koringprodusent produkstandaarde te stel waaraan die koring wat ingevoer word nie voldoen nie en dat hulle my kwaliteitproduk tot hulle voordeel gebruik sonder enige prysvoordeel vir my as produsent.

As ek in my boerdery nie die voordeel van minimumbewerking kon benut nie, sou koring waarskynlik totaal onmededingend gewees het.

CD: By ons is onkruid se weerstand teen onkruiddoders ‘n groot probleem.

Jaco: Ons het nie enige praktyk met koringverbouing waarmee ons sukkel nie. Ek kan dalk net noem dat ons in die Oos-Vrystaat plant wanneer ons nie reën kry nie en ons stroop wanneer dit reën. As 'n mens koring plant, het jy ook minder trekkers nodig as wanneer jy net somergewasse plant. Die voorbereiding vir koring vind plaas in ‘n tyd van die jaar wanneer dit baie stil is ten opsigte van somerproduksie.

Die marges van koring het al hoe kleiner geword en daarom het produsente net begin om ander gewasse te gebruik om 'n wisselboustelsel toe te pas. Hier by ons gebruik die produsente deesdae hoofsaaklik sojabone en tot ‘n mindere mate suikerbone teenoor mielies. In die warmer gebiede, net buite die Oos-Vrystaat, gebruik produsente ook sonneblom.

As ‘n produsent eers een keer nie koring geplant het nie, dink ek verval hulle in 'n gemaklikheidsgroef en plant dan nie meer koring nie, want einde Desember, wat gewoonlik strooptyd vir hom sou gewees het, is nou baie rustig tydens die feestyd (wanneer arbeid soms ‘n probleem is).

Die belangrikste is seker die werksdruk wat aan die einde van die jaar net op somergewasse is, want alles moet op dieselfde tyd gebeur: Skoffel, chemiese bespuiting, bestuur en die omsien na ‘n groeiende someroes. Nog ‘n baie belangrike punt om te onthou, is die feit dat as jy nie meer koring produseer nie en jy wil weer begin, moet jy implemente en toerusting aanskaf wat jy nie vir somergewasse nodig het nie – soos byvoorbeeld planters en stropertafels.

Ek het wel vanjaar koring geplant, maar nie meer dieselfde hektare as voorheen nie. Buiten die prys wat op die oomblik ‘n risiko is, moet jy water in die grond bymekaarmaak wanneer jy nie plant nie, jy moet plant as dit nie reën nie en jy moet hoop dat die reën op die regte tyd kom. Met ‘n somergewas kan jy maklik eers plant as daar goeie reëns geval het.

Koringprys is die een groot risiko en die prys van koring moet meer as R5 000/ton wees voordat die produsente hier by ons in die Oos-Vrystaat weer op groot skaal gaan koring plant.

Koos: Onkruidweerstand is ‘n probleem, maar met die regte strategieë oorkom ons dit.

Indien wel, watter belangrike rol vervul koring?

Richard: Die risiko van koringverbouing is laer as gars, veral wat reën in oestyd betref en uitloopweerstand en graadskade wat met reënval gepaard gaan. Gars het wel, in teenstelling met koring, oor die afgelope paar jaar dramatiese verhogings in opbrengste getoon met die nuwe kultivars wat deur SABBI vrygestel is.

Dit egter teen die agtergrond van die risiko en beperkte markruimte, maak dat koring nog ons hoofgewas is.

Andries: Die Swartland is koringwêreld – koring met die beste kwaliteit en goeie opbrengste is hier in sy natuurlike omgewing. Ons kan koring produseer, ons kan voedsel produseer en dít in 'n omgewing waar baie min ander gewasse verbou kan word.

Indien nie, hoekom nie? Vervul ander gewasse die rol?

Andries: Die beperkende faktore in die koringbedryf het my geforseer om aanvanklik medics as ‘n alternatiewe gewas te gebruik, eerstens om die voordeel van stikstofbinding tot voordeel van koring te gebruik en insette te verminder asook risikoverspreiding met ‘n groter veefaktor.

Tans speel kanola ‘n kritieke rol in my boerdery as gevolg van die mededingendheidsvoordeel wat oliesaadpryse vir my bied. Hierdie mededingende alternatiewe veroorsaak dat die rol van koring in my boerdery verder gaan verminder. Dit het my laat besluit om my risiko te versprei en meer kanola aan te plant en minder koring.

Buiten die prys van koring en indien jy wel in ‘n erkende koringproduksiegebied boer en nie vanjaar koring geplant het nie, hoekom nie? Watter redes sou jy aanvoer dat dit nie betalend was om koring te plant nie?

Richard: Winsgewendheid sou ons meer laat saai het. Ons saai 40% kontantgewasse. Ons sal dit verhoog mits die vertakking (teenoor vee) meer winsgewend is.

Andries: Verseker is winsgewendheid die belangrikste oorweging. Indien ek nie geld kan maak uit koringboerdery nie, moet ek na alternatiewe kyk.

Tans is daar wêreldwyd ‘n baie groot voorraad koring beskikbaar en ons moes aanvaar pryse gaan onder druk bly. Verder het insetkoste, as gevolg van die wisselkoers, geweldige stygings beleef. Die brandstofpryse het ons heeltemal uit die wedloop uit gehaal. Nadat ek al hierdie onsekerhede in ag geneem het, het ek besluit om my risiko te versprei en meer kanola aan te plant en minder koring.

Koos: Ons area het geen afname in aanplantings gehad nie – daar is inteendeel ‘n bietjie meer koring aangeplant.

Indien insetkoste beperkend is, noem dié wat wel is

Richard: Die beskikbaarheid van chemiese middels wat geregistreer is op die gewasse wat ons verbou bly ‘n probleem en dan natuurlik ook die prys. Die stelsel van minor crop use van die Registrateur het gedeeltelik die probleem aangespreek, maar daar bly steeds gebreke by maatskappye om alle middels te registreer.

Omdat ons op die voorpunt van tegnologie is, weet ons as ‘n nuwe aktief of middel oorsee beskikbaar gestel word. Hierdie middels vat egter ‘n jaar of twee om by ons uit te kom. Ons insette bly geneig om hoër te wees as dit waarvoor hulle oorsee aangekoop word, maar hierdie gaping het oor tyd vernou.

Andries: Insetkoste is sonder uitsondering hoog, met stygings wat nie tred hou met die pryse van die produk geproduseer nie. Die onstabiliteit van ons wisselkoers doen regtig nie veel om hierdie dilemma te stabiliseer nie.

Jaco: Insetkoste van koring is laer as dié van somergewasse per hektaar. So dit is nie hier in die Oos-Vrystaat ‘n reuseprobleem nie.

Koos: Ons het nie ‘n afname in aanplantings gehad nie. Uit die aard van die saak is alle insetkoste altyd ‘n beperkende faktor.

Is daar voorstelle om die genoemde insetkoste nog verder af te bestuur?

Richard: Die gebruik van kunsmis en bemesting kort nog baie werk. Ons kan deur middel van stikstofbindende gewasse, ons produksiekoste wat kunsmis betref, nog afwaarts bestuur. Die meeste van ons ander uitgawes is reeds tot op die been gesny en ekonomie van skaal begin ‘n groter rol speel by meganisasie.

Die masjinerie word net groter en groter, maar dit gaan ‘n punt bereik waar dit onbekostigbaar is vir produsente. Ek dink ons is baie naby aan hierdie punt. Daar is ‘n baie fyn lyn tussen kostedoeltreffendheid en die nodigheid om te meganiseer.

Andries: Ek is van mening dat ons, siende dat wisselbou, minimumbewerking, meganisasie, die optimum gebruik van die bes presterende kultivars en kritieke bestuur reeds toegepas word, dit moeilik sal vind om insette nog verder af te bestuur. In elk geval nie in só ‘n mate dat dit ‘n positiewe uitwerking op die hoeveelheid koring wat geplant gaan word, sal hê nie.

Koos: Insetkoste kan altyd afwaarts bestuur word deur beter verbouingspraktyke toe te pas en deur ‘n goeie wisselbousisteem te volg. Wisselbou verlaag insetkoste en ook risiko wat die weer betref.

Speel koringkwaliteit ‘n rol?

Richard: Ja, maar daar word nie ‘n groot genoeg premie betaal vir die koste om premiumkoring te kan produseer nie. Die koringprys was oor tyd ten minste twee grade te laag gewees (ongeveer R270) en die vervoerdifferensiaal veroorsaak boonop dat produsente finansieel baie seer kry.

Andries: Koringkwaliteit en opbrengs is ongelukkig negatief gekorreleerd. Ons produseer die beste kwaliteit koring in die wêreld, wat die kopers uitbuit tot hulle voordeel deur swakker kwaliteit koring in te voer en te meng. Die realiteit is dat hierdie minderwaardige produk die prys bepaal van die beter koring.

CD: Ja, koringkwaliteit is te hoog en opbrengs te laag.

Jaco: Koringkwaliteit speel altyd ‘n rol omdat ons in die Oos-Vrystaat stroop wanneer dit reën. Ons kry dit tog reg om elke jaar ‘n oes van goeie kwaliteit te lewer.

Koos: Koringkwaliteit speel altyd ‘n rol omdat ons volgens graderingsregulasies vergoed word en ‘n beter prys realiseer.

Voorstelle aan die koringtelers

Richard: Opbrengs met die behoud van ‘n minimum kwantiteit- en kwaliteitspesifikasies. Droogtebestandheid is belangrik. Ons moet weet hoe spesifieke kultivars reageer op standaard chemiese behandeling, soos wat bekend gemaak word met die kultivarvrystelling in Australië.

Baie standaard chemiese behandelings word toegepas in ons land, maar uit Australiese data kan gesien word dat elke kultivar anders op die behandeling reageer. Dit kan 'n verhoging of verlaging tot gevolg hê, maar ons het geen idee hoeveel van ons oes ons “wegspuit” met die standaardbehandelings nie.

Andries: My versoek aan ons koringtelers is die volgende: Die enigste manier hoe ons die koringbedryf in Suid-Afrika gaan red, is met hoër opbrengste. Teel vir ons koring met dieselfde kwaliteit as dít wat ingevoer word, maar met hoër opbrengste. Ons is lank genoeg geboelie en mislei, ons het niks om te verloor nie, die swakker kwaliteit ingevoerde koring bepaal in elk geval die prys.

Indien die meulenaar dan van ons goeie kwaliteit koring wil hê, is ons boodskap aan hulle: Betaal vir ons ‘n premie en ons produseer dit.

Dalk het dit tyd geword dat ons GM-koring produseer. Daar sal verseker gefokus moet word op basters om opbrengste te verhoog.

CD: Teel soortgelyke kultivars as wat die meulenaars/bakkers vanaf Rusland en die Swartsee invoer, met ander woorde kultivars met groter opbrengste en laer kwaliteit, sodat die prys gevolglik meer regverdig sal wees.

Die vier kopers steel ongeveer R300/ton - R500/ton jaarliks vanaf die produsente deur ons koringprys af te speel met die goedkoopste koring wat hulle op die wêreldmark kan kry.

Jaco: Die koringtelers moet probeer om ‘n kultivar daar te plaas wat die opbrengs verhoog en kan dan dalk toegee op kwaliteit. Ons koring word in elk geval vermeng met die swakker kwaliteit koring wat ingevoer word.

Die telers kon die afgelope paar jaar nie daarin slaag om kultivars te teel met ‘n abnormale hoë opbrengs nie.

Koos: Ons as produsente in die area sal graag wil sien dat daar vinniger nuwe variëteite beskikbaar kom. Die genetiese vordering wat wel gemaak word, is stadig.

Voorstelle aan die koringnavorsers

Richard: Stikstofbestuur en verdere bewaringsboerderywerk is nodig waar dekgewasse, stikstofbindende gewasse en alternatiewe gewasse ondersoek word.

Lensies is een voorbeeld hiervan, maar daar is geen plaaslike verbouing nie. Ons moet aanvaar dat ons oorsese kultivars sal moet aanneem omrede ons mark te klein is om sekere gewasse in teelprogramme te plaas.

Groter toegang tot kultivars en alternatiewe gewasse moet verkry word deur end point royalty (EPR) ooreenkomste met saadtelers oorsee te sluit.

Fokus op opbrengs met behoud van ‘n minimumkwaliteit as 'n manier om landbou se toekoms te verseker. Ons sal as ‘n noodsaaklikheid ons waterverbruikdoeltreffendheid by graanverbouing moet verhoog deur kultivarverbetering, bewerkings- en verbouingspraktyke en die verbetering van ons grondkwaliteit.

Andries: Navorsers, kom asseblief nader aan my as produsent. Ek probeer oorleef, help my om dit te doen. Ek lewer graag ‘n bydrae tot navorsing, maar as dit nie waarde vir my kan toevoeg nie, is dit waardeloos.

CD: Kultivars moet meer siektebestand wees.

Jaco: Ek dink navorsers bestee tyd en geld op navorsing wat nie meer die moeite werd is nie. Ons is in ‘n oorlewingstryd, so alle geld, tyd en navorsing moet op nuwe kultivars gespandeer word.

Koos: Ek weet nie, dalk doen navorsers dit reeds, maar ek dink hulle moet die net wyer span om tegnologie wat ander telers in die wêreld gebruik na Suid-Afrika te bring; dit kan help dat ons vinniger vorder.

Publication: September 2014

Section: On farm level

Search