October 2014
IAN HEYNS, PETRUS DELPORT, WESSEL DU TOIT, LNR-Kleingraaninstituut, Stellenbosch en ANDRÉ MALAN, LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem
Koring is een van die primêre stapelvoedsels in Suid-Afrika en die vermoë om genoeg koring te produseer vir plaaslike gebruik, bly altyd ‘n uitdaging. Die doelwit van die Kleingraaninstituut (KGI) se koringteeltprogram is gevolglik om kultivars te ontwikkel en vry te stel met ‘n hoë opbrengs en wat spesifiek aangepas is vir toestande in die Wes-Kaap. Deur hoë-opbrengs-kultivars te ontwikkel sal dit eerstens meer winsgewend maak om met koring te boer, terwyl dit ook sal bydra tot verhoogde plaaslike voedselproduksie. Die KGI het met hierdie doelwit voor oë, die Ratel-kultivar vrygestel. Ratel beskik oor 'n uitstekende opbrengs en het in 2013 algeheel die tweede beste opbrengs in die Rûens behaal, terwyl dit in die Swartland ook baie goed presteer het (derde beste in ‘n hoë-reënvalgebied).
Ratel
Die vraag bly egter: Met hoeveel moet die koringopbrengs verbeter om volhoubare koringproduksie in Suid-Afrika te verseker en om plaaslik aan die stygende vraag na koring te voldoen? Daar is gevind dat koring se genetiese verbetering slegs 0,5 tot 2% per jaar is, wat gevolglik ‘n donker prentjie skets vir die toekoms van die koringbedryf in Suid-Afrika. Alles is egter nie verlore nie en in ‘n onlangse berig in ‘n plaaslike tydskrif gaan navorsers probeer om koring se opbrengs binne die volgende 20 jaar met 50% te verbeter, deur te fokus op die verbetering van koringplante se fisiologiese eienskappe.
Om koring geneties te verbeter, is waarskynlik die beste manier om opbrengs te verskerp, maar dit gaan altyd ‘n uitdaging bly weens die kompleksiteit van die koring-genoom wat eintlik die samevoeging van drie volledige genome is. Een aspek in die genetiese verbetering van koring, is die ontwikkeling van geneties gemodifiseerde of GM-koring soos alombekend. Die onderwerp het in die verlede groot reaksie ontlok en bly vandag nog 'n kontroversiële saak. Die ontwikkeling van GM-koring vir verhoogde opbrengs is egter hier om te bly en wêreldwyd word baie navorsing daarop gedoen. Die hele proses moet egter met omsigtigheid benader word en kan groot voordele vir die graanbedryf inhou, indien dit korrek bestuur word.
Nuwe verbeterde kiemplasma vanaf internasionale koringkwekerye kan ook gebruik word om huidige kultivars te verbeter en sodoende hoër opbrengste te verkry. Die LNR-KGI het goeie samewerkingsooreenkomste met internasionale organisasies wat betrokke is by die teling van verbeterde graangewasse. Nuwe kiemplasma met verbeterde opbrengs word jaarliks geselekteer en ingevoer na Suid-Afrika. Die ingevoerde lyne word geëvalueer in die Swartland en Rûens en slegs die materiaal wat die beste aangepas is by die onderskeie omgewingstoestande, word gebruik in die LNR-KGI se koringteeltprogram.
Onthou dat opbrengs die resultaat is van ‘n wisselwerking tussen die omgewing en die genetika van koring. Om te teel vir beter opbrengs is dus ook om koring se wisselwerking met sy omgewing te verbeter. Die nadeel daaraan verbonde om net te teel vir opbrengsverhoging, is dat jy sekere ander gewenste kenmerke kan verloor of verlaag. Een daarvan is kwaliteit, waarsonder ‘n kultivar nie vrygestel mag word nie, terwyl ‘n verlaging in siekteweerstand ook aanleiding kan gee dat swakker opbrengste verkry word. Daar is bevind dat ‘n negatiewe korrelasie tussen opbrengs en kwaliteit bestaan asook tussen opbrengs en weerstand.
Al twee hierdie kenmerke is belangrik in die ontwikkeling van ‘n nuwe kultivar en moet in gedagte gehou word wanneer daar geteel word vir opbrengsverhoging. Laastens speel die ontwikkeling van nuwe tegnologie ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van kultivars met verbeterde opbrengs. Merker-ondersteunde teling word deesdae met groot sukses aangewend om vir lyne met sekere gene te selekteer, terwyl die gebruik van die dubbel-haploïde tegniek aanleiding gee tot die vinnige produksie van suiwertelende lyne met ver beterde opbrengs. Daar kan dus ter opsomming gesê word dat die teling van nuwe koring kultivars met verbeterde opbrengs ‘n lang proses is – dit kan tot 15 jaar neem om ‘n nuwe kultivar vry te stel. Die LNR-KGI beskik egter oor die nodige kennis en infrastruktuur om die graan bedryf te ondersteun in die voortdurende strewe na nuwe, verbeterde koringkultivars.
Navrae ten opsigte van enige van die KGI se koringkultivars, kan gerig word aan dr Ian Heyns by 021 809 3554 of heynsi@arc.agric.za.
Publication: October 2014
Section: On farm level