• Login
  • Search Icon

Koring- en mielietariefberekenings metodiek deur ITAC hersien

September 2017

Dr Dirk Strydom, bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, Graan SA

Die invoertariewe was vir meer as twee jaar ‘n besprekings­punt op die meeste agendas en is tydens verskeie geleenthede in die media bespreek. Na ‘n baie lang tyd van onsekerheid en oneffektiwiteit in markte – veral die koringmark – het die regering die nuwe metodiek aangekondig.

In 2016 is daar vanaf verskeie oorde in die waardeketting versoek dat die invoertarief op koring verwyder moet word ná verhogings van tot en met R1 591/ton in die tarief. Graan SA het in ‘n groot aantal gesprekke daaroor betrokke geraak en het selfs so ver gegaan as om die owerhede hof toe te vat na die gesloer met die publisering van die tarief.

As ons ‘n stap terug neem om die proses te bekyk, is die ta­riefgesprekke in twee gedeel: Die eerste gedeelte is die afkondiging van die tarief ná dit deur prysbeweging geaktiveer is en die tweede gedeelte is die hersiening van die metodiek rakende die berekening van die tarief.

Daar is op verskeie geleenthede ná aktivering lank gesloer om die tarief af te kondig. Graan SA het in 2016 die tarief deur middel van ‘n regsproses laat afkondig.

In 2017 was dit weer die geval. Graan SA was reeds in konsultasie met die regsadviseurs toe die owerhede die nuwe metodiek en tarief afkondig.

Die tweede gedeelte van die proses behels die owerhede se bekommernis oor die manier waarop die tarief bereken is. Hulle het derhalwe ‘n ondersoek geloods. Die ondersoek het meer as ‘n jaar geduur en dit het verskeie onsekerhede in die mark geskep – soveel so dat spekulante uit die koringmark onttrek het en produsente dit moeilik gevind het om hul produkte te verskans.

Die volgende was voorstelle – veral rakende die koringtarief – uit verkillende oorde:

  • Dat die tarief in totaliteit geskrap moet word;
  • ‘n ad valorem-metodiek gebruik moet word (6%-beskerming op prys);
  • die wisselkoers glad nie aan die tarief gekoppel moet word nie; en
  • ‘n drie jaar gemiddeld gebruik moet word vir die bepaling van die verwysingsprys en die wisselkoers.

Graan SA is steeds van mening dat die formule ‘n unieke formule is, wat ontwerp is om die produsent te beskerm wanneer internasionale pryse laag is, maar ook om die verbruiker nie te benadeel as die internasionale pryse styg nie. Graan SA het derhalwe die behoud van die formule sterk gemotiveer.

Verskil
Die vraag wat almal tans vra, is wat die verskil tussen die nuwe en die ou formule is?

Voor die verduideliking kan plaasvind, moet ‘n mens ook na die tydsraamwerk gaan kyk. ITAC het hul berekeninge aan die einde van 2016 gemaak en hul voorstelle aan die minister in Desember 2016 ingedien.

Die voorgestelde tarief is eers in Junie 2017 in die Staatskoerant gepubliseer. Intussen het die internasionale pryse opwaarts beweeg, wat ‘n effek op die tariefberekening gehad het. Dit het baie verwarring in die koringbedryf veroorsaak, omdat die berekende tarief vir Junie heelwat laer was as die voorgestelde/gepubliseerde tarief.

Wat is aanbeveel en wat is die impak?
ITAC het in kort die volgende aanbeveel:

  • Dat die tarief steeds in plek moet wees (wat positief is, gegewe die feit dat die versoek was om dit te verwyder);
  • die formule steeds gebruik word (wat positief is, gegewe die feit dat die res van die waardeketting ‘n ad valorem-persentasie versoek het, wat die produsent en verbruiker sou benadeel);
  • die verwysingsprys steeds gebaseer is op vyf jaar gemiddeld (wat positief is, gegewe dat internasionale pryse die afgelope
    drie jaar sterk gedaal het en die waardeketting ‘n drie jaar gemiddeld voorgestel het);
  • die verwysingsprys elke drie jaar hersien moet word; en
  • die wisselkoers met die reële effektiewe wisselkoers aan­gepas word (wat negatief is, omdat dit die tarief laer maak). Die indekswaarde dui op die koopkrag van die wisselkoers en
    of die wisselkoers oor- of onderwaardeer is. Dit word deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank bereken. Die alternatief wat ITAC hier oorweeg het, was dat die wisselkoers ook oor vyf jaar geweeg word. Dit sou rampspoedig gewees het.

Daar was dus in kort twee groot veranderinge op die formule: Dat die reële effektiewe wisselkoers gebruik word en dat die verwysingsprys elke drie jaar hersien word, waar die verwysingsprys in die verlede net hersien is op aansoek van die bedryf.

Wat is die impak van die nuwe model?
Die maklikste om die nuwe model te verduidelik, is om huidige pryse te gebruik en die tarief op beide formules te bereken.

Die nuwe verwysingsprys gebaseer op ‘n vyf jaar periode is 9/ton waar die ou verwysingsprys wat ook op ‘n vyf jaar periode gebaseer was in 2012 4/ton was. Op die week van 11 Julie 2017 was die internasionale prys 6 en die wisselkoers R13,59.

Dit beteken dat in die nuwe model, gegewe ‘n reële wisselkoersin­deks van 0,8538, R11,60 is. Tabel 1 gee ‘n uiteensetting van die effek.

Die verwysingsprys is bloot ‘n berekening en het gedaal omdat die vyf jaar gemiddelde prys gedaal het. Dit is dus nie geleë in ‘n verandering aan die formule nie, maar het wel ‘n effek omdat die verwysingsprys daal en die berekening op hierdie basis gedoen word.

As daar slegs ‘n aansoek was vir die hersiening van die verwysings­prys, sou die effek R203,85 gewees het. Dit beteken die formule is nie verander nie; daar is bloot ‘n nuwe verwysingsprys gebruik.

In kort
Die verwysingsprys vir koring het verander omdat die internasionale pryse in terme van ‘n vyf jaar periode gedaal het. Dieselfde for­mule as in 2012 is derhalwe gebruik. Die effek van die dalende verwysingsprys is R203,85, gegewe pryse tydens die skryf van die artikel. Die verandering wat aangebring is, is die wisselkoerseffek en dit het teweeggebring dat daar ‘n aanpassing van R66 op die koringtarief plaasgevind het.

Met mielies was die invoertarief nie in gebruik nie – hoofsaaklik omdat ons in normale omstandighede netto uitvoerders van mielies is. Die formule vir mielies werk op dieselfde basis as koring en daar is ook besluit om die reële effektiewe wisselkoersindeks binne die formule te gebruik.

Tans is die verwysingsprys 0/ton en ITAC het besluit dat die vlak ‘n geskikte vlak is indien beskerming benodig word. Dit veroorsaak dat die invoertarief tans R0/ton is omdat internasionale pryse bo dié vlak verhandel. Die enigste verandering in die mielie-invoertarief is die gebruik van die reële effektiewe wisselkoersindeks.

Publication: September 2017

Section: On farm level

Search