April 2014
JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO
Ons het by Graan SA se Kongres in die reën aangekom: Vanuit die noorde, ooste, suide en weste. Of jy ‘n winter- of somergraanprodusent is al dan nie, reën is altyd welkom! Die gemoedere was goed en dit het baie energie tafel toe gebring.
Wat my ook opgeval het, is die erns waarmee die sake van die dag aangepak is. Ten spyte van goeie landboutoestande, was die manne en vroue gefokus om die brandpunte van die dag aan te vat. Die tema: “Die volgende generasie”, was vir almal relevant. As jy nie deel van Generasie Y is nie, moet jy weet hoe hulle koppe werk sodat jy hulle kan begelei tot volwassenes wat weer vir hulle generasie en dié wat op hulle volg kan kos produseer. Dit was lekker vars.
Wat my persoonlik baie opgeval het, is die graad van verantwoordelikheid waarmee ons insetverskaffers die toekoms aanpak. Ja, natuurlik is daar ook geld te maak as jy sulke uitdagings aanpak, maar om doelwitte te stel, soos opbrengste wat moet verdubbel teen 2030 en insette wat 33% minder moet word, wil gedoen wees. Ek het leiers in die insetbedryf gehoor wat saam met ons produsente besorg is oor ‘n wêreld wat ‘n reuse-voedselsekerheidskrisis in die gesig staar.
Daar is dae wat ek droom van ‘n regering wat dieselfde dringendheid in hulle optredes wys. Praat en beplan gaan niemand se borde vol kos kry nie. Ek was ook opgewonde om te verneem dat daar alreeds ‘n klompie planne in plek is wat ons met hierdie grootse taak gaan help, maar behalwe vir die voorspellings ten opsigte van klimaatsverandering, het ek nie dieselfde warm gevoel gehad oor wat ons te doen staan as die weer gaan lol nie. Iets waaraan ons nog sal moet werk.
Die aanbieding oor Generasie Y (gebore tussen 1981 en 2000) was iets wat elkeen nodig gehad het om hierdie groep mense beter te verstaan. Dit was ook lekker om vir die wêreld te wys hoe lyk van ons plaaswerkers wat nie net ‘n oorpak volstaan nie, maar ‘n substansiële bydrae tot voedselsekerheid lewer. Plaaswerkers met diplomas en grade in landbou moes vir sommiges in georganiseerde arbeid dalk bedreigend gewees het!
Daar is ook ‘n paar nuwe terminologieë tydens Kongres gebore: Ons visevoorsitter, Victor Mongoato, het so terloops in sy verwelkoming na die ontwikkelende kommersiële produsente verwys. Daar is al so baie name aan hierdie groep produsente gegee om bloot net die raskwessie te vermy, maar hierdie naam het my bygebly. Dit sê iets van die proses waarin hulle is, maar dit sê ook iets van die einddoel waarheen hulle op pad is.
Die ander term wat ek in ‘n gesprek met een van ons internasionale gaste opgetel het, is Oostelike Halfrond. Dit is nou Afrika, Asië en die Midde-Ooste. Dalk nie so ‘n mooi reguit lyn soos waarmee ons bekend is tussen die Noorde en die Suide nie, maar baie betekenisvol as dit kom by graanverbruik. Dit is hierdie Oostelike Halfrond wat groot gaan wees en baie gaan groei in graanverbruik in die volgende vyf tot tien jaar.
Die laaste term wat ek nuut bygeleer het, is datawetenskap (data science). Ek het so bewus geraak van al die wetenskaplike data wat op ons produsente afgelaai word, dat dit ‘n ernstige mate van verwerking en interpretasie benodig voor dit bestuursinligting word waarmee jy as produsent besluite kan neem. Graan SA sal beslis ons kapasiteit in hierdie rigting moet uitbrei om ons produsente te help om al die data in ‘n verteerbare vorm te kry sodat dit besluitneming kan vergemaklik.
Dit was ook ‘n riem onder die hart en ‘n mosie van vertroue dat die graanprodusente self besluit het om hulle eie organisasie ordentlik te befonds deur middel van die verhoging van die vrywillige heffing. Dit is brawe leierskap wat geloof in dade omsit deur vir ons en die volgende generasie iets na te laat waarop ons almal trots kan wees. Ons sien uit na ‘n mooi seisoen en sterk groei in die graanmark. Dankie vir almal wat daartoe bygedra het dat ons nuwe rigting het en met vertroue die toekoms kan ingaan.
Publication: April 2014
Section: Editorial