• Login
  • Search Icon

Kom ons kyk na die bio-etanolbedryf

November 2013

WESSEL LEMMER, SENIOR EKONOOM, BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Een van die spesifieke vereistes van die biobrandstofnywerheidstrategie is om die eerste en tweede ekonomie te skakel sodat werksgeleenthede in onderontwikkelde gebiede geskep kan word.

Suid-Afrika se regering erken dat ‘n duidelike regeringsbeleid, regulasies en aansporingsmaatreëls nodig is om die biobrandstofnywerheid te laat ontwikkel. Selfs al beteken dit dat biobrandstof soos die meeste hernubare brandstowwe, ondersteuningsmaatreëls benodig om met konvensionele brandstof te kan meeding.

Die grootste voordeel van die verskaffing van hierdie ondersteuningsmaatreëls aan die biobrandstofbedryf, is dat dit tot werkskepping, betalingsbalansbesparings, energievoorsiening en ‘n bydrae tot ekonomiese groei lei. Hierdie voordele dra by tot die bevolking se hede en toekoms siende dat die 2006-studie aangedui het dat ‘n verpligte inmengkoers van 2% ongeveer 25 000 werksgeleenthede binne die ekonomie sal skep.

Ons regering is van voorneme om die aansporingsmaatreëls vir produksie (beleggers) slegs aan projekte toe te ken wat ‘n bydrae lewer om die 2%-insluitingskoersdoelwit te bereik.

Die biobrandstofnywerheidstrategie is op 5 Desember 2007 deur die kabinet goedgekeur. Graan SA het destyds groot insette gelewer wat ‘n bydrae tot die strategie se finalisering gemaak het. Die regering het egter weens voedselsekerheidsredes besluit dat mielies as grondstof uitgesluit moet word.

Hierdie strategie het ten doel gehad dat die biobrandstofbedryf teen ‘n persentasie van 2% in die nasionale petroleumpoel teen 2013 reeds ongeveer 400 miljoen liter per jaar sou produseer. Suid-Afrika se biobrandstofdoelstellings sluit die volgende in:

  • Lewer ‘n bydrae tot die bereiking van die nasionale hernubare energiebeleidsteikens
  • Lewer ‘n bydrae tot die land se energiesekuriteit
  • Lewer ‘n bydrae tot die verlaging in koolstofvrystellings in die atmosfeer
  • Fasiliteer die ontwikkeling van die landelike ekonomie deur werkskepping, SMME-ontwikkeling ensovoorts
  • Stimuleer landbouproduksie in die onderontwikkelde landbouproduksiegebiede van Suid-Afrika
  • Betrek produsente uit die voormalige tuislande wat geskiedkundig benadeel was om deel te word van die hoofstroom landbou- en energie-ekonomieë

Die finalisering van die biobrandstofprysingsmeganisme

Biodiesel val binne die brandstofbelastingnet en biodieselvervaardigers ontvang ‘n korting van 50% op die algemene brandstofheffing. Bio-etanol val buite die brandstofbelastingnet en kwalifiseer daarom nie vir ‘n korting op die brandstofbelastingwet nie.

Al die hernubare energieprojekte (insluitende biobrandstof) kwalifiseer vir die 50:30:20 afskrywing van kapitaal oor ‘n periode van drie jaar. Hierdie insentiewe was nie voldoende om beleggers te lok om in die biobrandstofsektor te belê nie en die behoefte het ontstaan om ‘n meer bemagtigende en ondersteunende regulatoriese raamwerk daar te stel.

Regulasie rakende die verpligte inmeng van biobrandstof met petrol en diesel

Die verpligte inmeng van biobrandstof in die nasionale brandstofpoel is op 23 Augustus in die Staatskoerant afgekondig. Dit was nie ‘n effektiewe aankondiging nie omdat die regulasie bepaal het dat dit eers in werking sal tree op die dag wat die Minister van Minerale en Energie die datum in die Staatskoerant sou aankondig.

Die regering het voortgegaan en in 2013 die effektiewe datum vir inmenging aangekondig ten spyte van die vertragings wat ervaar word met die finalisering van die prysingsraamwerk. Dit is gedoen om die projekte te ondersteun en in staat te stel om intussen verder te kan ontwikkel.

‘n Implementeringskomitee is in die lewe geroep om te verseker dat die praktiese vereistes nagekom word sodat die inmeng van biobrandstof op die effektiewe datum waarop inmenging verpligtend raak (1 Oktober 2015), wel sal plaasvind. Die komitee se eerste vergadering het op 30 Augustus 2013 plaasgevind. Die biobrandstoftaakspan gaan met hul normale funksies binne die mandaat wat die kabinet gegee het, voort.

Regulasies rakende die petroleumprodukspesifikasies en -standaarde bepaal dat die konsentrasie van bio-etanol wat in petroleum ingemeng kan word, kan varieer tussen 2% tot 10%. Biodiesel kan egter volgens enige van die volgende peile in mineralediesel ingemeng word, naamlik: 5% (B5), 10% (B10), 20% (B20), 30% (B30), 50% (B50) tot 100% biodiesel (B100).

Biobrandstofprojekte is finansieelgewys nie van die aantreklikste projekte om in te belê nie en verskeie prysingstudies is reeds in dié verband uitgevoer. Dit sluit in ‘n ondersoek na die gelykbreekkoste en inmengwaardes van bio-etanol. Werkswinkels is gedurende 2012 met rolspelers gehou en samesprekings met die Nasionale Tesourie en die Departement van Handel en Nywerheid rakende insentiewe, het onder leiding van die biobrandstoftaakspan plaasgevind.

Die prysingsraamwerk vir biobrandstof kan soos volg daar uitsien: Die gelewerde bio-etanolprys = Mogas BFP + sone-differensiaal + korting op brandstofheffing + vermengingswaarde + BTW

Bio-etanol kwalifiseer op hierdie stadium nie vir ‘n korting op die brandstofheffing nie. Verdere samesprekings is tans met die Nasionale Tesourie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens nodig om ‘n toepaslike prysingsmeganisme te ontwikkel. Dit is belangrik om daarop te let dat bio-etanolproduksie uit sorghum die mees aangewese grondstof is vir bio-etanolproduksiedoeleindes.

Die mees algemene grondstowwe vir bio-etanolproduksie wêreldwyd is suikerriet en mielies, maar in Suid-Afrika word voorkeur aan graansorghum en suikerriet gegee. Voldoende hoeveelhede van hierdie grondstowwe word met die nodige ondervinding in Suid-Afrika geproduseer om produksie hiervan te kan uitbrei.

Die biodieselprysingsraamwerk lyk soos volg: Gelewerde biodieselprys = Gasoil 50 ppm Sulphur BFP + sone-differensiaal + korting op die brandstofheffing. Die korting op die brandstofheffing vir biodiesel is 50% van die algemene brandstofheffing.

Die mees algemene grondstowwe wat wêreldwyd vir biodiesel gebruik word, is sojabone, raapsaad (kanola) en tot ‘n mindere mate palmolie. Sojabone en sonneblom is in Suid-Afrika die mees aangewese gewasse vir biodieselproduksie. Genoegsame hoeveelhede van die potensiële grondstowwe word reeds met die nodige ondervinding plaaslik verbou om produksie hiervan te kan uitbrei. In die geval van biodiesel blyk dit dat sojabone die aangewese gewas is om as grondstof te oorweeg.

Die Begrotingsoorsig meld in Hoofstuk 4: Inkomstetendense en belastingvoorstelle,die volgende:

Insentief vir biobrandstofproduksie

Suid-Afrika se biobrandstofstrategie stel agt biobrandstofvervaardigingsaanlegte voor. Soos in ander lande, is ‘n fiskale insentief nodig om die beperkings wat die aanvanklike kapitale koste en risiko’s stel, te kan oorkom. Die voorgestelde insentief sal gebaseer word op die koste wat vir hipotetiese aanlegte geld en wat met wêreldstandaard aanlegte vergelyk.

Die insentief sal voorsiening maak vir die maandelikse prysbewegings van dié grondstowwe wat gebruik word asook bewegings op die pryse van die aanleg se uitsette. Die insentief sal as ‘n jong industrie ondersteuningsmeganisme beskou word wat oor die aanleg se leeftyd van 20 jaar uitgefaseer sal word.

Die aanvanklike koste van die insentief behoort tussen 3,5 sent/liter tot 4 sent/liter vir petrol en diesel te beloop, maar daar is sprake dat dit selfs tot 6 sent/liter kan beloop. Die insentief sal deur middel van ‘n heffing wat in die maandelikse prysbepaling van petrol en diesel ingesluit word, verhaal word.

Die oorsaak van die vertraging in die finalisering van die prysingsraamwerk vir biobrandstof

In onlangse samesprekinge met die suikerbedryf het dit duidelik geword dat die potensiële gebruikers van gewasse anders as sorghum, nie in die bio-etanolbedryf sal belê indien die subsidie alleen op sorghum as verwysingsgrondstof gebaseer gaan word nie.

Gevolglik moes die Departement van Minerale en Energie en die Nasionale Tesourie alternatiewe oorweeg om ander gewasse ook te kan akkommodeer. Terselfdertyd moet waaksaamheid aan die dag gelê word om nie die fiskus onder druk te plaas nie.

Groot volumes van hierdie grondstowwe word plaaslik geproduseer en die ondervinding is in plek om produksie hiervan te kan uitbrei. Intussen word die gebruik van ‘n algemene heffing in stede van ‘n egalisasiefondsheffing ondersoek.

Die kriteria waaraan biobrandstofvervaardigers moet voldoen om in aanmerking vir die subsidieskema te kom, moet ook nog gefinaliseer word en ten laaste moet die insluiting van ander vergelykbare grondstowwe oorweeg word. Die Departement van Minerale en Energie is tans besig met hierdie ondersoeke.

Hierdie departement is ook tans besig om aandag te skenk aan die kabinet se besluit om die hindernisse wat die belegging in die biobrandstofbedryf verhinder, uit die weg te ruim. Dit sluit die volgende in:

  • Die publisering van die datum van 1 Oktober 2015, deur die Departement van Minerale en Energie, waarop inmenging verpligtend word
  • Die dringende finalisering van die finansiële aansporingsmaatreëls met inagneming van die ekonomiese koste en voordele daarvan
  • Dat die Minister van Handel en Nywerheid die vorige lys van goedgekeurde en toelaatbare grondstowwe, soos suiker en sorghum, sal hersien asook uitsluitsel sal gee oor die potensiële invoer van grondstowwe indien nodig in die toekoms
  • Dat die spesifieke voorwaardes vir subsidies en lisensiëring gekoppel word aan die bevordering van kleinskaalse produksie en werkskepping
  • Dat die Departement van Water en Omgewingsake en die direkteursgeneraal van die Departement van Minerale en Energie; die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling; die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming; die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye; die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding asook die Departement van Handel en Nywerheid vergader om ‘n biobrandstof-waterbeleidstandpunt vir die produsente van grondstowwe te ontwikkel
  • Die Departement van Wetenskap en Tegnologie moet versoek word om prioriteit daaraan te gee om ‘n strategiese trust te vestig om sodoende Suid-Afrika aan die voorpunt van tweede en derde generasie biobrandstofnavorsing te plaas

Gegewe bogenoemde uitstaande aspekte en die tegniese ondersoek waarmee die regering tans besig is, lyk dit asof die mikpunt vir 2013 nie bereik kan word nie. Dit blyk ook asof die produksie van biobrandstowwe die aanvanklike teiken van 2% kan oorskry sodra die ondersteunende verpligte inmengingsraamwerk en prysingsraamwerk in plek kom.

Die plaaslike biobrandstofbedryf is in sy kinderskoene, maar het steeds die potensiaal om in die lang termyn te groei.

image

Publication: November 2013

Section: Input Overview

Search