September 2012
Knopwortelaalwurms is verreweg dié aalwurm met die wydste gasheerreeks en is in staat om skade aan feitlik enige gewas te kan aanrig. Hulle is verpligte parasiete en kan net op lewende plantmateriaal voed en voortplant.
Daar is ‘n hele paar knopwortelaalwurmspesies in Suid-Afrika teenwoordig. Meloidogyne javanica en Meloidogyne incognita ras 2 en ras 4 is egter dié knopwortelaalwurmspesies wat die meeste op eenjarige gewasse voorkom.
Verspreiding
Knopwortelaalwurms is oral in produksiegebiede teenwoordig omdat hulle so ‘n wye gasheerreeks het. Die spesifieke knopwortelaalwurmspesies teenwoordig, word bepaal deur die gewas teenwoordig asook deur die voorafgaande wisselbougeskiedenis van ‘n stuk grond.
Voortplanting en lewensiklus
Knopwortelaalwurmwyfies kan reeds bevrugte eiers lê sonder die aanwesigheid van mannetjies. As daar wel mannetjies teenwoordig is, lyk hulle soos ‘n wurmpie en kan nie voed of skade aan die plante aanrig nie.
‘n Enkele wyfie is in staat om in haar leeftyd meer as ‘n duisend eiers te lê. Eiers word in ‘n gelatien eierpakkie gedeponeer sodat die eiers bymekaar gehou kan word en om dit te beskerm teen ongunstige omgewingstoestande en predatore.
Binne-in elke eiertjie ondergaan die larfie sy eerste vervelling (die J2- stadium) en broei slegs uit as omgewingstoestande vir hom gunstig is en as daar genoeg kos beskikbaar is. Sodra die larfie uitgebroei het, moet hy so gou as moontlik ‘n gasheer opspoor en die wortel binnedring.
Hulle dring gewoonlik net agter die punt van die wortel se groeipunt in en beweeg dan deur die wortelweefsel tot waar hulle ‘n permanente voedingsplek inisieer en ontwikkel.
Die selle waarop die larwe dan voed, verander gevolglik in gespesialiseerde voedingselle, wat ook reuseselle genoem word. Sodra die reuseselle geïnisieer is, raak die aalwurm sedentêr, ondergaan nog twee vervellings (J3- en J4-stadiums, wat nie aktief voed nie) totdat hulle eindelik die volwasse stadium bereik.
Dit neem ongeveer 25 dae vir knopwortelaalwurms om hulle lewenssiklus te voltooi, vandat hulle uit die eier uitbroei totdat hulle in ‘n volwasse wyfie ontwikkel. Knopwortelaalwurm kan dus ‘n hele paar generasies gedurende ‘n enkele groeiseisoen produseer.
As daar buitengewone hoë reënval gedurende die seisoen voorgekom het, plant hierdie aalwurms baie vinniger voort en sal die skade wat hulle berokken, ook baie groter wees.
Simptome
Die voedingswyse van hierdie parasiet ontwrig die fisiologie van die plant. Dit is dus nie net die oesopbrengs wat beïnvloed word nie, maar ook die kwaliteit van die oesopbrengs in gevalle waar die produk onder die grond gedra word. Die effek van knopwortelaalwurms word egter dikwels onderskat omdat baie van die simptome verwar kan word met simptome tipies aan plaagdoderskade, voedingstekorte en versuiping.
Bogronds is knopwortelaalwurm-besmette plante verdwerg, groei oneweredig en vertoon geel van kleur. Omdat die aalwurms nie eweredig in die land versprei is nie, sal die simptome wat hulle veroorsaak, ook kol-kol in die land voorkom (Foto 1). As die knopwortelaalwurmbesmetting baie hoog is, sal die plante vrek selfs voordat die produsent kan oes.
Dit is die reuseselle wat die wyfie tydens voeding vestig, wat die kenmerkende galle op die wortels van besmette plante vorm. Die hoeveelheid en grootte van die galle hang af van die hoeveelheid aalwurms wat op daardie tydstip op die plant voed asook die spesies wat in daardie aalwurmpopulasie teenwoordig is.
Die afwesigheid van galle op die plantwortels, veral in die begin van die seisoen, is dus nie noodwendig ‘n aanduiding dat daar nie knopwortelaalwurms teenwoordig is nie. Selfs later in die seisoen kan galletjies baie klein wees en nie altyd sigbaar wees op ‘n gewas soos mielies nie. Indien dit wel gesien kan word, varieer die galle in grootte en hoeveelheid (Foto 2).
Grondbone is weer baie vatbaar vir knopwortelaalwurm. Galle kan nie maklik in die begin van die seisoen gesien word nie, maar teen die einde van die seisoen is daar massiewe galle aan die wortelsisteem en soms aan die peule (Foto 3).
In die geval van peulgewasse wat stikstofbindende bakteriese knoppies vorm, kan die knopwortelaalwurms ook aan daardie knoppies voed en sodoende die plant verhinder om behoorlik stikstof te kan bind (Foto 4).
Galle aan die wortels van knopwortelaalwurm-besmette sonneblomme kan ook duidelik gesien word (Foto 5). Gewasse soos aartappels, wat ondergronds hulle vrugte produseer, se kwaliteit sal negatief beïnvloed word deur knopwortelaalwurmskade (Foto 6).
In die geval van hewige knopwortelaalwurmbesmettings, sal die hele wortelstelsel soos een groot gal lyk met geen sigbare, normale wortelweefsel nie (Foto 7).
Oorlewing
As daar nie ‘n geskikte gewas vir die knopwortelaalwurm is nie, kan hulle op verskeie onkruide oorleef en selfs voortplant. Die beste manier waarop hulle egter die wintermaande kan oorleef, is om nie uit die eier uit te broei nie totdat die omstandighede weer gunstig genoeg is om te kan oorleef.
Die larfie binne-in die eier is ook in ‘n rustoestand en sal nie uitbroei as die omstandighede nie volkome gunstig vir oorlewing is nie. Hierdie eiers kom in die grond en in plantreste wat ná oes in die land agtergelaat is, voor.
Beheer
Aalwurms sal nooit totaal uitgeroei kan word nie, daar sal altyd ‘n paar eiers of aalwurms oorleef, ongeag die beheermaatreël wat deur die produsent toegepas word. Produsente kan slegs poog om die aalwurm getalle laag genoeg te hou sodat hulle skade nie tot ekonomiese verliese kan lei nie.
Deur die volgende maatreëls te kombineer, kan die produsent ekonomiese verliese tot ‘n minimum beperk:
Chemiese beheer
Die meeste produsente steun swaar op chemiese beheer. Volg die instruksies op die etiket tot die letter na. Onvoorspelbare omgewingstoestande veroorsaak dat die effektiwiteit van die middels vir die beheer van aalwurms nie altyd gewaarborg kan word nie. Probeer om chemiese beheer met nog ‘n beheermaatreël te kombineer om die risiko te verminder.
Wisselbou
Wisselbou is belangrik omdat dit nie net die aalwurms onder beheer kan hou nie, maar ook omdat dit die mikrobiese diversiteit in die grond kan verhoog en dus natuurlike vyande wat die aalwurms aanval, aanhelp. Suksesvolle wisselbousisteme sluit in die vatbare gewas (byvoorbeeld mielies) wat opgevolg word met swak gashere of met gewasse wat nie gashere vir die spesifieke aalwurmspesie is nie. Só ‘n sisteem kan slegs suksesvol beplan word as die produsent bewus is van die aalwurmspesies wat teenwoordig is, sodat hy weet watter gewasse/kultivars hy in so ‘n sisteem moet insluit.
Weerstandbiedende kultivars
Weerstandbiedende kultivars is ‘n koste-effektiewe, omgewingsvriendelike beheermaatreël wat maklik in reeds bestaande plaagbeheerprogramme ingesluit kan word. Dit is weer eens essensieel om te weet watter aalwurmspesies in die land voorkom omdat kultivars slegs weerstand teen een van die spesies mag hê.
Waar moontlik en indien beskikbaar vir die spesifieke spesie in die land teenwoordig, is dit ‘n goeie keuse om weerstandbiedende kultivars in ‘n bestaande produksiesisteem in te sluit.
Publication: September 2012
Section: Input Overview