March 2016
PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker, SAKKIE KOSTER, Pioneer en NICO BARNARD, Pannar
Presisieboerdery is ‘n beginsel wat alalgemeen in omgang en in gebruik is. Die variasie van bemesting is ‘n algemene praktyk by sommige produsente en daarom begin verskeie produsen te al kyk na die gebruik van verskillende kultivars om die potensiaal van die hulpbron te komplementeer en uit te brei.
Met die keuse van hierdie kultivars is dit baie belangrik dat elke produsent presies weet hoe om die kultivar te kies wat by elke produksiepotensiaal sal pas.
Dit is ongelukkig só dat ‘n spesifieke kultivar nie noodwendig die beste keuse vir beide die laer- sowel as die hoërpotensiaalgronde is nie. Dit sal soms sin maak om verskillende kultivarpakkette aan te koop en op verskil - lende potensiaal-gronde aan te plant.
Ten einde te kan besluit watter kultivars waar geplant moet word, is daar inligting by onder andere die LNR, saadmaatskappye en talle ander instansies beskikbaar. Van die inligting wat die besluit vergemaklik, sal die oessekerheidswaardes by verskillende potensiaaltoestande, die gemiddelde opbrengste, die opbrengsgeneigdheid en die opbrengsstabiliteit insluit. Hoe langer ‘n kultivar in die proewe is, hoe beter sal sy inligting wees en hoe makliker kan hierdie inligting geïnterpreteer word.
Indien jy nie presisieboerdery wil toepas nie, kan hierdie inligting netsowel gebruik word om kultivars vir jou boerdery te kies. Dit is nie noodwendig dat die kultivar wat die beste opbrengste in die studiegroep se kultivarproewe gelewer het die beste vir jou boerdery is nie. Dit is dus van kardinale be lang dat jy as produsent weet hoe om ‘n kultivar vir jou boerdery te kies.
Oessekerheidswaardes
Die oessekerheidswaardes is ‘n afleiding van die inligting wat deur die regressiegrafiek van ‘n kultivar uitgebeeld word. Hierdie oessekerheidswaardes word verkry van die regressiegrafiek by ‘n 90%-waarskynlikheidspeil.
Dit beteken dat die oessekerheidswaardes van ‘n kultivar by ‘n sekere potensiaal die minimum opbrengs is wat daardie kultivar in nege uit tien gevalle kan behaal. By die berekening van oessekerheidswaardes (wat in opbrengste aangedui word) moet die opbrengsgeneigdheid, gemiddelde opbrengs en stabiliteit ook in ag geneem word.
Die opbrengsgeneigdheid, wat die potensiaal van ‘n kultivar aandui, kan van die helling van die regressielyn wat die kultivar uitbeeld, afgelei word. Indien die helling groter as 1 is, dui dit op ‘n hoërpotensiaalkultivar; kleiner as 1 dui dit op ‘n laerpotensiaalkultivar, terwyl ‘n waarde naby of gelyk aan 1 dui op ‘n wydaangepaste kultivar met ‘n regressielyn ewewydig aan die gemiddelde lyn.
Opbrengsstabiliteit word deur die D2-waarde aangedui. Hoe meer die D2-waarde neig na nul, hoe meer stabiel en voorspelbaar is die kultivar in terme van opbrengs. Hoe groter die D2-waarde is, hoe meer sal opbrengs tussen seisoene wissel.
In die oessekerheidstabelle in die Mielie-inligtingsgids (MIG), wat jaarliks deur die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) saam gestel is, word die volgende inlig - ting verskaf:
Indien die inligting in Tabel 1 as voorbeeld geneem word, dan is kultivar A die kultivar met die hoogste gemiddelde opbrengs oor al die proewe heen. As jou plaas 6 t/hapotensiaal het, sal dit wys wees om kultivar A te kies. Maar as jou plaas ‘n 3 ton-potensiaal het, sal kultivar D dalk ‘n beter keuse wees om aan te plant.
Keuse van kultivars
Die prosedure wat gevolg word vir die keuse van kultivars, is kortliks soos volg:
As produsent moet jy aan die einde van elke seisoen ‘n baie belangrike besluit neem, naamlik: Watter kultivars gaan die volgende jaar geplant word? ‘n Korrek beplande kultivarkeuse kan beslis ‘n belangrike bydrae lewer om risiko te verminder en moet ‘n belangrike onderdeel van ‘n produsent se produksiebeplanning uitmaak.
Kultivarbeplanning
Kultivars verskil van mekaar in een of meer van ‘n verskeidenheid eienskappe en elkeen het dus ‘n eiesoortige aanpasbaarheid en opbrengspotensiaal. Hierdie kultivarverskeidenheid stel alternatiewe beskikbaar wat goed benut kan word en die volgende is belangrike riglyne wat oorweeg moet word by kultivarbeplanning:
Die meerderheid van kultivars word jaarliks onder leiding van mnr Thinus Prinsloo en sy span by die LNR-IGG (met finansiële ondersteuning van die Mielietrust) getoets omdie bogemelde eienskappe te kan bepaal. Die verskillende saadmaatskappye doen ook proewe om hierdie inligting te verkry. Jy as produsent moet hierdie inligting by jou verskaffer aanvra. Hulle sal jou vir seker kan adviseer oor watter kultivar op watter potensiaal gronde aangeplant moet word.
Navrae
Vir enige navrae oor die artikel, kontak Pietman Botha by 082 759 2991 of pietmanbotha@gmail.com.
Publication: March 2016
Section: Focus on