• Login
  • Search Icon

Ken jou onkruiddoder: Deel 18

March 2014

Deel 18: Onkruiddodergedrag en -lotsbestemming in grond

image

CHARLIE REINHARDT, buitengewone professor, Universiteit van Pretoria en dekaan: Villa Academy

Vir onkruiddoders om onkruiddodende werking te hê, moet ‘n bepaalde drempelwaarde-hoeveelheid daarvan die setel van werking binne-in plante bereik.

Die hoeveelheid onkruiddoder wat die eindbestemming (= setel van werking) bereik, sal afhang van die hoeveelheid wat deur die plant opgeneem is asook van dít wat binne-in die plant met die onkruiddoder gebeur op pad na die setel van werking.

Omdat die meeste onkruiddoders slegs effektief is wanneer dit direk aan grond toegedien word, gaan die fokus hier val op die invloed van grondeienskappe op die werking van onkruiddoders. Byvoorbeeld, van die ongeveer 30 soorte onkruiddoders (aktiewe bestanddele) wat op mielies geregistreer is, word 13 daarvan na-opkoms toegedien, twaalf voor-opkoms en vyf beide voor- en na-opkoms.

Voor-opkomstoegediende onkruiddoders word direk aan grond toegedien en moet verskeie grond- en omgewingsfaktore trotseer alvorens dit deur plantwortels opgeneem word – die roete na setels van werking is dus langer as in die geval van na-opkomstoegediende middels. Derhalwe is die kombinasie van faktore wat voor-opkomsmiddels se onkruiddodende werking of effektiwiteit bepaal veel meer  ompleks: Onkruiddodereienskappe + grondeienskappe + reënval + temperatuur + planteienskappe.

Grondeienskappe wat onkruiddoderwerking beïnvloed

Grondfaktore kan onderverdeel word in drie kategorieë: Biologies, chemies en fisies. Ons behandel hier die belangrikste faktore wat daaronder sorteer.

Biologiese faktore

  • Plantwortels – onkruiddoders verskil in hul vermoë om deur plantwortels opgeneem te word en hierdie vermoë varieer van plantsoort tot plantsoort.
  • Grondmikrobes – verskeie soorte mikroörganismes benut onkruiddoders as voedselbron omdat feitlik alle onkruiddoders organies van aard is. Sekere grondmikrobes het ‘n voorliefde vir bepaalde onkruiddoders en sulke “spesialis” mikrobes kan erg nadelig wees vir onkruiddoderwerking – die verskynsel waar sekere grondmikrobe-populasies ‘n skielike opbloei beleef in reaksie op ‘n grondtoegediende onkruiddoder, word na verwys as “versnelde” (enhanced) onkruiddoder-afbraak. ‘n Mens moet katvoet loop om hierdie verskynsel nie met weerstand van onkruid teen onkruiddoders te verwar nie, aangesien die gevolge ooreenstem en wel: Swak onkruidbeheer wat oor tyd vererger by gebruik van dieselfde onkruiddoder oor en oor.
  • Benutting van gewasreste, wat die fisiese verwydering daarvan vanaf die land behels, verwyder terselfdertyd ook onkruiddoder-residu wat binne-in die plantmateriaal in aktiewe of onaktiewe vorm teenwoordig kan wees. Streng wetgewing is in plek om te sorg dat vlakke van plaagdoder-residu in primêre voedselprodukte nie voorgeskrewe drempelwaardes oorskry nie.

Chemiese faktore

  • Grond is ‘n hoogs komplekse kompartement van die omgewing wat enorme uitdagings bied vir behoud van die integriteit (aktiwiteit) van plaagdoders in die algemeen. Anders as voedingselemente, wat anorganies van aard is, is onkruiddoders organiese verbindings wat by die geringste verandering in molekuulstruktuur, onskadelik gestel kan word.
  • Grondvog is ‘n belangrike katalisator vir die chemiese inaktivering van onkruiddoders. Die H+ en OH- van H2O (water) is onderskeidelik verantwoordelik vir óf reduksie óf oksidasie van die onkruiddodermolekules waarmee dit reageer; in geval van beide hierdie reaksies gaan onkruiddoderaktiwiteit en -werking verlore.
  • Grond pH is op verskeie maniere belangrik vir onkruid doderwerking:
    • pH beïnvloed die aktiwiteit van grondmikrobes; sommige soorte word deur lae pH bevorder/benadeel en ander deur hoë pH, wyl ander soorte neutrale toestande (pH ± 7) verkies.
    • pH bepaal die lading (positief + of negatief -) van onkruiddodermolekules; lading is bepalend vir die sterkte waarmee molekule op gronddeeltjies vasgehou word.
    • Gronddeeltjies (klei en humus) se lading of katioon uitruilvermoë (KUV) is ook afhanklik van grond pH.
    • Die sterkte waarmee onkruiddoders op gronddeeltjies vasgelê (adsorbeer) word, is in die geval van sekere onkruiddoders sterk pH-afhanklik, maar in ander gevalle nie.

Grond pH en dan spesifiek die verhoging daarvan deur bekalking, hou gevare in vir gewassoorte wat gevoelig is vir triasien-onkruiddoders (byvoorbeeld atrazine en terbuthylazine) indien daar aktiewe triasien-residu vanaf die vorige seisoen oorgedra is. ‘n Voorbeeld is waar sonneblom/bone (gevoelig vir triasiene) die opvolggewas is, met mielies (verdraagsaam) die vorige gewas waarin ‘n triasien gebruik is.

Triasiene dra positiewe lading by lae grond pH wat maak dat dit sterk bind aan negatief-gelaaide gronddeeltjies (hoe meer negatiewe lading daar op gronddeeltjies is, hoe hoër is KUV); by pH 7 (neutraal) en hoër (alkalies) dra triasiene nie lading nie en is gevolglik swak aan grond gebind en dus vrylik beskikbaar vir opname deur plantwortels.

Fisiese faktore

  • Grondtekstuur verwys na die sand-, slik- en klei-inhoud van grond. Die sandfraksie het sodanig geen invloed op onkruiddoders nie en die kleifraksie speel ‘n belangrike rol. Kleiminerale verskil baie wat betref hul vermoë vir vaslegging (adsorpsie) van onkruiddoders. Kaolinietklei oorheers in goedgeloogde grondtipes, terwyl montmorilloniet die dominante kleimineraal in “swaar” grondtipes (byvoorbeeld turfgrond) is. Die baie groter KUV (negatiewe ladingskapasiteit) van montmorilloniet as kaoliniet (± 10 groter), maak van eersgenoemde kleimineraal ‘n baie sterker vaslegger van onkruiddoders wat positiewe lading dra in grond – verwys bespreking van triasiene onder die grond pH-faktor. Klei se rol by vaslegging van onkruiddoders verklaar waarom die voorgeskrewe dosis van onkruiddoders laer is in ligte grond en dan styg namate die klei-inhoud (kleipersentasie) van grond toeneem. Dit kom basies daarop neer dat minder onkruiddoder nodig is vir onkruidbeheer op ‘n sandgrond omdat dit weens relatief swak vaslegging meer vrylik beskikbaar is vir plantopname as in ‘n swaarder grond.
  • Sandgrond se struktuur is gewoonlik swak weens lae organiese materiaalinhoud, terwyl turfgrond ‘n goeie struktuur het danksy die hoë organiese fraksie daarin. Sogenaamde swaar gronde kan barste ontwikkel waarlangs onkruiddoders weens “voorkeurvloei” dieper as wat wenslik is die grond kan binnedring – dit is een manier waarop ondergrondse waterbronne met plaagdoders besoedel kan raak.
  • Die organiese fraksie van grond wat lading dra, met ander woorde die humusfraksie en nie die vars of ongekomposteerde organiese materiaal nie, is ordes belangriker as kleiminerale, wat betref die vaslegging van onkruiddoders in grond – humus het bindingsposisies vir neutrale, positief- en negatief-gelaaide onkruiddoders. Omdat die organiese materiaalinhoud van grond egter oor kort afstande op ‘n land kan varieer, word dosisvoorskrifte eerder op die minder variërende klei-inhoud gebaseer.
  • Water is die medium waarin onkruiddoders deur plantwortels opgeneem word. By lae grondvog neig onkruiddoders om sterk aan gronddeeltjies te bind en is gevolglik nie vrylik beskikbaar vir plantopname nie – ligte reën of besproeiing binne enkele dae ná onkruiddodertoediening aan grond, word op sekere etikette as ‘n vereiste vir effektiewe onkruiddoderwerking gestel. In oornat grond en met hoë reënval bestaan die risiko dat die onkruiddoder (opgelos in water) die grondprofiel té diep binnedring – vir onkruiddoders om deur onkruid opgeneem te word, moet dit ten minste in die wortelsone en daar waar onkruidsaad ontkiem in genoegsame hoeveelhede teenwoordig wees.

image

Opsommend

Uit die voorafgaande bespreking staan bepaalde faktore en kombinasies van faktore uit as hoofbepalers van onkruiddoderwerking en -effektiwiteit. Onder toestande wat bevorderlik is vir plantopname (gewas plus onkruid) van onkruiddoders moet in ag geneem word dat ‘n “oormaat” opname daarvan weliswaar goeie onkruidbeheer in die hand werk, maar terselfdertyd verhoog dit die risiko van gewasskade (lees meer hieroor in Deel 17).

Toestande wat by uitstek bevorderlik is vir ‘n “oormaat” opname van grondtoegediende onkruiddoders, is die kombinasie: Onkruiddoder wat swak op gronddeeltjies gebind is plus hoë grondvog plus ligte grond – in praktyk duik so ‘n situasie maklik op waar klei-inhoud <10% is en die humusfraksie laag is, byvoorbeeld waaisandgronde in die Noordwes Provinsie en die Vrystaat.

Aangesien gewasplante ten beste onkruiddoderverdraagsaam en nie onkruiddoderweerstandbiedend is nie en daar soveel faktore is wat onkruiddoderwerking beïnvloed, is dit uiters belangrik dat gebruikers van onkruiddoders nougeset moet hou by etiketvoorskrifte.

Vir meer inligting, kontak gerus vir dr Charlie Reinhardt by 083 442 3427.

Bronne en verdere leesstof

Cobb, A. & Reade, J.P.H. 2010. Herbicides and plant physiology. Wiley-Blackwell.
Klingman, G.C. & Ashton, F.M. 1982. Weed science: Principles and practices. John Wiley & Sons, New York.
Weed Science Society of America. 2007. Herbicide handbook, 9th ed. Lawrence, KS, VSA.

Publication: March 2014

Section: Input Overview

Search