• Login
  • Search Icon

Ken jou onkruiddoder: Deel 15

December 2013

image

Byvoegmiddels vir onkruiddoders: Wanopvattings en beste praktyke
 

DR BRIAN DE VILLIERS, PRODUKBESTUURDER: BYVOEGMIDDELS, VILLA CROP PROTECTION; LEKTOR: VILLA ACADEMY EN PROF CHARLIE REINHARDT, BUITENGEWONE PROFESSOR: ONKRUIDWETENSKAP, DEPARTEMENT PLANTPRODUKSIE EN GRONDKUNDE, UNIVERSITEIT VAN PRETORIA; DEKAAN: VILLA ACADEMY

Byvoegmiddels word algemeen in tenkmengsels saam met verskeie soorte plaagdoders gebruik om plaagdoderwerking te bevorder. Verreweg die grootste volume byvoegmiddels word saam met onkruiddoders gebruik om die optimale benatting van onkruide te verkry en/of onkruiddoderopname deur die blare van onkruide te bevorder.

Onkruiddoders met kontakwerking se beskadiging van onkruide is tot ‘n groot mate beperk tot daardie plantdele waarmee die spuitstofdruppels kontak gemaak het – byvoorbeeld parakwat en glufosinaat wat ‘n beperkte translokasie binne-in plante het en gevolglik is hul effektiewe werking afhanklik van deeglike benatting van die teiken.

Sistemiese onkruiddoders (byvoorbeeld glifosaat en 2,4-D) is beweeglik binne-in plante en hul effektiewe werking is tot ‘n groot mate afhanklik van die hoeveelheid wat deur onkruidblare opgeneem word en die spoed waarteen opname plaasvind. Onkruide is soos meeste plante toegerus met strukture en materiale op hul blaaroppervlaktes wat die afwering van natuurlike vyande, skadelike stowwe en stremmingstoestande ten doel het – sien Foto 1.

image

Die hoofgroepe byvoegmiddels vir onkruiddoders is die volgende:

  • Buffers en versuurders
  • Soutbyvoegmiddels
  • Benatters
  • Olies
  • Kleefmiddels
  • Neerslaghulpmiddels (anti-wegdrywing)

Alhoewel byvoegmiddels al vir dekades gebruik word, is daar egter steeds verskeie wanopvattings oor hul eienskappe en gebruike; minstens in Suid-Afrika, en dit is sekerlik dié landbou-chemikalieë-groep waaroor die minste kennis bestaan.

In hierdie artikel gaan die top tien wanopvattings rondom byvoegmiddels bespreek word sodat verwarrende inligting uitgeskakel kan word ten einde te verseker dat hierdie dikwels onderskatte produkte optimaal benut kan word.

Top 10 wanopvattings

Wanopvatting 1: Buffers moet ‘n standaardpraktyk wees
Die aanpassing van die pH (suur/alkaliese gehalte) van water wat vir die opmaak van spuitmengsels gebruik word, is al vir verskeie jare reeds algemene praktyk. Watergehalte is belangrik, want water maak in meeste gevalle meer as 90% van die spuitmengsel uit (byvoorbeeld: 2 kg produk toegedien in 200 liter water = 1% produk en 99% water).

Sekere onkruiddoders is gevoelig vir óf lae pH (suur) óf hoë pH (alkalies) spuitwater. Sommige onkruiddoders is chemies reaktief (onstabiel weens reaksie met chemiese verbindings in spuitwater) by water pH groter as sewe (alkaliese toestand), terwyl ander soorte onkruiddoders weer onstabiel kan wees onder suurtoestande.

Die sulfoniel ureum-onkruiddoders kan deur ‘n lae water pH (suurtoestand) benadeel word en vaar beter in water waar geen buffers bygevoeg is nie. Verder kan ‘n lae pH soms fisiese onverenigbaarheid tussen produkte in die spuittenk veroorsaak wat kan lei tot flokkulasie, presipitasie en ander ongewenste reaksies. Mengsels van glifosaat en hormoondoders (byvoorbeeld 2,4-D en MCPA) is geneig tot onverenigbaarheid as die spuitoplossing versuur sou word (sien Foto 2).

Volg ten alle tye etiketriglyne in dié verband en gebruik buffers slegs in kombinasie met daardie produkte waarvoor dit geregistreer is kragtens Wet 36 van 1947.

image

Wanopvatting 2: Buffers verlaag alle spuitwater pH na voorafbepaalde vlakke
Misverstand hieroor kan lei tot swak onkruid- en plaagbeheer. Daar word byvoorbeeld deur sekere groepe geglo dat indien die buffer teen die aanbevole dosis bygevoeg word, die pH van die water sal verander na ‘n spesifieke waarde, byvoorbeeld pH 5. Onthou dat verskillende waterbronne variërende bufferkapasiteite het en dat buffers nie altyd dieselfde vaar in verskillende waterbronne nie.

Die buffer verlaag die pH van water gewoonlik na ‘n vlak iewers in ‘n reeks pH-waardes, byvoorbeeld tussen pH 4 en pH 6. Goeie kwaliteit buffers sal die meerderheid waterbronne in Suid-Afrika se pH verlaag na ‘n aangewese reeks toe. Daar is wel soms “uitskieter” waterbronne waar selfs goeie kwaliteit buffers kan sukkel om die gewenste pH-reeks te bereik.

Dan is daar ook die gevalle waar water baie min soute bevat en min bufferkapasiteit het. Indien die verkeerde buffer met sulke water gebruik word, sal dit veroorsaak dat die spuitwater pH te laag daal. Wees dus bedag op wat die werklike of gemete waterkwaliteit is en maak seker dat die buffer die pH na die gewenste vlak kan verlaag. Té hoë water pH kan skadelik wees, maar té lae pH-waardes kan vir ander redes net so skadelik wees.

Wanopvatting 3: Organiese suurbuffers verhoog die elektriese geleidingsvermoë van spuitoplossings en is dus nadelig vir soutgevoelige onkruiddoders
Organiese suurbuffers het gewoonlik ‘n asynreuk en is die mees algemene buffers op die mark. Jare gelede is daar ‘n persepsie geskep dat hierdie produkte onkruiddoders benadeel omdat hulle die elektriese geleidingsvermoë (soutinhoud) van spuitoplossings verhoog.

Asynsuurbuffers verhoog wel die elektriese geleidingsvermoë (EG) van spuitoplossings, maar dit is gewoonlik glad nie nadelig nie, omdat die EG verhoog word met neutrale ione wat geen nadelige effek het nie. Dieselfde argument geld vir die ammoniumsulfaatbyvoegmiddels wat saam met glifosaat gebruik word. Hierdie produkte verhoog ook die EG, maar dan met voordelige ione. Die stelling dat ‘n hoë EG-waarde altyd nadelig vir onkruiddoders is, is dus totaal onwaar.

As die hoë EG-waarde die gevolg van ione, soos kalsium (Ca2+), magnesium (Mg2+) en natrium (Na+) is, is verhoogde EG wel nadelig want hierdie ione kan ‘n chemiese reaksie met aktiewe bestanddele (byvoorbeeld glifosaatonkruiddoder) ondergaan en aktiwiteit inboet, maar as hoë EG die gevolg van sekere organiese sure of ammoniumsulfaat is, is daar nie nadele aan verbonde nie. ‘n Hoë EG-waarde is dus nie die probleem nie, maar eerder die tipe ioon wat die hoë EG veroorsaak.

Wanopvatting 4: Byvoegmiddels met veelvoudige komponente is die effektiefste
Daar bestaan ‘n geloof dat byvoegmiddels wat verskeie eienskappe besit, altyd die effektiefste is. Dit is nie ongewoon dat sekere byvoegmiddels benatting/verspreiding, versuring/buffer, herbenatting asook ander eienskappe besit nie. Die fout wat egter gemaak word, is om aan te neem dat die produk die volle mate van elke eienskap besit.

Hoe meer komponente met verskillende eienskappe in ‘n byvoegmiddelformulering ingesluit word, hoe minder van elk is in die formulering teenwoordig. In vele gevalle kan ‘n byvoegmiddelformulering ‘n groot deel van een komponent bevat, maar kan dalk net ‘n beperkte hoeveelheid van die ander komponente bevat. Hierdie multifunksionele byvoegmiddels is baie handig en kan ook uiters effektief wees.

Maak egter eers seker of die produk die volle eienskappe besit wat jy verlang van ‘n spesifieke onkruiddoder. Buffers of ammonium sulfaatbyvoegmiddels wat addisioneel ook benatters bevat, kan dikwels te min benatter bevat om die volle funksie van ‘n ware benatter uit te voer.

Wanopvatting 5: Benatters en olie-byvoegmiddels vernietig die waslaag van die blaar kutikula (cuticle stripping) en veroorsaak gewasskade
Hierdie persepsie is baie algemeen en selfs sekere persone in die landbouchemiese bedryf verkondig dit. Benatters en olies veroorsaak gewoonlik geen skade aan gewasplante nie. Beide hierdie groepe byvoegmiddels kan die waslaag bevogtig of dit kan tot ‘n mate die waslaag meer oplosbaar maak vir verhoogde onkruiddoderopname. Dit is dus onwaarskynlik dat geregistreerde dosisse van hierdie produkte op hulle eie, skade aan die gewas kan veroorsaak.

In sekere uitsonderlike gevalle, soos onder warm, droë weerstoestande, kan olies dalk beperkte blaarskroei veroorsaak. In omtrent al die gevalle is dit egter nie die primêre oorsaak van die skade nie. Benatters en olies kan wel die verspreiding van druppels tot so ‘n mate verhoog, dat die onkruiddoder konsentreer op ‘n sekere deel van die plant en skroei veroorsaak. Warm, droë toestande veroorsaak dat spuitwater vinnig uit druppels verdamp en dat hoë konsentrasies van aktiewe bestanddele vinnig vorm.

Indien daar dus skroei voorkom, kan dit die onkruiddoder of ‘n ander landbouchemiese middel in ‘n tenkmengsel wees wat skroei en nie die byvoegmiddel nie. Selfs skroei as gevolg van onkruiddoders gebeur selde, behalwe in die geval van kontakdoder soos parakwat.

Wanopvatting 6: Alle byvoegmiddels in ‘n sekere groep op die Suid-Afrikaanse mark is dieselfde en daarom kan produkte eenvoudig op grond van prys vergelyk en aangeskaf word
Hierdie wanopvatting is baie keer die oorsaak van swak onkruidbeheer. Die ammoniumsulfaatbyvoegmiddels wat noodsaaklik is om saam met glifosaat gebruik te word, is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Daar is byvoorbeeld produkte wat 500 gram/liter ammoniumsulfaat bevat en daar is vele produkte wat heelwat minder as dit bevat. Hierdie produkte met relatief lae ammoniumsulfaat, is soms van die sogenaamde multifunksionele produkte wat addisionele byvoegmiddels bevat.

Alhoewel die addisionele komponente in die multifunksionele produk voordelig kan wees, moet die ammoniumsulfaatkonsentrasie in die formulering verlaag word om plek te maak vir die ander komponente. Dieselfde geld ook vir al die ander byvoegmiddels in die multifunksionele produk. Moenie byvoegmiddels volgens prys alleen vergelyk nie, vergelyk dit eerder op grond van waarde vir geld, met ander woorde volgens die bydrae wat dit tot onkruidbeheer gaan maak.

Wanopvatting 7: Sekere unieke byvoegmiddels is vrygestel van registrasie volgens Wet 36 van 1947
Byvoegmiddels, net soos onkruid-, swam- en insekdoders, moet geregistreer wees en moet ‘n L-nommer hê. Geen byvoegmiddels is vrygestel van hierdie registrasie nie. Indien daar byvoegmiddelaansprake oor die produk gemaak word, moet die produk ‘n L-nommer besit. Geen landbouchemiese maatskappy sal die onkruidbeheer van hulle onkruiddoders kan ondersteun indien ‘n ongeregistreerde byvoegmiddel gebruik word nie.

Moet onder geen omstandighede sulke ongeregistreerde produkte gebruik nie. Dit kan ‘n mens duur te staan kom – swak onkruidbeheer lei tot verlaagde gewasopbrengs en direkte beskadiging van die gewas met die spuitstof het uiteraard ook skade tot gevolg.

Wanopvatting 8: Die gebruik van byvoegmiddels maak dit moontlik om laer dosisse te gebruik as dié wat geregistreer is
Soms word beweer dat, indien sekere byvoegmiddels gebruik word, daar ‘n laer, ongeregistreerde onkruiddoderdosis toegedien kan word. Hoeveel keer het jy al die volgende stelling gehoor: “Indien my byvoegmiddel saam met glifosaat gebruik word, kan die glifosaatdosis met die helfte verminder word!” Indien so ‘n stelling gemaak word, moet die rooiligte onmiddellik begin flikker.

Byvoegmiddels is ontwerp om die onkruiddoder se werking te optimaliseer en te stabiliseer onder ‘n verskeidenheid van omgewingstoestande. Dit is nié ‘n manier om onkruiddoderdosisse te verlaag nie.

Chemiese maatskappye doen jare lank navorsing om by die regte, aanbevole dosis uit te kom. Met verlaagde dosisse is onvoldoende onkruidbeheer gewaarborg en kan dit ook lei tot die opbou van onkruid weerstand teen onkruiddoders. Daarby is verlaagde dosisse ongeregistreerd en dus teen die wet.

Wanopvatting 9: Byvoegmiddels werk nie
Daar is ongelukkig nog mense wat glo dat byvoegmiddels nie werk nie en net nog ‘n onnodige komponent in die spuittenk is. Dit is ‘n totaal verkeerde opvatting, want met die gebruik van die korrekte byvoegmiddel, kan produkte se effektiwiteit verhoog word (Foto 3). Die bydrae van byvoegmiddels is gewoonlik die grootste onder sub-optimale toestande, soos lae humiditeit of as onkruiddoders met swak kwaliteit water toegedien word. Onder optimale toestande is die bydrae van byvoegmiddels gewoonlik kleiner, maar selfs ‘n 5% tot 10% verhoging in beheer kan die verskil tussen aanvaarbare en onaanvaarbare onkruidbeheer beteken.

Dit is egter belangrik dat goeie kwaliteit byvoegmiddels ten alle tye gebruik word.

Wanopvatting 10: Sekere byvoegmiddels verander die eienskappe van onkruiddoders
Dit word dikwels verkeerdelik geglo dat sekere byvoegmiddels die spoed van werking van glifosaat tot so ‘n mate sal verhoog dat die onkruiddoder totaal verskillend sal reageer as wat dit gewoonlik doen.

Sekere byvoegmiddels het wel die vermoë om die spoed van werking te verhoog, maar hierdie verskil is gewoonlik binne perke. Enige drastiese afwyking van ‘n onkruiddoder se natuurlike werkswyse kan nadelig vir onkruidbeheer wees, byvoorbeeld ‘n oormatig vinnige skadelike uitwerking op die blare, kan translokasie van die onkruiddoder na die plantwortels benadeel.

Byvoegmiddels is ontwerp om die inherente effektiwiteit van onkruiddoders te komplementeer, met ander woorde dit kan wel veroorsaak dat onkruide meer effektief en selfs vinniger beheer word, maar dit is hoogs onwaarskynlik dat byvoegmiddels enige drastiese veranderings in die spoed van werking van ‘n onkruiddoder gaan meebring.

Byvoegmiddels se doel is nié om onkruiddoders se werking te verander nie. Meeste van hierdie aansprake is ongegrond en is gewoonlik nie op wetenskaplike feite gebaseer nie.

Onthou ten slotte

Onkruiddoderbyvoegmiddels wat direk op onkruid toegedien word, is noodsaaklike produkte en met korrekte gebruik kan dit die verskil tussen goeie en swak onkruidbeheer beteken. Dit is egter belangrik om die korrekte byvoegmiddel vir ‘n spesifieke onkruiddoder te kies.

Onthou dat daar groot verskille in die formulering van byvoegmiddels is. Moet nooit byvoegmiddels net bloot op grond van prys beoordeel nie. Kies eerder die produk wat die beste waarde vir geld is omdat dit die grootste bydrae tot onkruidbeheer gaan maak.

Vir navrae in verband met byvoegmiddels, skakel gerus vir Brian de Villiers by 082 880 0974; vir navrae oor onkruiddoders/onkruidbeheer kan prof Charlie Reinhardt gekontak word by 083 442 3427.

Publication: December 2013

Section: Input Overview

Search