September 2013
DR ANNEMIE ERASMUS, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE
In Suid-Afrika is sekere insekplae belangrik en hou só ekonomiese implikasies in vir die verbouing van die gewas. Om die regte insekbeheer toe te pas, is dit belangrik om die insek wat die skade vooroorsaak, akkuraat te identifiseer.
Sodra die insek reg geïdentifiseer is, is dit net so belangrik om die biologie en lewensiklus daarvan te ken om die regte beheermaatreëls op die korrekte tyd toe te pas. In hierdie artikel word ses van die belangrikste mielie-insekplae bespreek om identifikasie van die plaag makliker te maak sou een van die plae in die veld raakgeloop word.
Die belangrikste insekplaag van mielies, is die stamboorders. In Suid-Afrika bestaan die stamboorderkompleks uit drie spesies, naamlik die Afrika mieliestamboorder (Busseola fusca), die Chilo boorder (Chilo partellus) en die pienk stamboorder (Sesamia calamistis).
Daar kom twee tot drie duidelik afgebakende motvlugte per seisoen vir die Afrika stamboorder (Foto 1) voor. Mielieplante word gewoonlik besmet deur óf die eerste óf tweede generasie motvlug, afhangend van die plantdatum.
Wyfiemotte lê eierpakkies agter die blaarskede. Pas uitgebroeide larwes is donkerbruin van kleur en word ligter namate hulle ouer word. Pas nadat larwes uitgebroei het, migreer hul opwaarts na die kelk waar hulle begin voed.
Wanneer die skade uitgroei, vertoon dit as “venstertjies” op kelkblare. Groter larwes vreet regdeur die kelkrol sodat kelkblare ‘n ry gate vertoon as hulle uitgroei, en staan bekend as “haelkorrel”-skade (Foto 2).
Indien die groeipunt van die plant beskadig word, lei dit tot “dooiehart”-simptome (Foto 3). Larwes bly in die plantkelk vir ‘n lang tydperk voordat hulle in die stam inboor. Die duur van die larwale stadium is ongeveer ses weke, waarna larwes papies word. Larwes oorwinter in stoppelreste wat die hoofbron van besmetting in die volgende seisoen is.
Die Chilo boorder (Foto 4) het ‘n kort lewensiklus wat lei tot grootskaalse oorvleueling van generasies en ‘n aanhoudende toename in larwale getalle. Die Chilo boorder kan tot vyf generasies per seisoen hê.
Motte lê skubvormige eiers bo en onder op blare wat dakpansgewys gerangskik word en vertoon soos geel vlekkies op blare. Larwes van die Chilo boorder is roomwit van kleur met vier rye kolletjies, twee op die rug en een op elke sy. Larwes migreer, soos die Afrika stamboorder, na die kelk en voed vir ongeveer 10 tot 14 dae in die kelk voordat hulle uitklim en die stam binnedring.
Skadesimptome stem ooreen met dié van die Afrika stamboorder. Larwes word passief en oorwinter in stamme of agter blaarskedes van stamme wat op die grond lê ná die oesproses. ‘n Ware diapouse larwe, soos in die geval van die Afrika mieliestamboorder, is dus nie teenwoordig nie en indien temperature styg, kan die larwes selfs gedurende die winter verder tot volwassenes ontwikkel.
Die pienk stamboorder (Foto 5) kom meestal voor in kusstreke waar dit ‘n gewigtige plaag is. Die erns van hierdie spesie neem tans ook in die binneland toe. Die pienk stamboorder se motte lê hul eiers in groepe tussen die blaarskede en die stam van die mielieplant, net soos die Afrika stamboorder.
Pienk stamboorder-larwes kan soms verwar word met dié van die Afrika stamboorder, maar die pienkerige kleur van die larwes asook die skadesimptome, maak dit duidelik onderskeibaar. Larwes wat onder die blaarskede uitbroei, penetreer die stam direk, terwyl dié wat onder skutblare uitbroei, die mieliekop binnedring.
Hierdie gedrag verskil van die Afrika en Chilo boorder, waar larwes na die kelk beweeg en nie die stam direk binnedring nie. “Dooiehart”-simptome is die eerste simptome wat waargeneem word, omdat larwes die stam direk binnedring en nie skade aan die kelkblare aanrig nie. Die pienk stamboorder se generasies oorvleuel tot so ‘n mate, dat spesifieke generasies nie onderskei kan word nie. Larwes ontwikkel reg deur die jaar en gaan nie in ‘n rustoestand in nie.
Van die belangrikste plae wat saailinge aanval, is snywurms (Agrotis segetum), die swartmieliekewer (Heteronychus arator) en dievalsdraadwurm (Somaticus angulatus). Wat saailing-insekplae so belangrik maak, is dat sodra die saailing beskadig is, dit ‘n direkte effekop opbrengs het wat kan lei tot oorplant.
Bogrondse skadesimptome (Foto 6) van hierdie drie saailingplae kan met mekaar verwar word, maar deur nader ondersoek in te stel kan die verskillende tipes skade wat veroorsaak word, van mekaar onderskei word.
Die motte van snywurms (Foto 7) lê eiers gedurende die herfs en winter wat oorsprong gee aan larwes gedurende hierdie tyd. Hierdie larwes ontwikkel tot uitgegroeide larwes wat in die grond bly tot aan die einde van die winter en die begin van die lente.
Vir hierdie larwes om die winter te oorleef, is onkruide en wintergewasse belangrik as voedsel. Gedurende Augustus en September vorm die oorwinterende larwes papies wat in papieselle in die grond voorkom. Die papiestadium duur ongeveer twee weke en gee oorsprong aan die eerste motte van die seisoen.
Dit is hierdie motte wat ‘n bedreiging inhou vir mieliesaailinge. Die snywurmmotte vlieg in die nag en lê eiers op die blare van onkruid en opslag wat in die lande voorkom. Ná ongeveer ‘n week, broei larwes uit en voed op die blare van die onkruid of opslagmielies. Ná die tweede vervelling van die larwes, word daar in die grond ingekruip en kom larwes slegs in die nag uit om te vreet. Snywurms beweeg van saailing tot saailing wat elk op grondhoogte afgevreet word.
Tipiese snywurmskade kan onderskei word van die res van die grondinsekte wat saailinge aanval, deurdat vreetskade wat aangerig word ‘n netjiese, skoon gat (Foto 8) in die stam is, in teenstelling met dié van die swartmieliekewer en valsdraadwurm wat ‘n uitgerafelde (Foto 9) voorkoms het.
Indien die saailing deur die snywurm afgevreet word, kan die afgevrete plantjie gedeeltelik of heeltemal onder die grond ingetrek en gevreet word. Op hierdie wyse kan een larwe ‘n groot aantal mieliesaailinge in ‘n enkele nag vernietig.
Die larwe van die swartmieliekewer (Foto 10) is ‘n tipiese miswurm. Die miswurm is wit, met ‘n bruin kop en is gewoonlik C-vormig gekrul. Die derminhoud van die larwe gee aan die punt van die agterlyf ‘n kenmerkende blougrys kleur. Die kewers is blinkswart en ongeveer 12 cm - 15 cm lank.
Kewers het dieselfde voorkoms as mis kruiers. Larwes rig geen skade aan nie en voed op organiese materiaal in die grond. Kewers beskadig saailinge deur uitgerafelde gate in die ondergrondse stamme te vreet. Gedurende die herfs kan stamme van ouer plante bo die grondoppervlak uitgerafel en die stutwortels afgevreet word.
Grootvalsdraadwurms se kewers ontpop uit papies wat in papieselle onder die grond oppervlak voorkom. Wyfiekewers lê eiers onder onkruid en mieliereste, ongeveer 5 mm - 10 mm onder die grond. Die eiers neem 8 tot 16 dae om uit te broei. Grootvalsdraadwurms kom byna die hele jaar lank as larwes in die grond voor. Valsdraadwurmlarwes (Foto 11) is tot
32 mm lank en 4 mm dik. Larwes is roomwit en die kop vertoon rooibruin.
Kewers is tipiese toktokkies, grys-swart, met ‘n duidelik afgebakende kop, bors en agterlyf en hulle rig geen skade aan nie. Larwes beskadig saailinge deur gate in die ondergrondse stamme te vreet en hierdie gate het ‘n duidelik uitgerafelde voorkoms.
Vir navrae, kontak Annemie Erasmus by erasmusa@arc.agric.za.
Publication: September 2013
Section: Input Overview