October 2011
Sowat ‘n week voor die 2010 Wêreldbeker-sokkerspanne en -toeskouers in Suid-Afrika aangekom het, was daar ‘n baie treffende advertensie op televisie van ‘n jong vrou wat vanuit Suid-Afrika die aankondiging maak: “Ke nako!” Die gewag is verby, dit het tyd geword. Wat die landbou aanbetref, is ek nou daar.
Ek voel soos ‘n wildebees op die Serengeti-vlakte van Afrika, wat nie deur logika, beredenerings en vergaderings gedryf word nie, maar bloot ‘n instink wat hier diep binne jou sê: “Dit is tyd!” Dit het tyd geword vir landbou om te verenig en vorentoe te beweeg. Die veld rondom ons het begin vaal word en die groenigheid minder. Voor is daar iewers ‘n groener weiveld. Daar is ‘n onrustige rondgemaal van wildebeeste, niemand loop en deel pamflette uit, stuur e-posse uit of Facebook mekaar nie; dit is net ‘n wete by ‘n groep leiers wat weet dat dit nou tyd geword het vir aksie.
Tussen waar ons nou is en eenheid in landbou, lê die rivier. Dit is nie die Limpopo nie. Hierdie rivier is diep, die water loop sterk en dit is vol krokodille – honger krokodille. Die feit is dat die dood op elke wildebees wag wat nie saam trek nie, maar so ook op ‘n paar wat deur die krokodille gevreet gaan word of wat gaan verdrink. Iemand moet egter eerste aan die beweeg kom en in die onbekende waters spring. Ek het gespring!
Dít was my emosie tydens die vergadering van ‘n klompie landbouleiers waar daar onlangs op Stellenbosch oor eenheid in landbou gepraat is. Is ons een? Nee, maar een ding is vir almal seker, as ons nie saam staan en begin beweeg nie, gaan landbou ten gronde gaan. Party het uit ervaring gepraat van vorige tye toe hulle ook deur riviere moes gaan, ander droom weer oor die opbrengste van voedselsekerheid en werkskepping en genoeg vir almal in Suid-Afrika om te eet. Ander praat weer van die krokodille en wys hulle littekens van vorige migrasietogte.
As ons egter vir ‘n onbepaalde tyd gaan bly wag op een of ander wonderwerk, kan dit dalk te laat raak. Ons beleidsomgewing raak nie beter nie en die dienslewering aan die sektor ook nie. Ons is moeg om planne te maak en strategieë te ontwikkel wat nooit geïmplementeer word nie. Ons planne is goed, maar ons aksies is te min. Ons weet egter wat die regte goed is om te doen. Dit het tyd geword dat ons self skouer aan die wiel sit en dit begin implementeer. Graan SA se strategiese doelwitte is duidelik: volhoubare voedselproduksie sodat produsente kan wins maak en almal in die land genoeg het om te eet.
Ek het in dié dae weer baie nagedink oor my emosies en al die onsekerhede toe ons besluit het om die Rade in 1997 toe te maak. As landbou is ons nou weer by ‘n soortgelyke rivier waardeur ons moet gaan. Daar is baie onsekerhede, maar een ding is wel seker: Ons moet vorentoe.
Leierskap is nie vir sissies nie. Leierskap sê ook nie dat jy nie bang is nie. Leierskap beteken dat jy die groter prentjie van die toekoms duideliker kan sien as wat jy fokus op die vrees vir die hede.
Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder
Publication: October 2011
Section: Editorial