• Login
  • Search Icon

KANOLASIEKTES en hul beheer

September 2013

KOBUS VAN TONDER, NAMENS DIE PROTEÏENNAVORSINGSTIGTING

Ten aanskoue van ‘n onegalige stand jong kanola het ‘n produsent eenmaal opgemerk dat daarin nogal ‘n belangrike ooreenkoms met mense is: Suksesse in die latere lewe word vroeg reeds bepaal.

Só is dit ook met kanola. Dit is bykans onmoontlik om later in die seisoen vir swak vestiging te probeer vergoed.

Die goeie opbrengste van verlede seisoen, tesame met ewe goeie pryse en groeitoestande is vir die optimisme onder produsente verantwoordelik. Agter sukses skuil egter dikwels risiko’s, soos kort rotasies wat wink.

Kort rotasies, soos byvoorbeeld koring-kanola-koring-kanola, is nie volhoubaar in die langer termyn nie weens die risiko van siektes wat dit inhou wat ernstige verliese aan winsgewendheid kan veroorsaak.

Swartstam byvoorbeeld, veroorsaak deur die swam Leptosphaeria maculans, is ‘n moeilike kalant wat al groot skade onder kanola inlande soos Australië (en feitlik oral waar kanola verbou word) veroorsaakhet.

Die algemene aanbeveling dat kanola slegs elke derde of vierde jaar op dieselfde grond verbou moet word, het sy ontstaan gehad juis toe swartstam in die 1970’s die Australiese kanola-oes ernstig geknou het.

Kom dit by bewese kanolaslagters, soos swartstam, saailingafsterf en Sclerotinia (stamvrot), sê produsente prontuit hulle waag nie kanse nie. Dié siektes is tans nog goed onder beheer danksy hierdie ingesteldheid en die goeie bestuurspraktyke wat daarmee saamgaan. Die uitgangspunt is dat produsente bewus moet wees van die risiko’s wat siektes in hul onderskeie gebiede inhou en die aanbevole maatreëls daarteen volg.

Afsterf van saailinge

Die afsterf van saailinge is een van die siektes wat groot skade kan veroorsaak. ‘n Verskeidenheid van organismes, soos Fusarium avenaceum, verskeie Pythium-spesies en Rhizoctonia solani veroorsaak hierdie siektekompleks.

image

Saailingafsterf kan voor- en naopkoms plaasvind. ‘n Tipiese simptoom is skielike verwelking, gevolg deur die omval en uiteindelike verdroging van saailinge weens verrotting op die grondoppervlakte. Dit kan binne die eerste vier tot ses weke ná aanplanting plaasvind.

Tussen 80% en 100% van saailinge kan besmet word met groot verliese tot gevolg. Oorsee is al opbrengsverliese van tot 30% aangemeld. In Suid-Afrika wissel die persentasie saailingafsterf in verskillende grondsoorte. (Sien Grafiek 1).

image

Die goeie nuus is dat die toepassing van enkele praktyke kan help om verliese weens saailingafsterf grootliks te verminder.

Vermy aanplanting tydens koue en nat toestande. Sulke toestande vertraag sowel ontkieming asook die normale groei van die saailinge. Sodoende kry die siekte geleentheid om homself te vestig en verder te versprei.

Die verspreiding van veral Pythium-spesies word deur té nat toe stande aangemoedig. In gevalle waar stande saailinge reeds deur hierdie siekte uitgewis is, kan nuwes heeltemal suksesvol hervestig word.

Die voorbehoud is dat grondtemperature en vogtoestande dan gunstig moet wees.

Nog ‘n voordelige praktyk om saailingafsterf te voorkom, is om saad teen die aanbevole diepte te plant. Té diep geplante saad neem langer om op te kom. Die brose jong saailinge word sodoende langer aan die vernietigingswerk van patogene blootgestel.

Dit is ‘n voldonge feit dat saailinge voortspruitend uit swak saad, makliker afsterfsiekte opdoen. Die gebruik van saad van bewese goeie gehalte word dus aanbeveel.

Deur kanolasaad vooraf met ‘n swamdoder, soos Cruiser OSR (aktiewe bestanddele difenconazole, fludioxonil, metalaxyl-M en thiamethoxam) te behandel, verhoog die oorlewing van saailinge betekenisvol in patogeenbesmette grond (Grafiek 1).

Min is tans nog bekend oor die invloed wat weerstandbiedende kultivars en selfs wisselbou op die voorkoms en ontwikkeling van saailingafsterf het. Nogtans word aanvaar dat ‘n geïntegreerde beheerstrategie, wat onder meer bogenoemde praktyke insluit, ‘n groot bydrae kan lewer tot die suksesvolle beheer van hierdie siekte.

Volgens mnr Chris Cumming, Kaapse kundige in die chemiese beheer van landbouplae, is die keuses wat produsente maak ten opsigte van geskikte kultivars, die behandeling van saad asook plantpraktyke, meestal deurslaggewend om saailingafsterf en ander siektes in kanola doeltreffend te beheer.

Swamsiektes

image

Weerstoestande speel ‘n belangrike rol in die beheer van siektes by kanola. Swartstam en Sclerotinia (stamvrot) is ‘n groter bedreiging in hoër reënvalstreke. Hulle is egter geensins eksklusief tot hierdie streke nie en bonormale hoë reënval in tradisioneel droër gebiede kan ook vir uitbrekings van hierdie siektes verantwoordelik wees.

Swartstam word deur twee Leptosphaeria-spesies, Leptosphaeria maculans en Leptosphaeria biglobosa, veroorsaak. Eersgenoemde isdie aggressiefste van die twee. Beide spesies bestaan uit verskeierasse. Die swam oorleef hoofsaaklik in kanolastoppels wat aan dieeinde van die groeiseisoen op die lande agtergelaat word.

Ná voldoende reën aan die begin van die groeiseisoen, word spore vanaf die stoppels vrygestel en deur die wind na die jong saailinge gedra waar dit aan die saadlobbe, blare of stingels heg en dit infekteer.

Daarna versprei die swam en veroorsaak kenmerkende vaalkleurige letsels (Phoma-blaarletsels) met klein swart spikkels (vrugliggame) wat die ongeslagtelike spore van die swam bevat. Die swam groei vanaf die letsels deur die blaarsteel tot in die stam waar dit later in die seisoen stam- en kroonletsels veroorsaak.

Hierdie fase is die gevaarlikste, aangesien die opwaartse en afwaartse vervoer van water en voedingstowwe onderbreek word. Dit lei tot ‘n afname in saadvorming.

Wanneer die stam baie verswak is as gevolg van infeksie, val die plant om. Spore kan ook vanuit blaarletsels met behulp van reën na nabygeleë plante spat en sodoende sekondêre infeksies veroorsaak. Peulinfeksie lei tot besmette saad.

image

image

Die volgende bestuurspraktyke kan toegepas word:

  • Plant weerstandbiedende kultivars wat aangepas is vir die omgewing en wissel kultivars met verskillende weerstandsgene af.
  • Maak gebruik van ‘n wisselboustelsel, waar kanola slegs een maal elke vier jaar op dieselfde land verbou word.
  • Kanola moet so ver as moontlik vanaf lande waarop dit die vorige jaar verbou is, aangeplant word.
  • Gebruik gesertifiseerde saad aangesien die siekte saadgedraagd is.
  • Die swam se gasheerreeks is tot die koolfamilie beperk. Koolagtige onkruide soos ramenas en wildemosterd wat as alternatiewe gashere vir die patogeen kan optree, moet dus doeltreffend beheer word.
  • Opslagkanola word ook met die swam besmet en moet dus so gou as moontlik afgewei of verwyder word. Hergroei kan daarna met ‘n kontakdoder beheer word.
  • Kanolastoppels kan aan die einde van die groeiseisoen verwyder word deur dit te verbrand, te begrawe (bewerking), of af te wei. Hierdie praktyke pas egter nie in by minimum- of geenbewerking nie, en moet slegs in uitsonderlike gevalle toegepas word.

Hoewel die vierjaar-wegbly-reël steeds geweldig belangrik is, wil die jongste navorsing oorsee dit hê dat die afstand tussen stoppels van die vorige seisoen en die nuwe kanola-aanplantings selfs belangriker is om swartstam in toom te hou.

Beheer van swartstam op saailinge is baie belangrik om die skade wat later deur die siekte veroorsaak word, aansienlik te verminder. In Australië is saadbehandeling en bogrondse bespuiting met swamdoders geregistreer. Daar is ongelukkig tans geen chemiese behandeling teen swartstam in Suid-Afrika geregistreer nie.

Sclerotinia sclerotiorum (stamvrot) weer, het ‘n baie wye gasheerreeks en val onder meer ook lupien, sojaboon en sonneblom aan. Simptome verskyn eers gedurende die blomtyd of daarna. Die swam kan egter ook saailinge of jong plante onder gunstige toestande infekteer.

Warm, vogtige toestande bevorder die ontwikkeling van die siekte. Die swam kan tot sewe jaar in of op die grond oorleef. Dit beteken dat gewasse wat deur hierdie swam aangeval word, nie in kort rotasiestelsels op mekaar moet volg nie.

Die gebruik om kanola ná lupiene te plant om sodoende die stikstof wat deur die lupiene agtergelaat is te benut, kan dus groot probleme veroorsaak. Sclerotia kan dikwels in en op die peule gevorm word. Gevolglik kan besmette saad die siekte oordra. Gebruik slegs gesertifiseerde saad waar moontlik.

Hierdie siekte se kenmerkendste simptome kom laag op die stamme van plante en later ook op die peule voor. In die geval van kanola kan ligte, verbleikte kolle met ‘n effense grys middelgedeelte op stamme meestal by die aanhegtingspunt van die blare of sytakke gesien word.

Die swam vorm nie spore op die aangetaste plante nie. Onder gunstige toestande word ‘n digte bondel wit swamdrade gevorm waarin daar dikwels sclerotia gesien kan word. Hierdie sclerotia beland op die grond vanwaar dit later ontkiem en spore vorm wat die plante aanvanklik infekteer.

Geen verdere spoorvorming vind op die besmette plante plaas nie. Swamdrade wat op die grond groei, kan egter ander plante aantas. Dit verklaar waarom die siekte kenmerkend in kolle voorkom. Latere bewerking versprei die sclerotia.

Aangetaste plante word gewoonlik voortydig ryp en sterf af. Dit veroorsaak kleiner sade en gepaardgaande laer opbrengste.

Sclerotinia sclerotiorum val nie graangewasse aan nie en neem in felheid af as gashere afwesig is. Die teendeel geld ook. Die voorkoms van Sclerotinia stamvrot neem dikwels skerp toe in kort rotasies met vatbare gewasse.

Wisselbou met nie-gasheer gewasse, soos byvoorbeeld koring, gars, hawer en mielies, met ‘n ingeboude wagtydperk van drie tot vier jaar, is dus uiters belangrik.

Onkruidbeheer moet eweneens baie aandag kry. Dit is omdat hoë onkruiddruk vogtigheid tussen plante aanmoedig en dit sodoende gunstiger toestande skep vir die ontwikkeling van die siekte.

Daar bestaan tans geen kanolakultivars teenswoordig in gebruik, wat bestand is teen Sclerotinia stamvrot nie.

Publication: September 2013

Section: Input Overview

Search