August 2016
BELINDA JANSE VAN RENSBURG, LNR-Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom
Fusarium verticillioides (Foto 1) word regoor Suid-Afrika aangetref, veral in droë, warm gebiede met temperature bo 28°C. Verskeie stremmingsfaktore soos droogte, insekte-, en voëlskade sal die voorkoms van die swam aanhelp.
Besmetting met F. verticillioides kan enige tyd gedurende die plant se ontwikkeling plaasvind en mielieprodusente ly jaarliks miljoene rande se verliese as gevolg van swak saadgehalte en verlaging in opbrengs. Die swam beskik oor die vermoë om 'n mikotoksien (miko = swam en toksien = gifstof) naamlik fumonisien te produseer.
Fumonisiene is waarskynlik karsinogenies vir mense en kan lei tot breinverweking in perde, vog in die longe van varke asook letsels op die pankreas en lewer. Bestaande graderingsregulasies speel 'n belangrike rol om te verseker dat die verbruiker sover moontlik toegang het tot veilige voedsel.
Die graderingsproses behels dat mielies slegs op visuele simptome geëvalueer word. Die slegte nuus is dat F. verticillioides ook mielies kan infekteer sonder dat enige simptome sigbaar is en fumonisienproduksie is dikwels meer. Visuele gradering alleen is dus nie voldoende om voedselveiligheid te verseker nie en daarom word bykomende beheerstrategieë ondersoek.
Voorkomende swamdoders en die beheer van mielieblaarsiektes
Kuratiewe bespuitings vind gewoonlik plaas wanneer die eerste siektesimptome op mielieblare sigbaar is. Volgens navorsing is dit moontlik dat 10% oesverlies reeds plaasgevind het aangesien die mielieplante dan reeds swaminfeksie beveg en dus nie interne fisiologiese prosesse optimiseer vir die bepaling van kop- en pitgrootte nie.
Ekonomiese belangrike mielieblaarsiektes sluit grysblaarvlek, noorde like blaarskroei en roes in. Die voorkoms en siektegraad van mielieblaarsiektes hang af van klimaatstoestande, gewasrotasie en verskillende verbouingspraktyke. Met 'n toename in minimum of geenploeg, bou daar 'n plantreste deklaag op die bo-grond op en kan die swamme wat mielieblaarsiektes veroorsaak moontlik vermeerder en sodoende erger besmettings in die opvolgende groeiseisoen veroorsaak.
Produsente gee voorkeur aan hoë-opbrengs kultivars en kultivars met moontlike weerstand word nie in ag geneem nie. Hierdie faktore dra by tot 'n verhoging in mielieblaarsiektes en daarom het die klem verskuif na voorkomende spuitprogramme om blaarsiektes te beheer sodra infeksie plaasvind.
Tans is daar geen chemiese middels geregistreer vir die beheer van mieliekopvrotte en hulle veroorsakende mikotoksiene in graan nie. Die doel van die studie was om te bepaal watter effek 'n voorkomende swamdoderprogram vir die beheer van blaarsiektes op F. verticillioides kopvrot asook fumonisiene sou hê.
Veldproewe
Tydens 2011 en 2012 is droëland veldproewe geplant op Buffelsvlei en Potchefstroom (warm, droë produksieareas in die Noordwes Provinsie) asook Cedara, Greytown en Makhatini (sub-tropiese produksieareas in KwaZulu-Natal) in 'n ewekansige proefuitleg.
'n Soortgelyke veldproef is op Vaalharts geplant (semi-woestyn area in die Noord-Kaap) en is vloed-besproei. Sewe kultivars is geselekteer om sodoende wit en geel, Bt en ooreenstemmende isolyne in te sluit (Tabel 1).
Elke eksperimentele blok het bestaan uit nege rye, 32 m in lengte en die middelste sewe rye is gebruik om te bespuit (of geen bespuiting wat dien as kontroles) en graan te versamel.
Eksperimentele blokke wat met swamdoder bespuit is, het azoxystrobin + difenoconazole (strobilurin, 200 g/l + triazole, 125 g/l) teen 'n dosis van 500 ml/ha, 40 - 45 dae na-plant ontvang. Teen 28 - 30 dae na die eerste bespuiting, is dit opgevolg deur 'n tweede bespuiting van flusilazole + carbendazim (silicone triazole, 125 g/l + benzimidazole, 250 g/l) teen 'n dosis van 750 ml/ha met petroleum as kleefmiddel (500 ml/ha).
Mieliekoppe is met die hand geoes met 'n vogpersentasie van 12%. Daarna is sub-monsters afgeweeg en fyn gemaal om sodoende die swamgroei en fumonisiene in die graan te bepaal.
Die effek van swamdoders teenoor swaminfeksie van graan
Volgens statistiese analises het die swamdoders geen effek gehad op swaminfeksie van mieliegraan nie. Dit het wel aangedui dat die omgewing en kultivar grootliks 'n effek gehad het op swaminfeksie van mieliegraan (Tabel 1).
Makhatini het die meeste swaminfeksie in graan getoon oor alle seisoene (gemiddeld = 33 696 pg) en Potchefstroom die minste (gemiddeld = 178 pg). Kultivars het verskillend gereageer met PAN6P-110, DKC80-10 en CRN3505 wat meer vatbaar was, terwyl LS8521B en DKC78-15B meer weerstandbiedend teen swaminfeksie was.
Die effek van swamdoders teenoor fumonisienproduksie in graan
In teenstelling met bogenoemde het swamdoders in die studie 'n beduidende hoër voorkoms van fumonisienvlakke in vergelyking met kontroles. Die effek was veral waarneembaar op Makhatini, Potchefstroom en tot 'n mindere mate op Vaalharts.
'n Tendens van hoër fumonisienvlakke in meeste kultivars wat op Vaalharts, Greytown en Mahkatini geplant is, kan waargeneem word (Tabel 2). Dit kan 'n aanduiding wees dat strobilurin en/of triazole kon bydra tot 'n verhoging in fumonisienvlakke in mieliegraan.
Alle kultivar en behandelingskombinasies op Makhatini en baie ander lokaliteite het fumonisienvlakke van meer as twee dele per miljoen (dpm) gemeet wat hoër was as die "veilige" vlak soos ingestel deur die Food and Drug Administration of America (FDA) vir menslike gebruik. Sommige van die vlakke was hoër as 5 dpm soos vasgestel vir perde, donkies, varke, hase en troeteldiere.
Gevolgtrekking
Daar is geen verskil in swaminfeksie tussen spuit- en kontrolebehandelings nie, alhoewel spuitbehandelings beduidende hoër vlakke van fumonisiene gehad het in vergelyking met kontroles.
'n Omgewing x kultivar-interaksie was belangrik vir swaminfeksie terwyl omgewing x behandeling x kultivar-interaksies belangrik was vir fumonisienproduksie.
Die verhoodge fumonsienvlakke in spuitbehandelings is 'n bron van kommer en verdere studies word beplan. Daar gaan gepoog word om te kyk na swamdoderkombinasies en tyd van bespuiting.
Azoxystrobin (200 g/l) + difenoconazole (125 g/l) asook pyra clostrobin (62,5 g/l) + epoxiconazole (62,5 g/l) sal as eerste bespuiting in kombinasie saam met cyproconazole (250 g/l) + propiconazole (250 g/l) en flusilazole (125 g/l) + carbendazim (250 g/l) as tweede bespuiting gebruik word.
Deur die tyd van toediening effens aan te pas, is dit dalk steeds moontlik om swaminfeksie te beheer tydens blomstadium. Indien strobilurins en/of triazole verantwoordelik is vir fumonisienproduksie, kan korrektiewe aksies geneem word deur voorkomende spuitprogramme te verander.
Publication: August 2016
Section: On farm level