• Login
  • Search Icon

Jy kan nie meer bekostig om aangeplante weiding nie te bemes nie

October 2012

THINUS LOUW, SENIOR LANDBOUKUNDIGE, OMNIA NUTRILOGIE

image

Die opmerking “aangeplante weiding wat nie bemes word nie, is swakker as veld”, is al verskeie kere gehoor. Ten spyte hiervan, word duisende hektare aangeplante weiding baie selde, indien ooit bemes. Die gevolg is dat die produksie en kwaliteit van hierdie weidings oor tyd drasties afneem. Die persepsie dat dit te duur is om aangeplante weiding te bemes, is verseker nie altyd waar nie.

Hierdie artikel fokus op meerjarige somergewasse, wat meestal droëland verbou word. Dit is insiggewend om met produsente te praat oor die praktyke wat gevolg word by die bemesting van hierdie gewasse. Dikwels is daar ‘n logiese verklaring hoekom die gewensde resultate met bemesting nie behaal word nie.

Dit is van kardinale belang om die grond te ontleed alvorens daar bemes word. Stikstof (N) is normaalweg die element wat verantwoordelik is vir die grootste reaksie wanneer weidings bemes word. Dit is egter ‘n gegewe dat ‘n kritieke tekort aan ‘n ander element of elemente, die effek van N-bemesting dramaties kan onderdruk.

Tweedens het proewe met verskeie gewasse, oor verskeie lokaliteite, bevestig dat dit net eenvoudig nie sin maak om té min te bemes nie. N-bemesting is hier ter sprake en dit geld veral vir weidings wat nie gereeld bemes word nie. My advies is, bemes eerder kleiner oppervlaktes, maar bemes voldoende.

Derdens is swak resultate met die bemesting van aangeplante weidings dikwels toe te skryf aan die gebruik van die verkeerde stikstofdraer vir ‘n gegewe praktyk. Ammo niumnitraat-stikstof (KAN) kan bo-op die grond uitgestrooi word met minimale verliese. Indien ureum egter uitgestrooi en bo-op die grond gelaat word, kan enorme verliese plaasvind as gevolg van N wat vervlugtig.

‘n Verdere uitdaging by die bemesting van weidings, is om hierdie weidings met die regte diere te benut. Produktiewe diere is nodig om bemeste weidings “om te skakel” na wins. So byvoorbeeld, is jong, groeiende diere baie beter in staat om hierdie “omskakeling” te doen as aanteeldiere en skape kan hierdie taak meer suksesvol verrig as beeste onder vergelykbare omstandighede. Onthou, bemesting verhoog nie net die produksie
van aangeplante weiding nie, dit kan ook die kwaliteit daarvan aansienlik verbeter!

image

Algemene wenke by weidingsbemesting

Grondontledings – ‘n moet!
Soos gemeld in die inleiding, kan bemesting met slegs stikstof in die meeste gevalle uitstekende resultate tot gevolg hê. Nogtans, bly dit ‘n groot risiko om te bemes sonder om die grond te laat ontleed.

Tekorte aan elemente soos fosfaat (P), kalium (K) en swael (S), veroorsaak dat N-bemesting nie tot sy volle reg kom nie. Dit is deur en deur die moeite werd om moontlike tekorte aan ander elemente te identifiseer en dit reg
te stel.

‘n Goeie praktyk bly steeds om die grond deeglik te ontleed en moontlike regstellings te doen alvorens enige meerjarige gewasse gevestig word. Dit is algemeen bekend dat weidings wat gereeld gehooi word, groot hoeveelhede voedingstowwe, soos K, verwyder en dat die vlakke van hierdie elemente noukeurig gemonitor moet word.

Indien weidings slegs bewei word, vind daar darem ‘n mate van hersirkulasie van voedingstowwe plaas. Uiteraard word hierdie voedingstowwe nie eweredig oor die hele oppervlakte versprei nie.

Hoeveelheid stikstof
Die grootste rede vir teleurstellende resultate wanneer weidings bemes word, is dat te min N toegedien word. Hierdie feit is bevestig deur die resultate wat uit verskeie proewe verkry is en is herbevestig uit gesprekke met baie produsente.

Verder is daar ‘n goeie wetenskaplike verklaring vir hierdie waarneming. Meeste meerjarige aangeplante weiding word nie meer bewerk nie, gevolglik hoop organiese materiaal op in die bogrond. Hierdie organiese materiaal bevat weliswaar plantvoedingstowwe, maar dit is in ‘n vorm wat die plant nog nie kan benut nie.

Indien klein hoeveelhede N-bemesting toegedien word, kry ons ‘n tipiese N-negatiewe periode. Hierdie N word uiteraard oor tyd weer stelselmatig vrygestel, maar teen daardie tyd is die gevolgtrekking reeds gemaak dat “bemesting nie werk nie”. Die enigste oplossing vir hierdie probleem, is om voldoende te bemes.

Dit is baie moeilik om ‘n algemene riglyn te gee met betrekking tot die hoeveelheid N wat bemes moet word. Die rede hiervoor is verskille in klimaat, veral reënval, die weidingsgewas, verskille in grondpotensiaal en die tipe diere waarmee weidings benut word.

‘n Totale jaarlikse bemesting van rofweg 0,2 kg N per 1 mm langtermynreënval, is ‘n norm wat redelik algemeen gebruik word. Met ander woorde, as die langtermynreënval 500 mm is, is die riglyn om 100 kg N per hektaar per jaar te bemes (500 mm x 0,2).

Dit word sterk aanbeveel om ‘n eenvoudige demonstrasieproef met verskillende N-peile onder jou unieke omstandighede te doen en dit vir ‘n paar jaar te herhaal. Die produksie en kwaliteit van weiding wat teen verskillende vlakke bemes is, kan gevolglik sinvol met mekaar vergelyk word.

Tipe stikstofbron
Die verkeerde gebruik van ureum het produsente in die verlede al baie geld gekos. Indien ureum op droëlandweidings uitgestrooi word en daar dan gewag word dat dit “inreën”, vind daar grootskaalse verliese van
N plaas.

Verskeie plaaslike navorsers het al werk gedoen om hierdie verliese te kwantifiseer en die verliese is astronomies. Oorsese wetenskaplikes het tot dieselfde gevolgtrekking gekom.

Die volgende aanhaling (Tom Dorn, Universiteit van Nebraska, VSA) is ‘n goeie voorbeeld daarvan: “Under unfavourable conditions, urea that is broadcasted to the soil surface, with no mechanical incorporation, can have
volatilisation losses exceeding 75%.” Ureum veroorsaak verder aansienlik meer grondversuring as KAN, Greensulph of ANO.

Ammoniumnitraat-stikstof (KAN, Greensulph en ANO) kan met groot vrymoedigheid uitgestrooi en bo-op die oppervlakte gelos word. Verliese aan N-vervlugtiging sal onder normale omstandighede weglaatbaar klein wees indien hierdie produkte gebruik word. Dit is goedkoop en gerieflik om kunsmis uit te strooi.

Indien kunsmis ingewerk of onder die oppervlakte gebandplaas moet word, verhoog dit eerstens die toedieningskoste. Tweedens maak dit die oppervlakte ongelyk, wat die sny van hooi bemoeilik. Verder het ‘n ver -steuring van die grond dikwels tot gevolg dat onkruid ‘n probleem raak.

Benutting van bemeste weidings
Dit is verstommend om te sien dat goed bemeste aangeplante weiding se produksie sommer drie- of viervoudig meer is as die produksie van onbemeste weidings. Hierdie verhoogde produksie is maklik visueel sigbaar. Ongelukkig, word daar nie altyd besef watter groot verskil bemesting op die kwaliteit, veral die proteïeninhoud, van aangeplante weiding kan maak nie. Hierdie voordele van bemeste weidings, stel veeboere in staat om werklik waarde toe te voeg tot hul ondernemings.

Indien bemeste aangeplante weidings op die plaas beskikbaar is, moet die vraag tereg gevra word: “Watter diere op die plaas het die vermoë om hierdie goeie kwaliteit weiding die beste in geld om te skakel?”

Jong, groeiende diere, soos verse wat uitgegroei word sodat dit gedek kan word, jong bulle of verse wat markgereed gemaak moet word, of kalwers wat uitgegroei word sodat dit vinniger en goedkoper in die voerkraal
afgerond kan word, word beskou as diere wat bemeste weidings sinvol kan benut. Verder is dit gewoonlik meer lonend om bemeste weidings met skape te benut as met beeste, as gevolg van die beter prys per kilogram asook die wolfaktor.

Tye het verander

Die afgelope tien of meer jare se aansienlike styging in grondpryse, het die landbou-speelveld baie verander. Produsente kan net nie meer tevrede wees met onbemeste aangeplante weiding wat tussen 1 ton tot 2 ton droëmateriaal per hektaar per jaar produseer nie.

In die verlede was dit ‘n maklike oplossing om weiding by te koop of by te huur as daar ‘n tekort aan voer was. Gegewe hierdie styging in grondpryse, is vertikale uitbreiding, soos om aangeplante weiding te bemes, ‘n logiese opsie om te oorweeg.

Die huidige goeie graanpryse noodsaak ook deeglike besinning oor maniere om minder graan in veeboerderye te gebruik. Ek is oortuig daarvan dat dit lewensvatbaar is om aangeplante weidings op ‘n baie groter skaal te bemes.

Vir enige navrae, skakel my gerus by 082 333 3007, of stuur ‘n e-pos na tlouw@omnia.co.za. Besoek ook Omnia se webblad by www.omnia.co.za vir meer inligting.

 

Publication: October 2012

Section: Input Overview

Search