October 2014
CHARLIE REINHARDT, buitengewone professor in Onkruidwetenskap, Universiteit van Pretoria en dekaan, Villa Academy
Die grootste bron van onkruid op ‘n gewasland, is die onkruid “saadbank”, dit wil sê, die voorraad lewensvatbare saad wat in die grond beskikbaar is. Die saadbank is oor net soveel jare aangevul met ‘n vars voorraad onkruidsaad as wat ‘n gewasland in produksie is.
Omdat nie al die saad wat in ‘n groeiseisoen gedeponeer word, in die huidige en selfs in die volgende groeiseisoen gaan ontkiem nie, is die saadbank in ‘n staat van volgehoue aanwas.
Tensy daadwerklike stappe geneem word om die onkruidsaadbank te verklein, sal dit oor tyd aanhou toeneem, spesifiek wat betref onkruidsoorte waarvan die saad lank in grond kan oorleef.
Saad is as’t ware ‘n plant in wording – al wat nodig is om van 'n rustoestand (embrio of “kiem” in saad) na ‘n aktief-groeiende plant oor te gaan, is omgewingsfaktore wat gunstig is vir ontkieming. 'n Eienskap wat eie is aan die suksesvolste onkruidsoorte is die vermoë van hul sade om vir lank in ‘n staat van rus of dormansie te bly en eers te ontkiem wanneer 'n spesifieke kombinasie van omgewingsfaktore heers wat gunstig is vir die groei en ontwikkeling van die bepaalde onkruidsoort.
Figuur 1 toon die lotsbestemming van onkruidsaad aan – die saadbank is in voortdurende skommeling tussen saadinsette (saadstort en inbring van saad) en saadverliese (ontkieming, dood, predasie, verrotting); saad verkeer óf in die aktiewe fase óf in die dormante fase in die saadbank – genetika van die saad en omgewingstoestande (temperatuur, grondvog, suurstof) bepaal die transisie van saad tussen “aktief” en “dormant”.
Hoe meer sade ‘n onkruidsoort produseer, hoe groter is die kans dat dit ‘n beduidende bydrae tot die saadbank sal maak – die verhouding waartoe verskillende onkruidsoorte saad tot die saadbank bydra en plantgetalle, sal bepalend wees vir die spektrum en relatiewe grootte van onkruidpopulasies op ‘n land. Derhalwe word die onkruidspektrum en die dominansie van bepaalde soorte tot ‘n groot mate beïnvloed deur die hoeveelheid saad geproduseer (Tabel 1).
Faktore wat saadontkieming en dormansie beïnvloed
Omdat die saad van baie plantsoorte en dan spesifiek ‘n groot verskeidenheid onkruidsoorte, die vermoë het om maande, jare, dekades en in uiterste gevalle selfs eeue in grond in ‘n lewende of kiemkragtige staat te oorleef, is dit in gewasproduksie van kardinale belang om te verstaan watter faktore die oorlewing en ontkieming van onkruidsaad beïnvloed.
Alleenlik met sulke kennis toegerus kan daar planne beraam word om deur toepaslike bestuurspraktyke die impak van onkruide te versag en deur middel van onkruidsaadbestuur die probleem as’t ware in die kiem te smoor.
Temperatuur
Alle soorte saad het ‘n optimum temperatuur waarby dit sal ontkiem; in sommige gevalle is wisselende temperature die stimulus vir ontkieming. Wandelende Jood (Commelina benghalensis) is uniek in die opsig dat dit twee soorte saad produseer waarvan die temperatuurbehoefte vir ontkieming verskillend is.
Hierdie onkruid produseer saad beide bo- en ondergronds (Foto 1). Dit is ‘n voorbeeld van hoe onkruid ontwerp is om onder ‘n wye verskeidenheid van omgewingstoestande te oorleef – die saad van wandelende Jood sal nie almal eensklaps ontkiem nie, maar oor 'n uitgerekte periode te wyte aan die verskil tussen sade wat betref die temperatuurstimulus vir ontkieming.
Grondvog
Sade neem water op deur die saadhuid, deur middel van die proses van imbibisie. In baie gevalle is verwering (chemies, mikrobies, meganies) van die saadhuid nodig voordat imbibisie kan plaasvind; die verweringsproses kan by sommige soorte saad maande of selfs jare neem. In die periode voordat die saadhuid waterdeurlaatbaar raak, sal sade nie ontkiem nie al heers temperature wat optimaal is vir ontkieming.
Suurstof
Die ontluikende embrio benodig suurstof vir die aktivering van groei – suurstof is nodig vir respirasie waardeur saadgestoorde stysel en suikers omgeskakel word in verbindings en energie wat nodig is vir vroeë groei en ontwikkeling, dit wil sê vir saadontkieming en saailingopkoms. Al is voldoende suurstof beskikbaar, sal saad nie ontkiem alvorens voldoende water opgeneem is en die temperatuur optimaal is nie.
Sonlig
Sommige soorte saad het ‘n ligstimulus nodig vir ontkieming, soos byvoorbeeld kakiebos (Tagetes minuta), wat klaarblyklik beter ontkiem wanneer saad wat reeds in die saadbank is aan sonlig blootgestel word – blootstelling van ‘n fraksie van ‘n sekonde is skynbaar voldoende stimulus, soos wanneer grond deur grondbewerking aan lig blootgestel word.
Fisiologiese rypheid
In die geval van sekere onkruidsoorte kan al die omgewingsfaktore hierbo genoem in voldoende maat aanwesig wees, maar saad sal nie ontkiem nie.
In sulke gevalle is saaddormansie of saadrus te wyte aan ‘n onvolwasse embrio wat 'n sekere tyd nodig het om ten volle te ontwikkel. Byvoorbeeld, kankerroos (Xanthium strumarium) bevat twee sade in elke vrug, waarvan een kleiner as die ander een is – die groter saad kan in die seisoen waarin dit gevorm is, ontkiem, terwyl die kleiner saad eers vanaf die daaropvolgende seisoen sal ontkiem.
Remstowwe
Saad kan chemiese verbindings bevat wat inhiberend inwerk op ontkieming – met verloop van tyd word hierdie verbindings afgebreek en/of uitgeloog en eers dan sal die saad kan ontkiem, mits faktore soos temperatuur, water en suurstof in optimale maat aanwesig is.
Praktyke wat saadproduksie, -ontkieming en -dormansie beïnvloed
Vir redes hierbo bespreek is dit noodsaaklik om die getal onkruidsaad wat op ‘n land geproduseer word tot die minimum te beperk.
Die logieste, beste manier om dit reg te kry is om effektiewe onkruidbeheer toe te pas. Onkruiddoders is steeds en sal vir ‘n onbepaalde tyd die toekoms in, die mees effektiewe onkruidbeheermetode wees. Daar is egter sekere beperkings op die doeltreffendheid van onkruiddoders.
In die geval van voor-opkoms-toegediende onkruiddoders is dit 'n groot probleem wanneer onkruidsaad tot laat in die groei seisoen ontkiem en groei – byvoorbeeld, Digitaria sanguinalis (kruisvingergras) en D. nuda ontkiem en groei tot laat in die somer en teen daardie tyd is die werking van die beste voor-opkoms-toegediende grasdoders uitgeput.
Alhoewel daar nie altyd voor die hand liggende oplossings beskikbaar is nie, moet alles moontlik gedoen word om die saadproduksie van onkruid in ‘n bepaalde groeiseisoen te beperk en beter nog, te verhoed. Die ontwikkeling van onkruidweerstand teen onkruiddoders maak dit soveel meer dringend om saadproduksie te verhoed – in Australië word daar deesdae die drastiese praktyk van die verbranding van plantreste op die lande gevolg, in 'n poging om onkruidsaad te vernietig.
Verminderde en geenbewerking dra daartoe by dat onkruidsaad nie diep of glad nie in die grond ingewerk word nie. Diep plasing van saad in grond dra by tot verlengde dormansie en oorlewing, aangesien die saad op diepte beskerm is teen predatore en moontlik ook mikrobes en laer temperature met diepte is bevorderlik vir saadoorlewing.
Onkruidsaad op of naby die grondoppervlak is onderhewig aan verskeie faktore wat dit kan vernietig, byvoorbeeld onkruiddoders, vuur, hoë temperatuur, sonlig, predasie en mikrobes.
Konvensionele bewerking het die voordeel dat dit grassade diep in grond plaas vanwaar dit moeilik sal ontkiem en groei. Grassade ontkiem normaalweg die beste wanneer dit bo-op die grond of vlak in die grond geplaas is. Aan die ander kant kan hardskalige onkruidsaad van hoofsaaklik breëblaaronkruidsoorte se oorlewing lank uitgerek word wanneer die sade relatief diep in die grond ingewerk word, vanwaar dit later (selfs baie jare later) opgeploeg kan word om in vlakker grondsones te ontkiem.
Dit is goeie praktyk om onkruid toe te laat om op te kom en dan meganies en/of met onkruiddoders te beheer voordat die gewas gevestig word. Herhaling van die proses voor plant in ‘n bepaalde groeiseisoen, sal nog beter wees as eenmalige toepassing, maar beide opsies sal alleenlik moontlik wees indien reënval en planttyd dit toelaat.
Toediening van ‘n bepaalde onkruiddoder(s) op twee stadia in een groeiseisoen, soos beide voor- en na-opkoms, het die voordeel dat die tydperk van onkruidbeheer binne 'n groeiseisoen verleng word – dit is goeie praktyk om onkruide wat laat in die groeiseisoen steeds opkom, te beheer. ‘n Voorbeeld hiervan is die onkruiddoderproduk CANTRON (Reg. Nr. L8365; aktiewe bestanddeel: Mesotrioon) wat in mielies vir hierdie doel geregistreer is.
Ek reken dat die toenemende infestasie van somergewaslande met “John Deere”-bossie (Senecio consanquineus), ‘n laat-ontkiemende en herfs/winter-groeiende onkruid, baie te make het met verminderde gebruik (laer dosisse) van triasien-onkruiddoders (byvoorbeeld atrasien en terbutielasien) ter wille van gewasrotasie met triasiengevoelige gewasse (byvoorbeeld sojabone en sonneblom) in mielieproduksie.
Ander nadele verbonde aan onkruidsaadproduksie
Onkruid wat tydens die stroopproses in saad is, kan tot kontaminasie van gewassaad lei. Nie alleenlik kan die voorkoms van onkruidsaad in gewassaad tot afgradering en selfs weiering van graan by afsetpunte lei nie, maar dit is ook ‘n belangrike manier waarop onkruidsaad versprei kan word. Daar word byvoorbeeld in groot dele van Afrika gekyk na die voedselverspreidingsprogram van die Verenigde Nasies as die sondebok wat betref die vinnige en wye verspreiding van die uitheemse indringerplant Parthenium hysterophorus.
Die haastige insameling van graan, sonder streng kwaliteitskontrole tydens die produksie en oes daarvan, hou die risiko in dat gewassaad met onkruidsaad besmet kan wees.
Vir meer inligting, kontak dr Reinhardt by 083 442 3427 of dr.charlie.reinhardt@gmail.com.
Publication: October 2014
Section: On farm level