• Login
  • Search Icon

Jesus kom aarde toe om storms stil te maak

December 2014

Ek het een oggend baie vroeg weer wakker gelê oor al die komplekse probleme waarmee die produsente van die land gekonfronteer word. Die grondhervorming wat net nie wil rigting kry en sekerheid bring nie, die reën wat op daardie stadium nog nie geval het nie, die rassespanning in ons land wat nie oorkom word nie en allerlei ander spanning tussen oormoeë leiers wat soms haaks raak met mekaar. Ek het maar suutjies opgestaan en my inspirasie elders gaan soek.

Ek het verder in Matteus gelees waar ek die vorige dag opgehou het en by Matt 8:23 – 27 uitgekom en met my onrustige gemoed opnuut “Jesus maak die storm stil” gelees. Ek kon my so inleef in die angs van die dissipels. Hulle vrees oor die golwe van onsekerheid wat oor hulle skuit spoel – die enigste vaste “‘grond” wat hulle het. Selfs hulle kundigheid as gesoute vissermanne was nie genoeg om hierdie vrese weg te neem nie. Hulle het presies geweet waarheen hulle op pad was, die see en omstandighede goed geken, maar hul vleeslike oë kon nie ‘n uitweg sien nie.

Daardie oggend het ek vir Jesus gaan wakker maak en in geen onduidelike terme vir Hom van my storms vertel nie. Ek het nie soos die dissipels net ‘n “kort SMS” gestuur nie – ek het tyd gehad om die lang weergawe vir Hom te gee. Aan die einde het ek by Hom gepleit om “wakker” te word (Ps 121:4 – Hy sluimer of slaap nie) en om die storms te kom stilmaak. Getrou aan sy karakter, het Hy sommer daardie selfde dag ten minste twee van die storms wat ek met Hom gedeel het, uitgesorteer.

My boodskap aan julle hierdie Kersfees is om tyd te maak en die lang weergawe van die storms in jou lewe met Hom te deel. Hy is Immanuel, die God wat met ons is. Hy is daar in jou boot/op jou plaas en wag dat jy na Hom moet roep. Hy is God, die Voorsiener, die Verlosser, die Raadsman, Sterke God en Ewige Vader wat die storms in jou lewe wil kom stilmaak.

Dalk is jou storm die onsekerheid oor grondhervorming, dalk is dit ‘n slegte verhouding met iemand, iemand met wie jy swaarde gekruis het hierdie jaar met wie jy moet gaan regmaak. Nooi die Kind in die krip om hierdie Kersfees in jou lewe in te kom en te wees wie Hy is – Verlosser en Voorsiener.

Geseënde Kersfees!

Jannie en Retha de Villiers
Uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA

Publication: December 2014

Section: Grain SA

Search