October 2015
Beste Grootneef
Ou Neef, kan jou onthou hoe dit was om na ‘n ding uit tesien? Soos om ‘n naglyn in die vlei uit te sit vir ‘n vet baber. Daardie nag slaap jy min en voor eerste lig is jy op om te gaan kyk of daar nie ietsie aan die lyn is nie. Met die afstap van die beespaadjie vlei toe, kon jy van ver af sien of die dobbertjie nog op sy plek lê en of die lyn diepwater toe getrek is.
Nou kyk, so was dit ook met Jan Wilkens se groot stoeigeveg destyds. Waar jy ook al gekom het, by die Poskantoor of die bank, die koöperasie of die kerk, al die praatjies het begin met “Het jy gehoor, Jan Wilkens is op pad!” Dit was hierdie groot ding wat aan die gebeur was. Iets wat ‘n hele gemeenskap saamgesnoer het.
Dit het begin met skoolfondse wat net nie meer wou klop nie. Pannekoekverkope op Vrydae en die jaarlikse basaar het nie meer al die gate toegestop nie. Die skoolgetalle het begin afneem. Daar was selfs ‘n gesukkel om die rugbyspannetjies vol te kry. Sommige jongetjies moes twee wedstryde na mekaar speel – vir beide die onder 11’s en die onder 13’s. Kaalpote op ‘n yskoue rugbyveld – met die aansporing van ‘n skinkbord lemoene tydens rustyd!
Hoe dit ook al sy, die een aand het die hoof en skoolkomitee tot laat gesit en planne maak hoe om die boeke te laat klop. ‘n Skoolbus het ook net soveel genade in sy silinders...Dit is toe, in die uur van benoudheid, dat iemand die voorstel gemaak het om Jan Wilkens te laat kom.
Ou Neef, daardie tyd was Jan Wilkens naas die presidentswag en Wolraad Woltemade, die ikoon in die land. Die onoorwinlike wêreldkampioen, die volstruisskop-koning, die man wat nog geen stryd in die kryt verloor het nie. ‘n Legende wat klem-in-die-kaak kon uitdeel wanneer hy wou. Sterker as die hele Springbokspan en groter as die koöperasiestoor.
Die volgende oggend is die nuus deur die skoolhoof gebreek tydens ‘n spesiale “saalperiode”. Jan Wilkens was op pad. Dit het ‘n veldbrand van bespiegeling losgelaat – beter as enige bostelegraaf. Dit was asof daar sommer helder oordag ‘n permanente naglyn in die water gegooi is. ‘n Koors van afwagting het die hele skool beetgepak.
In die maand of twee voor die groot geveg, het die droom gestalte aangeneem met die ooms wat help bou het aan paviljoene. Sulke staal-stellasies met planke op. Een paviljoen elk vir die oos, die wes, die noord en die suid. Die grootste beroering was toe die kryt uiteindelik staangemaak is, met sulke seilkussings in die hoeke en ‘n plank vloer. Die toue rondom die kryt sou later gespan word. Ou Neef, ek kan nie onthou of daar ‘n fakkelloop of ‘n lenteloop was nie – maar almal was daar. Jy kan maar sê, dit was ná Republiek - wording die grootste oomblik wat die dorpie nog beleef het. Booker, die spietkop, het later opgegee en eenkant onder ‘n boom parkeer om alles van ‘n veilige afstand af te beskou.
Die susters van die gemeente het alles wat gebak kon word, verkoop. Die broers het sosaties gebraai. Die sitplekke was lankal uitverkoop, maar staanplek was daar nog volop. Dit was immers die Vrystaat met vlaktes alkant toe. Die dorp was vodde van opwinding en reg vir aksie.
En toe die son mooi gesak het, het die hoof die skoolklok gelui. Dit kon nie bedoel wees as stilte vir die afsetter nie, want toe Jan Wilkens die paadjie afstap op pad kryt toe, het daar pandemonium losgebars. Onder die gemeente se susters ook. Jan Wilkens het ‘n kleinerige broekie en baie borshare aangehad. Oor sy skouer het ‘n breë belt gehang met sulke koperplate op, van al die manne wie se nersderms hy al uitgedruk het. Ek kan nie mooi onthou teen wie Jan Wilkens die aand gestoei het nie. Ek kan net onthou dat toe Jan Wilkens die arme drommel met ‘n volstruisskop teen die bors tref, die ou op die krytvloer geval het dat die planke so dril.
Ek weet ook nie of die twee mekaar later met opset begin misskop het nie, maar ‘n mis was so goed soos ‘n raak. Die resultaat was dat daar skouspelagtig agtertoe gesteier is, met sulke roeibewegings in die lug net om te wys hoe woes dit is! Jan Wilkens het egter sy opponent meedoënloos gevolg en toe die ou soos ‘n sak patats op die krytvloer val, hom met 'n kopklem omsingel. Twee valle teen een, Jan Wilkens was vernietigend.
Ou Neef, vanaand sit ek sommer so en dink terwyl die son in die weste sak. Jy kort eintlik twee dinge om iets te laat gebeur. ‘n Droom en ‘n gemeenskap wat bereid is om hande te vat. Dan is enigiets moontlik. Jy kan selfs vir Jan Wilkens laat kom.
Ou Neef, ons kort nou ‘n skoolkomitee met ‘n droom. Hier is baie goed in ons ou landjie om reg te maak. Van randsake tot grondsake kort nuwe planne. Weet iemand waar Jan Wilkens is?
Groete op die Oosgrens!
Kleinneef
Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.
Publication: October 2015
Section: Features