• Login
  • Search Icon

Is produsentepryse laag genoeg om by te dra tot effektiewe hongerverligting?

December 2010

Dr Kobus Laubscher, Hoofbestuurder

Die huidige vlakke van stapelvoedsel op produsentevlak lewer bepaald ‘n betekenisvolle bydrae tot voedselinflasie se laagste vlakke in ‘n lang tyd. Die vraag is of dit honger verlig op ‘n voldoende basis?

Lae rentekoerse is veronderstel om ekonomiese groei aan die gang te kry deur verbruiksbesteding te stimuleer sonder om die vraag na ongesonde krediet te bevorder. Ontleders van die prestasie van ons ekonomie is dit egter eens dat die ekonomie nie beweeg om werk te skep en munt te slaan uit huidige gunstiger omstandighede nie. Trouens, van die jongste uitsprake maak ‘n sterk saak uit dat Suid-Afrika eintlik baie gelukkig is om lae rente en lae inflasie gelyktydig te ervaar.

Die tragedie is egter dat daar steeds ‘n beduidende deel van ons bevolking is wat voedselonseker is. Daar is selfs aanduidings dat huishoudelike voedselonsekerheid toeneem. Daarteenoor is die ander werklikheid dat, wat stapelvoedsel soos mielies aanbetref, ‘n surplus produsente in ‘n finansiële noute is, wat die toekoms van mielieproduksie onder druk plaas. ‘n Surplus aan stapel en ‘n surplus honger by ‘n geskatte 14 miljoen Suid-Afrikaners wat voedselonseker is, dui op ‘n paradoks. Inmiddels verloor die ekonomie werksgeleenthede en die verwagting is daarom dat meer en meer Suid-Afrikaners in hierdie kategorie kan val.

In die Augustus 2010 “Food Price Monitor” van die Nasionale Bemarkingsraad (NBR) kom interessante feite na vore oor die koste van ‘n pakkie van die vyf noodsaaklikste kositems wat tipies van die armste verbruikers is.

Só ‘n pakkie/bord kos bestaan uit 22 g wit suiker, 2,5 g tee, 56 g volroom melk, 150 g bruin brood en 532 g mieliepap. Vanaf Julie 2009 tot Julie 2010 het die koste hiervan met ongeveer 2,3% afgeneem tot R3,01 per dag. Van belang is die proporsionele veranderings in die samestelling en die bydrae van mielies tot die geringe daling.

Hiervoor is die volgende ook van belang. ‘n 5 kg sak spesiale mieliemeel het in Julie 2009 R16,91 gekos en ‘n jaar later, in Julie 2010, kos dieselfde verpakking 5,91% minder teen R15,91. ‘n Sak 5 kg super mieliemeel se prys het oor dieselfde tydperk met 10,4% gedaal tot R20,98. In beide gevalle is hierdie tendens gunstig uit ‘n bekostigbaarheidsoogpunt, maar wat kommer wek, is dat die tempo van afname in die verbruikersprys van hierdie verpakking verlangsaam het.

Van April 2009 tot Julie 2010 was die gemiddelde daling in mieliemeelpryse (gemeet aan die 5 kg verpakking) 9,08%, maar van Julie 2009 tot Julie 2010 net 8,16%. Daarteenoor het die produsenteprys van witmielies met 18% gedaal. Die skamele 8,9% daling in die koste van die mieliepapaandeel in die koste van R3,01 is nie goed genoeg teen die agtergrond van die enorme daling in produsentepryse nie. Die werklikheid van hierdie disproporsionele prysveranderings moet duidelik verstaan word. ‘n Toenemende aantal mense gaan honger slaap, want hulle kan nie eers die minimum bekostig nie. Daarteenoor moet produsente besluit oor die omvang van mielieproduksie, want lae en dalende pryse op plaasvlak is ‘n aanduiding dat die aanbod moet verminder.

‘n Oproep om meer te produseer om pryse te verlaag, geld nie vir produsente nie. Vir hulle kan pryse nie nog laer nie, want dit is reeds goedkoper om te koop as om te produseer. Andersyds kwel dit dat te midde van lae plaaspryse, ‘n beduidende aantal verbruikers die trauma van hongersnood in die gesig staar, sonder die vooruitsig om selfs ‘n ba siese stapel, soos mieliemeel, te kan bekostig.

Dit is net nie meer goed genoeg om te hoor dat mielieprodusente bydra tot verlaagde inflasie nie en die waardering daarvoor alleen gaan nie vergoed vir die negatiewe ruilvoet waarmee hulle moet werk nie. Wat nodig is, is dat die goedkoop kos wat die plaashek verlaat, goedkoper by die verbruiker moet uitkom. Groter effektiewe vraag en gepaardgaande toenemende verbruik, is die enigste volhoubare oplossing om die mark in balans te kry.

Publication: December 2010

Section: Editorial

Search