• Login
  • Search Icon

Is lae pryse die kuur vir lae pryse?

May 2010

Dr Kobus Laubscher, Hoofbestuurder/CEO

Pryse is seine en indien ‘n ekonomie behoorlik en mededingend werk, rig pryse besluitneming in verband met verbruik en produksie. Lae en dalende pryse moedig verbruik aan en die omgekeerde is natuurlik ook waar. Enige reaksie op prysveranderings is ‘n funksie van onder meer die tyd betrokke. Hoe langer tyd die ver bruiker en/of die produsent beskikbaar het om besluite te rig op grond van prysveranderings, hoe meer veranderlik word besluitneming en reaksie op prysveranderings.

Die mark is in ewewig wanneer die vraag gelyk is aan die aanbod en die mark “skoongemaak” word (“market clearing price”). Die mark se ewewig word egter versteur as pryse daal weens byvoorbeeld ‘n dalende vraag en toename in aanbod, of ‘n kombinasie van veranderinge in die vraag en aanbod. Die ekonomie van vraag en aanbod bepaal dat lae pryse die beste kuur vir lae pryse is. In sy eenvoudigste terme, moedig lae en dalende pryse verbruik aan, terwyl dit terselfdertyd produksie ontmoedig en sodoende word ‘n ooraanbod (wat pryse laat daal het) verminder (deur verhoogde verbruik), want minder word geproduseer teen lae en dalende pryse. ‘n Groot aantal ander faktore rig egter ook hierdie dinamiek.

Dalende produsentepryse het insgelyks ‘n interessante verloop. Produsente brei produksie uit as pryse styg met redelike verwagtings dat pryse op hoë vlakke kan stabiliseer. In die geval van landbou behels dit die mobilisering van produksiefaktore waarvan die mobiliteit afhang van onder meer die tyd betrokke by besluitneming. Verder het landbou die geneigdheid om in so ‘n verbintenis tot hoër produksie, te oorreageer. Enersyds is die reaksie van die verbonde hulpbronne onvoorspelbaar (want niemand kan werklik korrek die oesopbrengs voorspel nie), andersyds is verbruikersreaksie op laer pryse oor die algemeen ewe onvoorspelbaar maar gewoonlik van korter positiewe duur. Wanneer die mark dus pryse afdruk, reageer produsente stadiger en kan produsentepryse langer onder druk bly.

Laer produsentepryse word ook gewoonlik traag deurgegee aan die verbruiker. Uiteindelik reageer produsente en word produksie verminder, waarna pryse kan toeneem mits die reaksie aan die vraagkant dié besluitneming komplementeer. Die realiteit is egter dat dié aanpassings stadig is met betekenisvolle negatiewe impak op veral die produksievermoë, want produksie-aanmoedigende pryse moet met stygings weer die produsente oortuig van volhoubaarheid om weer vertroue te herstel.

Vanweë die tipiese onelastiese aard van besluitneming, kan die mark nie in alle gevalle remediërend optree nie en dit is nodig om by geleent heid in te gryp. Die huidige ooraanbod-situasie met gevolglike lae pryse in die mieliebedryf is ‘n uitstekende voorbeeld. Indien pryse toegelaat word om op huidige lae vlakke te bly, sal dit met verloop van tyd lei tot verminderde produksie, maar wat gepaard kan gaan met betekenisvolle disinvestering en gevolglike herstrukturering. Die aangewese is om deur onderlinge ooreenkoms surplusverwydering te fasiliteer ten einde die aanboddruk op pryse te verminder. Normale vraag-en-aanbod-verandering sal nie in staat wees om regstellings te maak sonder blywende ekonomiese letsels nie. Die voorgestelde uitvoerpoel vir ‘n deel van die huidige mielieaanbod verteenwoordig die begin van ‘n strategiese padkaart wat die graanbedryf moet herstruktureer ter wille van volhoubare voedselproduksie oor die lang termyn.

Vir hierdie doel moet die mark verlos word van ‘n deel van die aanbod deur dit eksklusief vir uitvoere te isoleer. Twee skeibare markte sal prysdiskriminasie toelaat en binnelandse pryse hopelik herstel tot vlakke wat vertroue kan hervestig.

Publication: May 2010

Section: Editorial

Search