March 2012
PETRU FOURIE, EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA EN CORNÉ LOUW, SENIOR EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA
Huidige- en voorseisoenkontrakpryse vir koring het verswak sedert verlede jaar dieselfde tyd. Hierdie daling tesame met stygende insetkostes, het meegebring dat die winsgewendheid van koringproduksie onder druk is. In hierdie artikel word die koring/inset ruilvoet en die begrote winsgewendheid vir die 2012/2013-produksieseisoen onder die loep geneem.
Koring/ureum ruilvoet
Grafiek 1 dui aan hoeveel koring benodig is om 1 ton ureum aan te koop vir die tydperk vanaf 1990 tot 2012. Vir die 2012/2013-seisoen (komende seisoen) is die Safex Desember 2012 (R2 858) koringkontrak gebruik om ‘n produsenteprys te bereken.
Uit die grafiek is dit duidelik (sien tendenslyn) dat die ruilvoet dramaties verswak het sedert 1990. Dit is duidelik dat die koring/ureum ruilvoet sedert die 2008/2009-seisoen verbeter het, maar dat die verwagte ruilvoet vir die komende seisoen swakker as die vorige drie jaar is en dat ‘n ruilvoet van 2,5 ton koring tans benodig word vir 1 ton ureum.
Koring/diesel ruilvoet
Grafiek 2 dui aan hoeveel koring benodig word om 1 000 liter diesel aan te koop. Uit die grafiek (tendenslyn) kan gesien word dat die koring/diesel ruilvoet sedert 1990 dramaties verswak het. Die langtermyn gemiddelde ruilvoet is 2,7 ton koring vir 1 000 liter diesel, terwyl die verwagte ruilvoet vir die komende seisoen 4 ton is. Dié ruilvoet het baie verswak sedert vyf jaar gelede (2007/2008-produksieseisoen) toe die ruilvoet 1,9 ton koring vir ‘n 1 000 liter diesel beloop het.
Koring/trekker ruilvoet
Grafiek 3 toon aan hoeveel koring benodig word om ‘n trekker van tussen 70 kW en 80 kW aan te koop. Die gemiddelde koring/trekker ruilvoet sedert 1990 is 199 ton koring, terwyl die verwagte ruilvoet vir die komende seisoen naastenby dieselfde tonnemaat beloop.
Hoe raak dit die winsgewendheid van koringproduksie?
Om die effek van die insetprysstygings en veranderings in graanpryse aan te toon, is die Graan SA beplanningsmodel gebruik. In hierdie modelle is die algemene praktyke, gemiddelde hoeveelhede en pryse soos op plaasvlak verdiskonteer.
Tydens die opstel van hierdie begrotings is verwagte pryse gebruik en kan baie verandering dus nog plaasvind. Deur verlede jaar se insetpryse aan te pas na huidige pryse, kan die effek van prysstygings bereken word. Die westelike Rûens is gebruik om die berekeninge op te baseer.
In Tabel 1 word die effekte van die jaar-op-jaar prysstygings vir koring aangetoon. Hier word die begroting soos opgestel vir die 2011/2012- en 2012/2013-produksieseisoen vergelyk om die verskille aan te dui.
Soos in Tabel 1 aangetoon word, moet produsente versigtig wees voor nuwe oeste aangeplant word. Die direk toedeelbare veranderlike koste sedert die 2011/2012-produksieseisoen tot en met die 2012/2013-produksieseisoen, het met ‘n gemiddeld van 11% gestyg.
Dit is veral kunsmis en diesel wat sedert verlede jaar gestyg het. Die totale koringkostes per hektaar het met tussen 13,8% en 14,5% gestyg met die oorhoofse koste wat ook ‘n groot bydrae lewer. Produsente moet aanhou poog om meer effektief te wees en insette optimaal aan te wend.
Om op te som
Gegewe huidige insetpryse en huidige voorseisoenkontrakte, sal produsente goeie beplanning moet doen. Teen die koers wat produkpryse gedaal het tesame met die styging van insetpryse, moet produsente hulle somme goed maak voor aanplanting begin.
Produsente moet ook seker maak dat die “regte prys” vir ‘n inset betaal word. Maak seker dat die beste moontlike prys vir ‘n inset, gegewe die kwaliteit, betaal word. Moenie die eerste, beste prys net so aanvaar nie. Kontak Graan SA gerus by 08600 47246 vir die jongste insetpryse en produksiekosteberekeninge.
Publication: March 2012
Section: Input Overview