• Login
  • Search Icon

Is daar Gibberella-vrot in jou land?

September 2015

ANEEN SCHOEMAN en SONIA-MARI GREYLING, LRN-Instituut vir Graangewasse

Is daar Gibberella-vrot in jou land?Wortel-, kroon-, stam- en/of kopvrot by mielies is belangrik aangesien dit lei tot finansiële verliese vir produsente. Kopvrotte affekteer die graankwaliteit wat lei tot laer gradering van pitte asook opbrengsverliese as gevolg van laer pitgewig.

Wortel-, kroon- en stamvrotte kan lei tot oesverliese deur plante wat in die veld omval. Alhoewel hierdie vrot deur ‘n verskeidenheid swamme veroorsaak word, is een van die bekendste en skadelikste swamme, lede van die Fusarium graminearumspesieskompleks. Dit staan bekend as ‘n kompleks omdat daar nie net een swam is wat die siektes veroorsaak nie, maar ‘n groep van 16.

Alhoewel die swamme in die Fusarium graminearum-spesieskompleks baie dieselfde is, verskil die lede wel in virulensie (graad van siektevorming) asook plantweefselspesifisiteit (met ander woorde party swamme verkies om of die wortels en stamme te infekteer en ander die koppe). In Suid-Afrika is drie lede van die kompleks geïdentifiseer wat as patogene optree, naamlik Fusarium graminearum s.s., Fusarium meridionale en Fusarium boothii. Die mieliekoppe word hoofsaaklik geïnfekteer deur F. boothii en F. graminearum s.s.

Die lede in die Fusarium graminearumspesieskompleks produseer ook skadelike stowwe wat bekend staan as mikotoksiene. Mikotoksiene, soos deoxynivalenol (DON), nivalenol (NIV) asook zearalenone (ZEA) word geproduseer. Hierdie toksiene is skadelik vir mense en diere. Deoxynivalenol en nivalenol kan die produksie van proteïene beïnvloed en dus kan bloedarmoede, braking, diarree en skade aan die lewer, van die simptome wees wat ontwikkel as gekontamineerde mielies met hoë toksienvlakke gereeld ingeneem word. Zearalenone kan weer diere se reproduksieorgane aantas.

As gevolg van die spesieskompleks se belangrikheid, word dit deur die plantpatoloë intensief bestudeer. Verskeie studies oor besmettingspatrone, moontlike beheermaatreëls en verskillende kultivarreaksies teenoor die siekte word ondersoek.

Lewensiklus van Fusarium graminearum-spesieskompleks

‘n Groot bron van Fusarium graminearumspesieskompleks se inokulum is gewoonlik die vorige jaar se plantresidue, soos mieliestoppels. Spore vorm op die plantreste in die veld en kan dan deur spattende water van besproeiing of reën, wind en insekte na die plant oorgedra word.

Infeksie van mieliekoppe vind gewoonlik 21 dae ná baardvorming plaas. Infeksie met Fusarium graminearum-spesieskompleks is die algemeenste gedurende koel en nat weerstoestande. Geen plantdeel is veilig nie omdat die spore enige opening kan gebruik om die plant binne te gaan. Die patogeen vestig dan in die plant en in die meeste gevalle kom die simptome spoedig na vore.

Simptome op mielies

Die vrotte wat deur die Fusarium graminearum-spesieskompleks veroorsaak word, staan gewoonlik as Gibberella vrot bekend. Gibberella kopvrot begin gewoonlik óf by die basis van die kop óf by die punt en versprei dan na die middel van die kop.

Die miseliumgroei is ‘n kenmerkende donker rooi/pienk kleur. Gibberella stam vrot kan geken word aan die stam wat buite geel verkleur en die pienkrooi-verkleuring van die vaskulêre weefsel binne-in die stam. Die Fusarium graminearum-spesieskompleks laat die vaskulêre weefsel afbreek en wegtrek van die buitenste stamgedeelte van die plant. Dit veroorsaak dat die stamme leë buise word. Hierdie leë buise kan dan nie die bogrondse plant meer ondersteun nie en veroorsaak dat die stam knak en die mielies omval op die land. Gibberella wortelvrot wissel in simptome van baie ligte bruin tot ‘n swart verkleuring wat ná ‘n tydperk rooi of pienk verkleur. In erge gevalle kan die hele wortelsisteem verrot.

Beheermaatreëls

Daar is by mielies ‘n sterk verband tussen die risiko van besmetting met Fusarium graminearum-spesieskompleks en gewasrotasie en bewerkingsmetodes. Mielies in monokultuur of dié wat verbou word met koring in rotasie, is in die grootste gevaar omdat die Fusarium graminearumspesieskompleks beide as gashere beskou. Daar is dus heeltyd ‘n gasheer vir die kompleks beskikbaar en inokulum kan sodoende opbou. Indien moontlik kan wisselbou met gewasse soos kanola, lusern en ertjies oorweeg word.

Verminderde bewerkingspraktyke, soos by bewaringsboerdery, verhoog die moontlikheid van primêre inokulum in die veld deur oesreste wat nie ingeploeg word nie. Hierdie is ‘n tameletjie, want bewaringsboerdery is noodsaaklik om grondvrugbaarheid te behou asook om grondverliese te beperk.

As bewaringsboerdery toegepas word, is wisselbou ‘n belangrike beheermaatreël wat oorweeg moet word. Enige maatreël wat plantstresvlakke kan verlaag en infeksie verminder, kan toegepas word, soos om voedingstekorte te voorkom met kunsmisbehandeling en om plantdigthede laag te hou.

Ongelukkig is daar nie weerstandbiedende kultivars beskikbaar nie, net kultivars wat tolerant is. Swamdoders is verder nie effektief om die siekte wat deur die Fusarium graminearum-spesieskompleks veroorsaak word, te beheer nie.

Produsente het al biofumigation toegepas – waar hulle mosterdplante in die land ingeploeg het om die spore dood te maak. In die toekoms hoop ons om die kompleks te beheer deur middel van óf weerstandbiedende kultivars óf biologiese beheerstelsels. Om egter hierdie sisteme in plek te kry, moet die kompleks eers verstaan word.

imageWees dus bewus daarvan dat die siekte mag voorkom in die land. Produsente moet gereeld hul lande inspekteer en as enige simptome ontwikkel, die plante so spoedig moontlik stuur na die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) in Potchefstroom vir die korrekte identifisering van die moontlike patogeen.

Die plantpatoloë by die LNR-IGG kan ook geskakel word vir enige advies by 018 299 6100.

Publication: September 2015

Section: Focus on

Search