November 2014
CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA
Tussen Graan SA, die saadbedryf en ander belanghebbendes (onder meer die verskeie forums) is ‘n komitee in die lewe geroep om na verskillende modelle te kyk vir hoe saadmaatskappye vergoed kan word vir die negatiewe impak wat die terughouding van saad op die bedryf het.
Volgens SANSOR word 70% van koringsaad en 80% van sojaboonsaad jaarliks teruggehou. Hierdie praktyk en die feit dat dit wetlik gedoen mag word, verhoed investering in die plaaslike saadbedryf en hou die nuutste tegnologie buite die bereik van Suid-Afrikaanse produsente.
So byvoorbeeld het Monsanto reeds ‘n geruime tyd ‘n Roundup Ready 2-geen (die sogenaamde Roundup Ready 2 Yield) sowel as Dicamba verdraagsame sojabone op internasionale markte beskikbaar gestel. Monsanto wil nie hierdie tegnologie vir Suid-Afrika beskikbaar maak alvorens daar nie sisteme in plek is om hulle investering te kan terugkry nie (met die tempo van saadterughouding is dit tans nie moontlik nie).
Dit plaas plaaslike produsente op ‘n ongelyke speelveld in vergelyking met produsente waar dié tegnologieë wel beskikbaar is.
Wat die saak vererger, is dat feitlik alle internasionale teelprogramme (waar meeste van ons variëteite vandaan kom) gebruik maak van die Roundup Ready 2-geen. Dit beteken dat Suid-Afrika binnekort selfs nie tot nuwe teelmateriaal gaan toegang hê nie.
Almal (produsente en saadmaatskappye) in die bedryf is dit eens: ‘n Werkbare wedersydse oplossing is nodig om saadmaatskappye te vergoed vir hulle investering wat hul verloor as gevolg van die terghouding van saad. Graan SA se voorwaarde is egter dat dit nie saadpryse weer te duur maak nie – anders sit ons weer met dieselfde bose kringloop – duur saad lei tot groter saadterughoudings.
Die model wat tans op die tafel is en moontlik die beste in Suid-Afrika gaan werk, is gebaseer op dieselfde beginsels as die manier waarmee die Wintergraantrust tans fondse vir navorsing insamel. Die navorsingsheffing word ingesamel onder die Landbou Bemarkingswet wat ressorteer by die Nasionale Landbou Bemarkingsraad.
Só ‘n stelsel se voordeel is dat almal betaal omdat dit ‘n statutêre maatreël is en dat die fondse slegs vir saadterughoudings gehou kan word. Die uitdaging van só ‘n stelsel is egter die identifikasie van kultivars en tegnologieë tydens lewering waar die heffing gehef moet word. Daar moet seker gemaak word dat die stelsel die maatskappye vergoed wat die beste en mees gebruikte kultivars op die mark het.
Verder word voorgestel dat die waarde van hierdie tantieme bereken moet word as 'n persentasie van die betrokke graanprys om te verhoed dat hierdie heffing te duur raak relatief tot die winsgewendheid van die gewas.
Die konsepte van ‘n tantieme-model word tans ook ondersteun in die nuwe Planttelersregte Wetsontwerp.
Baie water moet nog in die see loop en baie uitdagings oorkom word, maar almal in die bedryf van oopbestuifde gewasse is dit eens – daar moet vinnig na ‘n werkbare stelsel beweeg word om investering in die saadbedryf aan te moedig.
Publication: November 2014
Section: On farm level